Akademie kan wag

Daar is alweer ‘n beweging vir kinders om vroeër akademie geleer te word. Dit is een van die grootste probleme in moderne skole en tog is daar altyd weer ‘n groep wat voel kinders moet nog vroeër geleer word.

Dit alles word gemotiveer uit die feit dat jong kinders soos sponse is en in ‘n fraksie van die tyd iets kan leer wat ouer kinders (en volwassenes) dit kan leer. Die feit dat daar al meer en meer navorsing is wat wys dat formele onderrig op vroeë ouderdom skadelik vir kinders is, word onder die mat gevee. Al meer professionele mense staan op om ‘n swaai te probeer bring. So het die Amerikaners “Better late than early”, in Brittanje is daar weer “Too much too soon”. Maar dis asof ons so vasgevang is in die resies om kinders te hê wat slimmer is as hul maats dat ons net nie na rede kan/wil luister nie.

Die gevaarligte flikker, sirenes skree, maar ons is horende doof en siende blind. Jonger en jonger kinders lei aan depressie, , is angstig, het selfmoordneigings, klein angsaanvalle ens. Maar ons wil blykbaar nie besef dat ons die oorsaak van die probleme is nie. Dat vroeër nie beter is vir kinders se emosionele welstand nie. (Ook nie noodwendig eers vir hul akademiese welstand nie, navorsing dui juis daarop dat vroeë akademie lei tot probleme soos disleksie, onvermoë om met begrip te lees, ens.)

Maar jong kinders leer dan soveel makliker? Natuurlik. Hulle is bedoel om sponse te wees. Daar is ‘n magdom inligting wat hulle moet inneem en verwerk. Die probleem is dat ons dink dit is bedoel om akademiese inligting te wees.

Vir eeue het samelewings besef dat daar belangriker dinge was vir jong kinders om te leer as akademie. Kinders het tuis geleer lees en skyf en basiese reken. Dinge wat hul ouers vir hul kon leer. Eers op 12/13 (soms selfs later) het formele onderrig buite die huis begin.

Hoekom? Omdat mense geweet het dat daar belangriker dinge was wat kinders in die sponsie-fase moes leer. Werksetiek, interpersoonlik verhoudings, simpatie, empatie, deursettingsvermoë, geduld en en. Dit is die moeilike dinge om te leer. Kinders het saam met hul ouers gewerk en geleef. Eers wanneer hul op die drumpel van volwassenheid gestaan het het die fokus na akademie geskuif.

Die gevolg was dat kinders reeds op 13/14 emosioneel volwasse was! Daarenteen sit ons vandag met mense wat op 18/21 (en dikwels nog later) eers emosioneel volwasse is. Ons mag grappies maak oor die millinnials, maar dis gedeeltelik die skuif na akademie ipv karakter bou wat hul geskep het. Tog stoomroller ons voort. Ons gaan staan nie stil en dink wat ons kan leer uit hul gedrag nie.

Elke oomblik wat ons ‘n kind van 18 maande syfers leer of ‘n 3 jarige om te leer lees, ‘n 4/5 jarige om maalsomme te doen, is ons besig om tyd te steel van belangriker dinge. Toe hul vestibulere en motoriese stelsels moes ontwikkel sodat bo, onder, links, regs, potlootgreep, skouerstabiliteit en soveel meer vas gelê kon word moes hul by ‘n tafel sit en op papier werk (waarop hul oë nog nie kon fokus nie, omdat jong kinders versiende is en hul naby visie nog nie goed ontwikkel is nie). Ons het tyd wat hul moes leer om te werk en te deel met ander gesteel om op dinge te fokus wat hul later (miskien stadiger) kon leer.

Ouer kinders leer akademie miskien stadiger as jonger kinders, maar ouer kinders leer goeie karakter eienskappe nog moeiliker as jonger kinders. Die gesegde is nie verniet “buig die boompie terwyl hy jonk is nie”. Leer kinders goeie karakter terwyl hul jonk is en hul sal dit onthou tot in hul grysheid.

