Posts Tagged With: tuisonderrig

Span Somme(r) Pret so in

Met my wiskunde bondel van 34 produkte wat ingesluit is in Oolfant se Januarie promosie het ek dit goed gedink om bietjie inligting te gee oor hoe om die beste die bondel te benut. Die bondel is ook op sy eie te koop, of koop ‘n meer spesifieke bondel vir ‘n graad of fase.

Promosie geldig tot 31 Januarie 2022

Dit maak nie saak wat jou benadering is of watter wiskunde program julle volg nie die produkte kan help om die pret weer terug in wiskunde te sit.

As jy ‘n bestaande wiskunde program gebruik kan die Somme(r) Pret produkte aanvullend wees of gebruik word om sekere leerareas te vervang om die vervelige herhaling uit te haal.

Vir die dapperes wat self beplan en dinge doen, kan die produkte vir die grondslagfase (graad R-3) net so gebruik word. Daar is hope werksblaaie en speletjies in wat ‘n lekkerder manier is om die konsepte in te oefen. Om dit in daardie geval in ‘n volledige wiskunde kurrikulum te omskep het jy nodig om ook prakties en konkreet met jou kind wiskunde te doen. Ontdek saam waar julle elke dag wiskunde gebruik soos tydens inkopies, bak en brou in die kombuis of bloot lekkergoed tussen ‘n groep te verdeel. Daar is baie geleentheid om dinge te tel, in groepe te tel of verdeel.

Vir graad 4 tot 7 is daar vir elke graad ‘n lekker pret-pak en verder hoofsaaklik speletjies om konsepte te oefen en ‘n opsomming van die belangrike begrippe vir die fase. Graad 4 tot 7 Wiskunde in ‘n Neutedop het al die konsepte en woordeskat wat jou kind moet baasraak voor hul hoërskool wiskunde aandurf. Alles lekker kompak in ‘n opsommende formaat. Dit is moontlik om op ‘n meer informele manier te werk en steeds dit alles te dek.

Baie van die werk in graad 4 tot 7 is herhaling om kinders te help om vlot en gemaklik basiese berekening vir optel, aftrek, maal en deel te kan ontwikkel. Werksvelle is nie die enigste manier om dit te vermag nie. Die Somme(r) Pret speletjies is ‘n lekker manier waarmee julle dieselfde kan bereik.

En natuurlik is praktiese organiese leer altyd bobaas, soek dus geleentheid om die kennis in te span. Die heel belangrikste is egter dat kinders die basiese begrippe verstaan. Om te verstaan wat maal is en nie net die maaltafels bloot te memoriseer nie. Dit is die konsepte wat hulle in die hoërskool gaan toepas en blote memorisering gaan hulle niks baat nie. Span Graad 4 tot 7 Wiskunde in ‘n Neutedop in om hulle te help om die woordeskat wat daarmee saam gaan te verstaan. Baie konsepte soos bv faktorisering is net ‘n uitbreiding van maal en deel.

Meeste mense verkies egter die veiligheidsnet van ‘n kurrikulum gebaseerde werksboek of produk as dit kom by wiskunde. Die goeie nuus is dat ek hopelik nog in die maand ‘n meer organiese grondslagfase program vrystel. Die bogenoemde produkte vir graad O tot 3 is ingesluit in die program saam met hope ekstra speletjies en aktiwiteite. As jy reeds van my graad O tot 3 produkte gekoop het, sal jy afslag kry op die program.

Vir graad 4 tot 7 is daar ‘n verskeidenheid wiskunde werkboeke op die mark wat ingespan kan word saam met die wiskunde bondel. Vir my eie kinders het ons aanvullend Kitsreken gebruik (hier teen graad 6 en 7). Dit was ‘n maklike manier om probleem areas te identifiseer en dan die speletjies en pretpakke in te span om meer aandag aan daardie area(s) te gee.

Maak nie saak wat ouers in span nie, hulle kan steeds die Somme(r) Pret speletjies en werksvelle gebruik om die vervelige herhaling te vervang en wiskunde prettig te maak. Dit is ook ideaal om in te span na ‘n lang vakansie om net weer die spinnerakke af te stof en ou konsepte te verfris.

Moet ook nie die ander heerlike produkte in Oolfant se Januarie promosie misloop nie!

