0

100% dogtertjie

30 March 2012
Share

Volgens my is ons Pop eenhonderd persent dogtertjie. Sy is net so heeltemal anders as ou boet. Sy is mal oor klere en gaan deur ‘n halfdosyn uitrustings ‘n dag (met hom was ek gelukkig as hy een keer ‘n dag klere aan gehad het en dit aan gebly het!). Enige broek pas ook nie by enige hemp nie. En rokkies is beter. As jy natuurlik ‘n romp onder ‘n rok kan aantrek is dit nog beter! Die kan dan juis so lekker waai en draai. Mamma moet maar net was en dit nie waag om te besluit wat sy moet aantrek nie!

Sy verf meer gereeld haar lippies as mamma en is mal daaroor om mooi goed in haar hare te sit. Sy kan nie ‘n mooi skoen uitlos nie. Hoe meer skoene hoe meer vreugde! Elke uitrusting het ‘n paar wat beste daarby pas (moet dit tog nie waag om die verkeerde skoene aan te dra).  Daarby is enige iets wat blink net te pragtig. Dis hangertjies, armbande en knippies. Sy hou nie van rof speel nie en daai gil is verseker die van ‘n meisiekind! En moenie vir haar ‘n telefoon gee nie, sy klets oor enige iets net sodat sy nog ‘n rukkie kan kuier.

Dis eers net voor hul partytjie wat ek besef het, sy is nie heeltemal uit dieselfde stoffasie as baie dogtertjies geknip nie. ‘n Vriendin was erg in die knyp oor wat om vir haar te koop – sy speel immers nie pop nie! Hmm, o, dit. Dis nie al te vreemd nie, Mamma was ook nie te beïndruk met poppe nie. Sy hou van klei speel, teken, verf, knip en plak, blokkies en legkaart bou en natuurlik huis speel saam met Boeta. Sy hou van klim en klouter en fietsie ry. Met water mors en sandkastele bou.

En toe vat ouma die 2 rakkers om vir hulle geskenke te gaan soek. Ouboet is natuurlik dadelik tussen die karre in. En sus, wel sy is toe net so beïndruk met die goed met wiele soos hy. Sy het so bietjie na die dogtertjie goed geloer en toe besluit sy soek ook ‘n baan met karre wat kan ry. Daar was dan nou juis so ‘n pragtige een in pienk vir dogtertjies. Plus haar pienk en pers karre gaan perfek daarop pas. Nou is ouma oortuig die is ‘n tomboy. Ha-ha. Ek twyfel sterk. Dalk net ‘n pop wat saam met ‘n ouboet groot word!