Ons span die kar voor die perde en kan dan nie verstaan hoekom dinge nie wil werk soos ons gehoop het nie. En hoe meer die akademiese druk raak hoe minder verwag ons op ander gebiede van ons kinders. Hulle hoef nie huis skoon te maak, skottelgoed te bêre, wasgoed te was ens nie, want daar bly dan nie tyd oor vir speel (wat ook belangrik is!) nie. Min besef ons dat die fisiese werk las wat ons probeer verlig, juis die plek is waar hul leer om ‘n bydra tot die samelewing te maak, leer om verantwoordelikheid te vat, leer dat daar dinge is wat jy doen nie omdat dit lekker is of jy beloon word daarvoor nie, maar omdat dit gedoen moet word.

Daar was natuurlik nog ‘n voordeel daaraan gewees om jong volwassenes eers akademie te leer. Hulle kon al vir hulself dink en redeneer. Hulle het al die onderskeiding gehad om te weet wat reg en verkeerd is. Dit is natuurlik ‘n probleem vir die wat propaganda in kinders se kele wil afdruk. Dis soveel makliker om ‘n kind te indoktrineer as ‘n volwassene. En of ons nou daarvan hou of nie daar is nooit ‘n gebalanseerde siening wat geleer word nie. Dis altyd uit een party se oogpunt, om sy siening ander se siening te maak. Geskiedenis leer ons hoe regerings dit gebruik het om hul ideologie uit te dra. Hoe hul massas oortuig het om teen rasionele denke op te tree.

Miskien is die grootste prys wat kinders betaal dat hul nooit tyd het om hul passie te ontdek nie. Dat ons hulle die wêreld instuur, sonder ‘n idee wat hul werklik gelukkig maak. Waarvoor hulle die ekstra myl sal stap, omdat dit wat hulle wil bereik vir hulle saak maak.

Dis tyd dat ons weer besef ons kinders se karakter is belangriker as hul akademie. Dat daar dinge is wat kan wag, terwyl ons werk aan dit wat werklik belangrik is!

Advertisements
Categories: Ouerskap, Uncategorized | Sleutelwoordw: ,, | 4 Kommentaar

V&A: Maaltafels

Ek kry dikwels navrae via die webjoernaal en het gedink om van die antwoorde met julle te deel.

Ek wil my kind (10j oud) help met die maaltafels. Wat stel jy voor? Hy sukkel met dit.

Daar is ongelukkig nie iets wat vir almal gaan werk vir maaltafels nie. Die belangrikste eerste stap is om seker te maak hy verstaan maal. Dat dit herhalende optel is. 3×4 is eintlik maar net 3 + 3 + 3 + 3. Om dus te tel in 2’s, 3’s ens is ‘n goeie manier om te begin werk aan die konsep. Beweging is ‘n wonderlike manier om vir party kinders te help hier mee. Hy kan byvoorbeeld trappe spring terwyl hy die veelvoude sê (of selfs op ‘n trampolien – elke keer as hy in die lug in opgaan moet hy die volgende veelvoud sê).

As hy dit gesnap het kan julle begin werk om dit te memoriseer, sodat hy nie telkens hoef op te tel om die antwoord te kry nie.

Ongelukkig beteken dit dat heelwat herhaling nodig is (net soos wat dit was om optel en aftrek vinnig te doen 🙂

Jy gaan bietjie moet eksperimenteer om te vind wat die beste metode vir hom is om dit aan te pak, want kinders verskil en dit wat vir elkeen werk gaan dus ook verskil.

My oudste hou byvoorbeeld van kompetisie (veral teen homself) en dus help dit hom om te kyk hoe gou hy 10 maalsomme reg kan doen. Ek het vir hom ‘n paar somme uitgesoek waarmee hy sukkel en dit saam met ‘n paar gegooi wat hy al ken. Hy moes toe kyk hoe vinnig kan hy 10 daarvan doen. Elke dag het hy ‘n ander kombinasie van dieselfde somme gekry en het probeer om sy tyd te verbeter. Vir hom werk die metode. Jy kan loer na ‘n bladsy van die somme wat ek vir hom gemaak het by https://web.facebook.com/sommer.pret/photos/a.152944065074535.1073741827.152488621786746/578198995882371/?type=3&theater. Dit is egter belangrik om nie die metode te volg as jy ‘n kind het wat reeds angstig is oor wiskunde nie! Jy wil nie sy stres verhoog nie! Dis net ‘n manier om uitdaging in te bou vir ‘n kind wat wel hou van ‘n uitdaging.