Categories: Tuisonderrig, Uncategorized, wiskunde | Sleutelwoorde: , , , | Lewer kommentaar

Hoogtepunte van 2021

Hierdie jaar kry julle weer net ‘n blitsige kykie na ons jaar wat verby is.

Ons het weer die oujaar afgesluit met ‘n heerlike gesins-spele en oujaarsaand pret.
Die kinders was so bly dat hulle weer atletiek kon doen.
Veral my jongste het Edusense se Adventures of Bob White boekklub geniet.
Daar was weer lockdown oefen by die huis.
Ons jongste was in die sewende hemel dat sy ook nou kon gimnastiek kompetisies doen.
Grootsus het ‘n goeie kompetisie seisoen gehad. Sy’t eerste in die Weskaap gekom vir Artistiese gimnastiek en tweede vir tuimel. En by die SA’s met ‘n 2de plek vir balk en 5de algeheel weg gestap vir Artisties en 6de vir die Tuimel.
Ons oudste het net so ‘n goeie seisoen gehad. Hy was ook eerste in die Weskaap vir Artistiese gimnastiek. En by SA’s het hy 3de vir mansbrug en 4de algeheel geëindig.
Saam met die SA’s kon ons ‘n heerlike kort vakansie op die plaas inwerk en by familie kuier wat ons baie jare laas gesien het.
Die kinders het weer aan SACSSA se virtuele landloop deelgeneem.
Hulle het aan ‘n hele klomp olimpiades deelgeneem en so goed gedoen. In die World Maths Day het ons oudste eerste in SA gekom vir graad 8. Hy’t ook 2de vir graad 9 en 3de vir graad 8 gekom in die Living Maths Olimpiade. Middel sus het deur gedring na beide Wits en SAMC se wiskunde olimpiades en heel dapper SAMC gaan skryf tussen 150 ander graad 4-7’s. Haar eerste belewenis van ‘n skool. En kleinsus was diep trots op haar eerste plek in die Living Maths Olimpiade. Hulle het al 3 ook pragtige punte in die Conquesta Olimpiade gekry. Hulle het Platinum (88%+) vir al hul vakke gekry, buiten vir wiskunde waarvoor ons knaap 82% en middelsus 84% gekry het.
Die twee meisies het ook aan FAK se Afrikaanse Ekspo deelgeneem,. Hulle het goud vir hul voordrag en resensie gekry. En middelsus was ook die resensie wenner vir graad 6.
Die drie het ‘n stalletjie gehad by ons markdag en elk hul eie produkte verkoop.
Ons het weer saam met maats konsert gehou. Die kinders was bly om weer met fisiese musieklesse te kon begin.
Ons het lekker eksperimente gedoen.
Ons het ‘n week oue lemoenduifie gered wat kinders iewers uit ‘n nes gedief en aan sy stert rond gedra het in die straat. Die is nou al mooi groot en probeer gereeld kos van iemand se bord steel as ons buite eet.
Ons knaap is altyd besig om een of ander ding reg te maak. Hy het ook die heerlikste pampoen oes gehad en die jaar geleer om ‘n 3x3x3 “rubik’s cube” blitsig op te los en het amper al ‘n 5x5x5 opgelos.
Middelsus het leerwerk geleer doen as sy nie met haar neus in ‘n boek gesit het nie.
Ons jongste is altyd besig om prente te teken of verf.
Of sy is met iets anders kreatief besig soos om vir haarself ‘n pophuis te bou of leerwerk saam met middelsus te doen. Sy’t ook haar eie verjaarsdagkoek versier die jaar.
Ons het van nog ‘n hele klomp lande geleer.

Ons het heerlike boeke gelees en na stories geluister. Ons gunsteling die jaar was Gerald Durrell se My family and other Animals en Birds, Beasts and Relatives. Heerlike snaakse stories oor Korfu se mense en natuurlewe. Ons het Exploring Creation se Botany en ‘n goeie stuk van General Science gedoen. 15 Minute Afrikaans gedoen en weer van ‘n klomp komponiste geleer.

Ons kon die jaar afsluit met een van hul gunsteling aktiwiteite, bou met tandestokkies en Senties.

En beste van als kon my sus vir die eerste keer in 3 jaar kom kuier.

Categories: Alles in 'n dag, Graad 2, Graad 6, Graad 8, Tuisonderrig | Sleutelwoorde: , , , | Lewer kommentaar

Wat moet ‘n tuisskoler leer?

