Ek volg met kommer al die ouers, onderwysers en selfs departement wat maniere vind om skool werk met kinders tuis te doen.
Die eerste ding van dit wat ek glad nie verstaan nie is dat die skool kalender reeds aangepas is. Vakansies later die jaar is korter gemaak en kinders sal dus nie ‘n dag skool mis nie. Nou met die verlengde “Lockdown” tyd mag dit dalk begin lol. Maar feit is dat kinders nou die beste van die vakansie moet maak, want later in die jaar gaan dit knetter.
Maar dis nie die groot probleem wat ek het met almal se geskarrel, en elke 2de Jan Rap en sy maat wat aan ouers iets wil verkoop om tuis te leer, nie. Dalk is dit ‘n tuisskool ding. Die meerderheid tuisskool ouers glo dat kinders se emosionele en fisiese welstand belangriker is as hul akademie. Dit is nie omdat akademie nie vir ons belangrik is nie. Dit is bloot dat ons weet dat ‘n kind nie akademies kan vorder as hy/sy nie emosioneel of fisies goed versorg is nie!
Daar is tonne navorsing wat wys dat kinders nie onder stresvolle omstandighede kan leer nie. Veral langtermyn geheue en probleem oplossing bly woes in die slag. Dit is immers een van ons land se grootste uitdagings. Daar is teveel kinders wat bekommerd is oor wat hul more (of selfs vandag) gaan eet. Of hulle of hul gesinslede veilig is. Hulle kan nie onder sulke omstandighede optimaal ontwikkel nie.
Ongelukkig skep ons meer en meer ‘n omgewing waar die gemiddelde kind heeltemal teveel druk ervaar. Druk as gevolg van assessering, druk van te veel aktiwiteite en ouers met onrealistiese verwagtinge. Maar dis ‘n onderwerp heel op sy eie daardie.
Die feit bly dat kinders met die hele COVID-19 drama en die “lockdown” wat nou gevolg het onseker voel. Op die minste is hul wêreld op sy kop gekeer. En baie ervaar meer spanning as wat mens dalk besef. Dit is onvermydelik in ‘n samelewing wat paniekerig is. Al waaroor almal praat is die pandemie. Hulle hoor ons gesprekke, ons eie onsekerhede. Vir baie gesinne is hierdie ‘n finansiële uitdagende tyd. Al hou jy dit weg van jou kinders gaan hul jou emosies optel. En hoeveel ouers loop nie met vrese en onsekerheid oor die toekoms rond nie?
As ons werklik in ons kinders se beste belang wil optree is dit belangrik om eerder nou te fokus op hul emosionele welsyn. Hulle het nou liefde en aandag nodig. Om op die bank saam met jou op te krul en te luister na ‘n storie. Om saam met jou dinge te doen, hoe eenvoudig ook al! Of dit is om saam kos te maak, of soggens rekke-en-strekke te doen (om al die ingehoktheid tee te werk), of sommer net om saam ‘n bordspel te speel of grappe te maak.
Hoe ons hierdie tyd hanteer gaan bepaal of dit ‘n tyd van trauma en stres vir ons kinders gaan wees en of dit ‘n tyd gaan word waaraan hul terug dink met ‘n warm hart. ‘n Tyd waarin hul herinnering saam met jou geskep het.
Dit beteken nie dat hulle nie tussenin ook kan leer nie. Daar is immers baie om te leer deur bloot ‘n storie saam te lees. Maar selfs as hulle verveeld voel en kies om skoolwerk te doen om die tyd om te kry, bly dit belangrik om die akademie bietjie af te skuif op die prioriteit lys.
Een van die goeie dinge wat uit die tyd van afsondering kom is dat gesinne tyd saam kan spandeer. Wel tenminste die wat nie steeds kritiese dienste lewer nie. (Ek wonder steeds wat die werkends met hulle kinders in die tyd moet doen.)
En as jy nog wonder wat julle als kan doen om die lang dae korter te maak, gaan loer gerus na die lysie van 15 dinge om te doen tydens ‘n vakansie tuis wat ek ‘n klompie jaar terug gemaak het. Die uitstappies is dalk nou na die maan, maar baie van die res kan julle steeds doen.
Daar’s ‘n paar nuwe idees wat ek by die lysie kan voeg:
– Sit en blaai saam met jou kind deur hul baba album en vertel hul meer oor hul geboorte en die dae toe hul kleiner was
– Gaan luister elke dag na ‘n nuwe storie op Luistervink Stories.
– Sluit op Telegram aan by Edusense se Joernaalgroep by
https://t.me/joinchat/AAAAAFSrxxLq5M7K9olYWg aan en leer van diere en maak saam skootboeke.
Elke woord wat jy hier skryf is waar en waardevol.