As hy van speletjies hou het ek 3 speletjie pakke wat kan help. Jy kan loer by https://lomi.co.za/speletjies/. Dit is speletjies wat jy saam met hom kan speel om herhaling in te bou en memorisering makliker te maak. Daar is Speel­-Speel Maaltafel en Meeste maaltafels in ‘n ry. Jy kan ook loer na Pret met Getalle. Dit is idees hoe om met speletjies somme te oefen (jy kan telkens self besluit of jy optel, aftrek of maal wil oefen.)

Ek hoop julle vind iets wat hom sal help om op ‘n lekkerder manier sy tafels te leer!

Categories: Graad 3, Graad 4, Graad 5, Uncategorized, wiskunde | Sleutelwoordw: ,,,,,, | 1 Kommentaar

V&A: Wiskunde vir die intermediêre fase

Ek kry dikwels navrae via die webjoernaal en het gedink om van die antwoorde met julle te deel.

My kinders, amper 12 jarige seun en amper 10 jarige dogter, is middel Februarie uit onderskeidelik Gr4 en Gr5 in hoofstroom skool uitgehaal.  Ons is op die oomblik nog besig met die “deschooling” proses.

Ek wil graag ‘n Afrikaanse wiskunde program gebruik vir hulle.   Ons het aanvanklik na MUS gekyk, maar dis engels….

Kan jy my asseblief lei in die volgende:

1.       Tot op watter ouderdom (Graad) sal ek die boekies kan gebruik?

2.       Werk die boekies ook soos die KABV Kirrikulum wat met ‘n spiraalmetode werk, of bou die een konsep op die ander?

3.       Met watter boekie begin ons?  Alhoewel my kinders al “groot” is, weet ek dat daar veral by Wiskunde Konsepte ‘n GROOT gaping is.

4.       Het ek enige addisionele hulpbronne nodig saam met die Somme(r) Pret reeks?  Kan ek NET dit gebruik vir Wiskunde?

Ons het self eers begin met MUS. Ek is mal oor hulle benadering, maar omdat ek ook glo moedertaal onderrig is bobaas het die vertaal werk nogal baie geraak. Aanvanklik was dit makliker, want hul kon nie Engels lees nie, so ek het maar net by gesit en dit in Afrikaans gelees (en nooit die DVD’s gebruik nie). Maar hul het meer selfstandig begin werk en kon later self Engels lees, so sou aangaan op hul eie (wat ek nie gevoel het die ideaal is nie). Plus MUS is duur. Selfs al koop jy net weer die werkboeke vir ‘n 2de kind.

Somme(r) Pret is egter nie ‘n losstaande kurrikulum nie. Die idee was om alternatiewe aktiwiteite te skep wat meer pret is as die gewone droë bladsye en bladsye van somme (wat meeste kinders se moed breek voor hul nog begin het). Die fokus is kernvaardighede wat hulle moet bemeester. In Engels kon ek vreeslik baie sulke werkvelle vind, sommige gratis, ander teen betaling. Maar in Afrikaans was dit maar yl. Ek skep dus nou werkvelle vir my eie kinders en hoop dat daar ander is wat ook kan baat daarby.

Die Somme(r) Pret boeke is dus ook nie vir ‘n spesifieke graad nie. Ek het eerder gekyk na watter vaardighede kinders saam ontwikkel. Daarom is Somme(r) Pret Begin vir die jonger kinders wat nog getal begrippe leer, Somme(r) Pret 1 vir graad 1/2 ouderdom, Somme(r) Pret 2 vir graad 3-5 en Somme(r) Pret 3 vir die graad 6+ (vir gevorderde kinders selfs graad 5). Ek is egter so toe gegooi met graad spesifieke navrae dat ek begin het om pret-pakke saam te stel vir spesifieke grade (die eerstes vir graad 4 is nou beskikbaar). Dit gaan maar stadig en ek hoop om oor tyd ‘n groter verskeidenheid te hê. En dan is daar die groot droom om ‘n 3R’s in Afrikaans te skryf met ‘n klompie aktiwiteite en speletjies (maar of ek ooit tyd vir dit gaan kry terwyl my eie kinders nog klein is weet ek nie!).