Dikwels is een van die eerste dinge wat nuwe tuisskoolouers oor wonder, wat hul kinders als moet leer. Hoe verseker hulle dat hul kind eendag weer kan skool toe gaan (baie wil hul kind hoërskool toe stuur), of universiteit toe, of selfs net om hul na skool toegerus die lewe in te stuur.

Ek is seker mense gaan verskillende antwoorde op die vraag hê, maar hier is die hoof dinge wat ek aanbeveel.

1) Leer jou kind lees. Dit klink vanselfsprekend, maar realiteit is dat groot persentasies moderne kinders nie met begrip kan lees nie. Dit is nie net ‘n probleem in ons land nie, maar internasionaal, en is beslis nie beperk tot sekere sosio-ekonomiese groepe nie. Lees gerus meer oor die kommerwekkende statistieke in Die eenvoudig antwoord

2) Leer jou kind probleemoplossend dink. Ons leef in ‘n tyd van verbruikers, waar kinders die vermoeë om self probleme te identifiseer EN op te los verloor. Help hul om eendag nie net verbruikers te wees nie, maar deel van die groep mense wat vooruitgang en vernuwing kan bring.

3) Leer jou kind om onafhanklik te werk. Dit sluit waarskynlik baie by die volgende punt aan. Dit gaan nie net die lewe vir jou as ouer makliker maak as jou kind self gedrewe kan werk nie. Dit gaan ook eendag vir hulle dinge makliker maak as hulle gaan studeer en werk.

4) Werk aan karakterbou en hul emosionele intelligensie. Dit is die dinge wat bepaal hoe suksesvol, gelukkig en aangenaam mense is om mee saam te werk en lewe.

5) Leer jou kind hoe om te leer. Of nog belangriker help hul die vreugde ontdek van leer. Dis waardevol as mens weet hoe om inligting te bekom as jy spesifieke kennis nodig het. Dit maak nie saak hoe oud jy word nie, jy bly konstant leer en om te weet hoe om dit te doen is so belangrik.

6) Bou ‘n goeie algemene kennis op. Geen twee mense het dieselfde algemene kennis nie. Moet dus nie bekommerd wees oor presies wat jou kind alles iets van weet nie. Bou eerder stelselmatig meer en meer kennis oor meer en meer dinge in hul lewe in. En versprei dit oor soveel velde as moontlik.

7) Help jou kind om sy/haar belangstellings en sterk punte te ontdek. Deur te fokus op kinders se sterk punte bou dit hul selfvertroue. Wat beteken dat hul selfs dit waarmee hul sukkel makliker en meer positief aanpak. Daarby help dit hulle om vroeg reeds te ontwikkel in ‘n rigting wat waarskynlik hul loopbaan gaan word of gaan bydra tot loopbaan sukses. Hoe meer tyd ons immers aan iets spandeer hoe beter raak ons daarmee.

As jou kind hierdie bou blokke het kan hulle wanneer hul weet wat hul met hul lewe wil doen die uitdagings aanpak wat nodig is om daar te kom. En ja, skoolkinders het nodig om dieselfde vaardighede aan te leer. Ouerbetrokkenheid, en nie die kurrikulum, skool of buitemuurse aktiwiteite nie, is die belangrikste faktor om kinders te help ontwikkel om hul volle potensiaal te bereik.

Categories: Tuisonderrig | Sleutelwoorde: , | Lewer kommentaar

Twee groot mylpale

Dit is einde van die jaar en ek is besig met ‘n terugblik op die jaar om ons hoogtepunte uit te haal. In die proses besef ek daar is 2 groot mylpale wat ek graag met julle wil deel.

Die eerste is so bietjie bittersoet. Ons is op ‘n punt waar ek vir ‘n paar dae sou kon verdwyn en die kinders sou op hul eie die huishouding kon hardloop. Dit is ‘n trotse oomblik, maar bring ook ‘n stekie hartseer as jy besef hulle het jou nie meer op daardie vlak nodig nie.

Hulle sal kan sorg vir ontbyt tot aandete. Skottelgoed was en wegpak. Hulle maak lankal als skoon wat nodig is (ons huis is sekerlik nie skou gehalte nie, maar dis lekker dat hulle dit self kan doen).

