‘n Rukkie terug het my seun, wat vanjaar Ingenieurswese begin studeer het, opgemerk dat ek nooit een van die handboeke wat hy tans gebruik, sou gekoop het nie. Natuurlik moes ek vra hoekom. Die antwoord was eenvoudig – die boek bevat nie deeglike verduidelikings nie.
Hy was reg. Oor die jare het ek baie tyd spandeer om hulpbronne te vind wat vir ONS sou werk! Dit is die mooi van tuisonderrig, ons kry die keuses. En nee, dit hoef nie ‘n fortuin te kos nie. Ons het nog altyd ‘n baie beperkte begroting vir hulpbronne gehad. Ek beskou dit as ‘n seën. Ons moes regtig dink oor wat noodsaaklik was en oor wat ‘n opvoeding werklik is. Dit is maklik om eenvoudig alles te koop wat goed lyk, maar dit beteken nie dat dit vreugde in jou huis sal bring nie.
So dikwels is ons vasgevang in tradisionele onderwys, sonder om te besef dat dit slegs een van talle onderwysmodelle is. Eenvoudig omdat SA skole daardie model gebruik, beteken dit nie dat jy dit hoef te gebruik of dat vreugde vir jou gesin gaan bring nie. Ons het die vryheid om modelle te meng en regtig die beste van wat beskikbaar is, te kies.
Behalwe dat jy filosofieë kan kombineer (wat dikwels beteken dat jy nie duur hulpbronne nodig het nie), het ek ook gevind dat die gebruik van hulpbronne wat vir/deur tuisskolers geskep is, jou baie tyd, moeite en geld bespaar. Ja, oppervlakkig lyk sommige hiervan duur (alhoewel jy met geduld baie goedkoper tweedehandse kopieë kan vind), dit gewoonlik minder op die langduur kos.
In ons land gryp ons dikwels na CAPS (KABV)-hulpbronne omdat dit maklik verkrygbaar is. Die vangplek is dat CAPS ‘n onderwyser gerugsteunde hulpbron/kurrikulum is. Dit is geskryf om gebruik te word met die hulp van ‘n onderwyser of iemand met addisionele kennis. Dit is hoekom mense bereid is om ‘n fortuin te betaal om hul kind in ‘n skool met goeie onderwysers te kry en hoekom ouers soveel tyd aan huiswerk en geld aan ekstra klasse spandeer. Na my mening is dit ook een van die redes waarom soveel kinders in ons land steeds nie ‘n goeie opvoeding kry nie.
Dit is regtig die moeite werd om na verskillende hulpbronne en maniere van leer te kyk. Dit maak die lewe makliker, bring vreugde, gee kinders selfvertroue om onafhanklik te werk en maak nuwe wêrelde vir hulle oop. Wat ‘n voorreg is dit om saam met ons kinders te leer en te groei.
NS. En ja, daar sal tye wees wanneer jy jou geld spandeer op hulpbronne wat nie werk nie (verkoop dit as jy kan). Beskou dit as deel van jou eie leerproses en beweeg aan. Jy hoef nie in ‘n groef vas te sit net omdat jy die verkeerde hulpbron vir jou gesin (of selfs vir ‘n spesifieke kind) gekies het nie. Net omdat een kind daarvan gehou het, beteken dit nie dat ‘n ander ook daarvan gaan hou nie. Ons almal groei en leer. Tuisonderrig is ‘n reis, nie ‘n bestemming nie. Geniet die natuurskoon!