Vir die grondslagfase is ek oortuig kan mens weg kom deur Dr Ruth Beechick se The 3R’s te lees (die seksie oor wiskunde) en prakties dan met die kinders te werk en aan te vul met hulpbronne soos my Somme(r) Pret en Pret-pakke. Graad 4+ raak dit effe meer moeilik. Die naaste wat ek nog raak gelees het wat konsepte verduidelik (eerder as om die KABV spiraal benadering te volg) is Wiskunde op ‘n drafstap (Somme’ Gedagtes: My Boek en Werkkaarte). Ek het egter nog nie self die boek in die hand gehad nie, maar dit lyk vir my soos ‘n oulike hulpbron wat mens dan net self weer kan aanvul.

Vir my eie graad 5 gebruik ek Kitsreken (Platinum gee dit deesdae uit). Dis net 80 A5 bladsye. Dus nie so oorweldigend nie, maar dit dek al die temas in KABV. Ek gebruik dit dus om te kyk met watter konsepte hy sukkel en fokus dan net op die. Ek kan nie insien hoekom hy 10 bladsye van dieselfde ding moet doen as hy reeds iets gesnap het nie. Saam met die boeke is ekstra aanlyn hulpbronne vir kinders wat meer oefening nodig het en ook vir die wat ‘n groter uitdaging soek (www.platinumkitsreken.co.za/). Die boeke bevat egter geen verduidelikings nie. Daar doen PracMaths (http://systemmaths.co.za/) beter. Hulle oordoen dit half – hulle verduidelik telkens verskillende metodes hoe om dieselfde probleem mee op te los. Moet asseblief nie as julle dit gebruik alles probeer doen nie, maar kies die metode wat vir jou kind sin maak en doen net dit! My eie kinders het egter die hoeveelheid werk absoluut oorweldigend gevind. Ek hou dus die boeke as verwysing om net te help met konsepte waarmee hulle sukkel.

Ek sou jou sterk aanbeveel om eerder ‘n paar grade terug weg te spring en ‘n goeie fondasie te bou en dan aan te beweeg. Wiskunde bou op mekaar en meeste kinders se probleme lê in die grondslagfase. Die skool beweeg so vinnig dat hul dikwels nie konsepte werklik verstaan nie, maar bloot memoriseer. Aanvanklik kom hul weg met memorisering, maar soos hul ouer raak spook hul meer, omdat die konsepte belangriker is as die geheue werk. Dit beteken nie dat hulle ure by ‘n tafel hoef te sit en werk nie. Inteendeel gaan praktiese alledaagse toepassings hulle meer baat. Bak en brou saam sodat hulle kan weeg en meet, doen saam houtwerk sodat hulle kan meet en pas, self uitwerk hoe laat dit is of hoe lank voor die volgende ding, afstande uit werk (of hoe lank mens nog moet ry aan x km) as jul iewers heen ry, laat hulself lekkers verdeel, betaal as hul gaan inkopies doen, speel-speel inkopies tuis doen ens. Jy gaan verstom staan hoeveel meer hul so leer 🙂

Geniet julle nuwe avontuur en sterkte vir al die besluite. Dis nogal oorweldigend aan die begin.

Categories: Graad 4, Graad 5, Uncategorized, wiskunde | Sleutelwoordw: , | Lewer kommentaar

V&A: Graad 3 sukkel skielik met wiskunde

Ek kry dikwels navrae via die webjoernaal en het gedink om van die antwoorde met julle te deel.

My graad 3 kind sukkel skielik met wiskunde. Hoe kan ek haar help?

Dikwels met die jonger kinders is dit een van 2 goed wat lol met wiskunde. Baie van die werk beweeg te vinnig na abstrak (12+4=), terwyl kinders eers konkreet (met fisiese voorwerpe) werk, dan begin visualiseer (in hul kop prentjies maak om die somme te doen) en dan eers veel later begin hul abstrak dink. Ons verwag dikwels net te vroeg van hulle om die sprong na abstrak te maak (met die gevolg dat hul bloot dit memoriseer ipv om dit te verstaan). Die 2de dinge wat lol is dat die werk oorweldigend lyk. Bladsye vol bv optel somme onder mekaar breek sommer vinnig hulle moed.