Met die dat ons besef het gimnastiek en skottelgoed was werk nie so lekker saam nie, het ons oudste meisiekind besluit dan sal sy die wasgoed oorneem. So nou was sy wasgoed, hang op en maak weer hopies skoon klere vir almal om te gaan bere. Regtig handig!

Ons knaap is so knap met die tuin en maak sommer in ‘n japtrap goedjies in en om die huis reg. Net die ander dag het hy al die slotte en skarniere geolie (want hy was verveeld).

Ons jongste het ook uiteindelik die opruim ding bemeester. Dit is soveel moeiliker vir kinders om op te ruim as om ander huiswerkies te doen. Opruim het net so baie stappe en beplanning wat nodig is dat kinders daarmee sukkel. En natuurlik is dit dikwels net vir ons makliker om dit self te doen as om by te staan en hulle stukkie-stukkie te lei om te leer om dit self te doen. Ek weet, want my ander 2 kon heelwat vroeër al dit self doen, maar met die jongste het ons langer gevat om daar te kom. Ouboet, ousus of ek kon immers baie makliker gou inspring en klaar maak.

Die tweede groot mylpaal is om hulle self motivering te sien. Natuurlik werk ons jare al daaraan dat hulle selfstandig kan werk. In die huis maar ook met skoolwerk. Dit lekker om die jaar se beplanning te kan doen en vir hulle elke week werk uit te sit wat hulle self bestuur en klaar maak na goed denke. Ons 11 jarige moet ek nog so nou en dan herinner dat die week vorder en als nog nie klaar is nie, maar ouboet gaan 100% op eie stoom voort. Hy sal selfs sy week beplanning aanpas as hy besef daar gaan iets wees wat met sy normale skedule inmeng.

Met die grendelstaat het ek besef hoe noodsaaklik daardie vaardighede is. Skielik was daar nie meer gimnastiek oefening elke dag nie. Ons het gepraat oor hoe oefening help om gemoedere hoog te hou en hulle het ook besef dat hulle fiks wou bly sodat hulle kan reg wees as hulle weer kon begin oefen.

Vir 3 maande het hulle elke weeksoggend opgestaan en na ontbyt vir 1.5-2 ure geoefen. Menigte oggend was 1 van hulle nie lus nie, maar hulle het deur gedruk. Tuis oefeninge is nie naastenby so opwindend soos om op apparaat te kan werk en nuwe vaardighede aan te leer nie. Daar is nie afrigters wat help motiveer of maats om dit lekker te maak nie.

Om elke dag net te werk aan krag, stamina en soepelheid is nie hope pret nie. Daar is geen erkenning of kort termyn beloning in dit nie. Dit vat tonne deursettingsvermoë en interne motivering en ek is trots daarop dat hulle dit kon doen. Ek is oortuig dat dit ‘n vaardigheid is wat hulle net kan help om eendag suksesvol te wees en nie afhanklik van ander om iets te bereik of om gelukkig te voel nie.

Skielik besef ek hierdie was nie so ‘n verlore jaar soos wat dit gevoel het nie. Wat het jou kinders hierdie jaar bereik? Aan watter vaardighede het julle gewerk? Of beplan julle om volgende jaar aan te werk?

Categories: Ouerskap, Tuisonderrig | Sleutelwoorde: , , , , , | Lewer kommentaar

Los die kind

Ons het ‘n groot gees in die tuisonderwys kringe verloor laas jaar. Leendert van Oostrum was net een van daardie mense wat jy nie sommer weer vergeet as jy hom eers in die oë gekyk het nie. Al was dit net in ‘n skare mense en hy geen benul het wie jy is nie.

My eerste ervaring was ‘n praatjie deur hom oor die veranderinge in ons wêreld en hoe die skoolstelsel nie saam met dit aangepas het nie. Dit het my wiele aan die draai gesit. Rus ons werklik nog ons kinders toe om gelukkige suksesvolle volwassenes te word? Lees voort

Categories: Ouerskap, Tuisonderrig, Uncategorized | Sleutelwoorde: , , | 2 Kommentaar

‘n Tydlyn vir lewende geskiedenis

Ons volg ‘n lewende boek benadering van leer. Die voorlees van goeie lewende boeke vorm dus die ruggraat van hoe die kinders leer. Dit is ongelooflik hoe baie feite kinders leer uit stories wat ‘n historiese agtergrond het. (Dieselfde geld natuurlik van die natuur, ons wêreld – aardrykskunde ens.). Lees voort