Sy gaan waarskynlik blom as jy haar meer konkreet en prakties laat wiskunde doen (soos om lekkers te deel, self te besluit hoeveel ekstra eetgerei nodig is as julle besoekers het, te help met bak en brou en so met mates te werk ens) en deur speletjies. Daar is ongelooflik baie wat kinders kan leer in die proses. Plus dikwels verstaan hul dit op die lang duur beter.

Onthou ook daar is ‘n fyn balans tussen uitdaag en vaslegging. Daar moet uitdaging wees om wiskunde interessant te hou. Maar dit moenie so uitdagend wees dat sy nie eers wil probeer nie. Wissel dit af met konsepte wat sy reeds verstaan om vaslegging te bevorder en ook vir haar te wys dat sy reeds baie bereik het.

 

 

Categories: Graad 3, Tuisonderrig, Uncategorized, wiskunde | Sleutelwoordw: ,, | Lewer kommentaar

V&A: Hoe help ek my graad 1’tjie

Ek kry dikwels navrae via die webjoernaal en het gedink om van die antwoorde met julle te deel.

Hoe help ek my graad 1’tjie wat spook met wiskunde? Hy verstaan glad nie die * + 1 = 4 tipe somme nie.

Die belangrikste is op die oomblik konkreet met hom te werk. (Ek hoor net laas week van ‘n graad O juffrou wat baklei met die kinders wat op hul vingers tel. Ek wil haar ‘n pak slae gaan gee. Sy het geen benul van kinderontwikkeling nie!).

Kinders moet eers konkreet wiskunde oplos (fisiese items gebruik soos blokkies om bymekaar te tel), voor hulle in hul kop somme kan begin doen (hulle sien eintlik  prentjies in hul kop) en eers daarna kan hul abstrak begin werk (waar jy nie meer aan 3 as 3 appels/kolle/blokkies dink nie maar bloot ‘n begrip het van 3). Kinders verskil en party gaan gouer in ‘n volgende fase as ‘n ander, maar feit is dat tot ongeveer 11 moet kinders hoofsaaklik konkreet werk.

Skole het so obsessief geraak oor assessering op papier dat hul glad nie meer kinders se ontwikkeling in ag neem nie. Met die gevolg dat meeste kinders spook met wiskunde (nie omdat hulle dit nie verstaan of kan doen nie, maar bloot omdat hulle dit nog nie abstrak op papier kan uitdruk nie).

Ruk dus lekkergoed, blokkies, klippies, karretjies uit. Maak nie regtig saak wat nie. Maar laat hy met dit by tel, aftrek, die verdeel ens.

Jy kan vir hom verduidelik dat die = is soos ‘n skaal. Ken hy nog ‘n outydse skaal wat oorhel na eenkant as daar meer aan die eenkant is? Met somme wil ons hê die skaal moet gelyk hang, beide kante moet dieselfde hoeveelheid in hê. As jy ‘n speel skaal het kan jy vir hom wys wat jy bedoel. As jy bv 5 blokkies aan die eenkant sit en net 1
aan die ander kant gaan dit oorhel na die 5 kant. Hoeveel blokkies moet jy dan bysit, sodat dit gelyk is?
Of bou ‘n trein van blokkies/klippies (se maar weer 5). Jy wil hê dat die “trein” aan die ander kant van die = net so groot soos die eerste is. Sit nou onder die eerste “trein” 1 blokkie/klippie. Hoeveel blokkies/klippies moet hy by sit om die 2 treine ewe lank te kry? Hy moet eers dit fisies by sit om te sien wat gebeur en kan dan tel dat dit 4 is.

In julle dag kan jy begin soek vir plekke waar hy wiskunde kan gebruik. Dink byvoorbeeld aan wanneer julle tafel dek. Vra hom hoeveel mense julle is en hy kan dan gaan uit tel hoeveel messe en vurke nodig is. Jy kan dan vra as ouma en oupa kom kuier (of wie ook al) hoeveel gaan ons dan met uitsit. Of as julle lekkergoed koop, gee vir hom die pak sodat hy dit gelyk verdeel vir almal wat moet kry (een vir jou, een
vir my, een vir mamma). Hoeveel lekkers bly oor?

Sulke goed oefen die begrippe in en gee hulle ook ‘n idee hoekom hulle
dit by die skool leer.

Categories: Graad 1, Uncategorized, wiskunde | Sleutelwoordw: , | Lewer kommentaar

V&A: Waar begin mens?

Ek kry dikwels navrae via die blog en het gedink om van die antwoorde met julle te deel.

Ek is tans besig om tuisskool te ondersoek. Ek wil definitief my kinders tans in Gr 2 en 3 uit die skool uithaal en begin tuisonderrig. So, ek is besig om na al die verskillende opsies te kyk. Sou ek die Somme(r) Pret reeks, Lente pret pak en Robot pret pakke bestel, sou dit kwalifiseer as genoegsame Wiskunde vir die jaar, of moet ek steeds na ‘n ander kurrikulum ook kyk? En wat sou jy voorstel?

Sjoe, dis ‘n bitter moeilike vraag. My boeke en pret-pakke is nie juis bedoel om ‘n kurrikulum te vervang nie. Die idee is om eerder alternatiewe aktiwiteite te gee wat wiskunde weer pret maak. Baie kinders is so gefrustreerd met wiskunde dat hulle dit lankal nie meer geniet nie. En sodra ‘n kind glo hul kan nie wiskunde doen nie of nie meer daarvan hou nie het jy die stryd verloor. Dan is dit ‘n opdraande stryd vir hulle om wiskunde baas te raak.

In my opinie het mens nie werklik ‘n kurrikulum al nodig vir die grondslagfase nie. ‘n Baie oulike boek om te lees is Dr Ruth Beechick se The 3R’s. Dit bevat alles wat kinders van graad R tot 3 moet bemeester. Die eerste 2 dele is oor lees en skryf (en is gemik op Engels, wat nie juis van toepassing is op ons tweedetaal gebruikers nie – tog is daar heelwat in wat jy later sal kan inspan). Die 3de deel is vir wiskunde. Sy breek dit so eenvoudig af, dat mens sommer meer selfvertroue het om dit self aan te pak.

As mens egter vars in die tuisonderwys ding in klim is dit moeiliker om weg te kom van ‘n kurrikulum. Mens is net so gewoond aan die skool se manier om ‘n hele klas met kinders te bestuur. En ‘n kurrikulum voel soos ‘n veiligheidsnet.

Die slim mense beveel egter aan dat ouers hul kinders (en hulself) eers “deschool” as hulle oorgaan na tuisonderwys. Die aanbeveling is 1 maand van geen formele skool vir elke jaar wat die kinders in die skool was (kleuterskool ingesluit). As jou oudste dus van graad O af in die skool was sal dit 3-4 maande beteken. As sy al op bv 3 skool toe is, sal dit 7 maande word. Dit klink vreesaanjaend om hulle vir so lank net te los, maar die idee is om mekaar net weer te leer ken. Om elkeen se sterk en swak punte te herontdek en in die proses leer ‘n mens dat leer nooit op hou nie. Kinders hou nie op leer as mens die boeke weg pak nie (dikwels leer hul juis dan meer). In die tyd wat julle “deschool” kan hulle speel en lees en ontdek na hartelus (Waak egter daarteen dat hulle voor die TV/selfone/tablets sit). Die tyd “af” gee jou dan ook die kans om self meer te leer oor wat tuisonderwys is. Om te kyk na die verskillende metodes en een te vind wat by julle gesin se behoeftes pas.

‘n Oulike video om te begin kyk na die verskillende metodes is https://youtu.be/-elu8CASKsI. Sy verduidelik die 5 gewildste metodes en het selfs ‘n vraelys wat jy kan voltooi om te kyk watter een by julle gesin sal pas. Daar is nog ander metodes en baie mense kombineer meer as een van die metodes om ‘n sakpas metode vir hulle gesin te vind.