Categories: Graad 2, Graad 4, Ons lees, Uncategorized | Sleutelwoorde: , , , , , , , | Lewer kommentaar

Ontdek en leer

iPhone29

Baie van die dinge wat ons “reg” gedoen het op ons tuisonderwys pad was nie juis beplan nie. Dikwels was dit net genade dat ons die regte ding op die regte tyd gedoen het. Lees voort

Categories: Alles in 'n dag, Uncategorized | Sleutelwoorde: , , | Lewer kommentaar

Verse oor vrees nie

Stres en bekommernis het so deel van die alledaagse lewe geword dat ons maklik vergeet dat die woord van God ons juis maan om slegs vir God te vrees. So sien ek ‘n ruk terug ‘n Facebook prent dat daar 365 verse (een vir elke dag) is dat ons nie moet vrees nie.

So begin my Bybelstudie op die spoor van die verse. Daar is ‘n boek geskryf “Fearful To Fearless” met 365 verse en daarmee saam ‘n 365 Fear Nots: Verse Of The Day. Self kon ek nog nie al die verse vind nie. Ek het 149 verse gevind plus nog ‘n klompie waar ‘n engel aan die woord is, maar dis nog maar half pad na die volle lys. Lees voort

Categories: Graad 3, Gratis drukstukke, Tuisonderrig, Uncategorized | Sleutelwoorde: , , , , , , | Lewer kommentaar

Geheime kode

Ek sien vanmore die idee van geheime kodes maak en toe moet ons dit net vandag doen! My knaap is immers versot op geheime kodes en enige iets wat net naby bende-agtig klink. En ek is versot op enige aktiwiteit wat somme, lees en skryf sommer saam kombineer!

iPhone19

Lees voort

Categories: Graad 1, Graad 2, Graad 3, Graad 4, Gratis drukstukke, Tuisonderrig, Uncategorized, wiskunde | Sleutelwoorde: , , , , , , , , , , , | 2 Kommentaar

‘n Kwartaal van eksperimente

So het die eerste kwartaal tot ‘n einde gesnel en staan ons al weer op die vooraand van ‘n nuwe kwartaal. Ons het laas kwartaal weer ‘n paar interessante dinge gedoen op ons wetenskap Maandae. Voor die nuwe kwartaal afskop wil ek dit graag met julle deel.

Ons het die jaar afgeskop deur te praat oor hoe ‘n regte eksperiment gedoen word. Dat jy eers kyk wat jy wil toets, dan besluit hoe jy dit gaan toets, wat jy dink gaan gebeur. Daarna volg die eksperiment. Laaste word gekyk wat gebeur het (of dan nou nie gebeur het nie) en hoekom jy dink dit so is. As ‘n voorbeeld het ons gekyk na die spoed waarteen papier helikopters val. Ons het die helikopters van http://paperairplanes.co.uk/heliplan.php en http://www.paperhelicopterexperiment.com gebruik. Die kinders het beurte gemaak om die helikopters te laat val, terwyl van die ander met stop horlosies moes meet hoe vinnig dit val. Telkens het 2 gemeet en dit was ‘n goeie les, omdat hulle kon sien dat elkeen se tye verskil het as gevolg van menslike foute. Ons het ook elke helikopter meer as eenkeer laat val, sodat hulle kon sien dat die omgewing ook ‘n invloed het. Aan die einde het ons gemiddeldes uitgewerk en gekyk watter helikopters die stadigste en vinnigste geval het. Ironies genoeg het die oorspronklike eenvoudige helikopters die stadigste geval. Die beste was toe ek aan die einde vir hulle verduidelik dat aan die einde van ‘n eksperiment mens alles van die begin hipotese tot die resultate en gevolgtrekkings alles moet dokumenteer. Hulle was nie beïndruk met die gedagte dat hulle dit dalk nou moes doen nie. Ons ma’s het lekker gegiggel. Duidelik geniet hulle die doen van eksperimente, maar nie die papier werk deel daarvan nie. Lees voort

Categories: Eksperimente, Graad 1, Graad 2, Graad 3, Graad 4, Graad 5, Graad 6, Uncategorized, Wetenskap Maandae | Sleutelwoorde: , , , , , , , , , , | Lewer kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.