My aanbeveling vir graad O tot 3 is om te kyk wat van kinders verwag word (of uit The 3R’s of deur te loer op die departement se webwerf). As mens na die handboeke en werkboeke kyk lyk dit soos ‘n ton wat die kinders moet kan doen, maar in effek is dit nie so baie nie.

Tog is graad O tot 3 die heel belangrikste jare van wiskunde! Dit is in die tyd wat kinders of wiskunde verstaan of dit soos ‘n papegaai memoriseer. Die wat leer om dit te verstaan doen goed in wiskunde latere jare. Die wat net die metodes en rympies gememoriseer het, spook hul dood as hul ouer word. Daarom is dit belangrik om op die ouderdom eerder stadig en deeglik te werk. Kinders kan altyd weer inhaal as hul bietjie agter is, solank die fondament goed is. Daarby saam is ons skoolstelsel gebaseer op ‘n spirale benadering. Kinders doen dus elke jaar dieselfde werk, net in ‘n moeiliker graad en ‘n paar nuwe konsepte. Wat dit baie maklik maak om op te vang indien nodig. Jy gaan bv vind dat jou 2 meeste van die tyd dieselfde werk gaan doen. Die oudste een gaan net met groter getalle werk.

My aanbeveling sou wees om vir die eerste ruk eers weer oor al die begrippe te gaan en sommer deur speletjies vas te stel waarmee hulle moontlik sukkel. Werk sover moontlik konkreet met hulle. Hulle moet fisiese voorwerpe kan tel, verdeel, groepeer. As dit goed vasgelê is is dit maklik om oor te gaan na abstrakte getalle op papier. Grondslagfase wiskunde is elke dag gebruik wiskunde. Gebruik volumes in die kombuis. Meet en weeg goed. Laat hulle tel hoeveel plekke om te dek vir die gesin / as daar gaste kom. Laat hul self lekkers verdeel. Gee hulle ‘n kans om te werk met geld (tuis of by die winkel en self uit te werk hoeveel geld hulle moet betaal en watter kleingeld hulle moet kry). Speel bordspeletjies. Vra hul hoe laat dit is en hoe lank nog voor julle iets moet gaan doen. Bou met Lego en klim boom! Lees vir hulle voor en laat hulself lees. Jy gaan verstom wees oor wat al die aktiwiteite vir wiskunde ontwikkeling gaan beteken.

En as hulle dan iets op papier wil doen kan jy altyd loer na my boeke 😉

Sterkte met al die besluite. En onthou daar is niks wat jou keer om oor ‘n ruk weer ‘n ander koers in te slaan nie. Meeste mense begin met een kurrikulum of metode en verander dit of pas dit later aan. Al die keuses maak dit moeilik (veral aan die begin), maar dis ook wonderlik om die vryheid te hê om dit te vind wat vir jou gesin werk.

Categories: Graad 1, Graad 2, Graad 3, Graad R, Tuisonderrig, Uncategorized, wiskunde | Sleutelwoordw: ,, | Lewer kommentaar

Die ewige wipplank

Die geskiedenis leer ons dat die mensDOM ‘n ewige stryd het om balans te vind. Ons wipplank van die een ekstreem na die ander sonder om ooit ewewig en ons balans te vind.

Dit blyk tuis ook my grootste uitdaging te wees. Wanneer ons op ‘n plek is waar ek voel dat ek genoeg tyd het om interessante en opwindende dinge saam met die kinders te doen – Eksperimente en kunsvlyt en sommer net tyd om aandag aan almal se belangstellings te gee – dan lyk dit asof ‘n orkaan ons huis getref het!

Daar is net nooit genoeg tyd om orde te hou en steeds by alles anders uit te kom nie. En dis nie dat my kinders nie hul deel doen nie. Hulle maak beddens op, pak skottelgoed weg, dek tafel, ruim elke dag ‘n paar minute op, is super met badkamers skrop, vloere en ruite was. Kom ons wees eerlik, enige iets wat met water te doen het is hulle mal oor. Dis die opruim waar die uitdaging lê.

Op enige gegewe dag is elk met iets besig en dis dikwels daardie langer besig bly waar die chaos begin. Een bou huise vir die Little Pet Shop diertjies met die MUS blokkies, een is besig om met die lego/ planx / albasterbaan (of sommer net afval hout en takke) een of ander ingewikkelde konstruksie of dorpsuitleg te bou en nog een het die eetkamertafel beset met kunsvlyt. Niemand wil dadelik dit wegpak nie, want hulle is nou net op dreef.

Wanneer die chaos net te veel vir my raak en ek orde moet skep kom ons nie by veel meer as dit uit nie. Tussen skoonmaak, wasgoed was, kos maak, inkopies en hul aktiwiteite bly daar nie iets oor van die dag om iets sinvol te doen nie! En ons probeer regtig buite aktiwiteite beperk. Ek het dit reg gekry om hul aktiwiteite te sinchroniseer, maar dit beteken steeds dat 12 ure ‘n week deur dit opgeslurp word. Dit is net te veel!!! (Ek weet nie hoe doen skoolkinders dit nie, want ek weet meeste kinders het heelwat meer as 12 ure se buitemuurs en dan is daar nog huiswerk ook!).

Vinnig begin die kinders kla dat ons nooit meer iets lekkers doen nie. Dat die lewe saai geraak het.

Tussenin probeer ons darem elke week by maats uitkom en betrokke wees by ander dinge. Miskien is dit waar ek kan sny? Maar dit is ook dié dinge wat help om my varkies op hok te hou, wat ander uitdagings bied. Wat die kinders leer dat ons nie ‘n eiland is nie, maar deel van ‘n gemeenskap wat in duie stort as ons nie almal ons deel daarvan vorm nie.

En so wipplank ons tussen gelukkige kinders EN chaos en gefrustreerde kinders EN orde. Daar’s immers die sê-ding: “Cleaning while kids are still growing is like shoveling snow while it is still snowing”. Miskien moes ek net vrede kon maak met die chaos, maar te veel daarvan voel ek of ek gaan versmoor en of my kop tot stilstand kom. Waar vind mens die balans?! Die spreekwoordelike “middle ground” bly my ewig ontwyk…

Categories: Alles in 'n dag, Uncategorized | Sleutelwoordw: ,, | 4 Kommentaar

Die eenvoudige antwoord

Met die nuutste PIRLS verslag uit wat gevind het dat amper 4 uit elke 5 tienjariges nie met begrip kan lees nie is almal weer in rep en roer oor die toestand van onderwys in ons land. Die hartseer is dat ons steeds met oogklappe rond loop. Lees mens die berigte is die klem op die swak prestasies by lae inkomste skole en landelike gebiede. En, ja, die kinders se lees vaardighede is beroerd en kort dringend aandag!!!

Maar hier is die skokkende ding. Alhoewel dit beter gaan in middelklas Afrikaans en Engelse skole gaan dit steeds katastrofies sleg! Hier is ‘n paar statistiek uit die verslag oor ons Afrikaanse kinders indien iemand nog gedink het ons sit mooi “hoog en droog”. Lees voort

Categories: Alles in 'n dag, Ouerskap, Uncategorized | Sleutelwoordw: ,,,,,, | 4 Kommentaar

Ons 2017 hoogtepunte

Ons jaar het weer afgeskop met ons nuwe jaar vieringe.

201618 Lees voort

Categories: Alles in 'n dag, Graad 2, Graad 4, Voorskool | Sleutelwoordw: ,, | 1 Kommentaar

Op ons boekrak 2017

Die jaar het ons weer lekker gelees. Dit bly my verstom dat ons 4jarige so kan saam sit en luister. Dis net met die Engels lees wat sy my bietjie gek maak, want sy stop my kort-kort om te vra wat ‘n woord beteken. (Ons leeslyste vir die vorige jare kan hier gevind word – 2016, 2015, 2014, 2013 en ons gunsteling lewende boeke).

IMG_3437

Ouma lees vir die rakkers

Lees voort

Categories: Graad 2, Graad 4, Ons lees, Tuisonderrig, Uncategorized, Voorskool | Sleutelwoordw: ,,, | 1 Kommentaar

Blog at WordPress.com.