Tuisonderrig

Wat moet ‘n tuisskoler leer?

Dikwels is een van die eerste dinge wat nuwe tuisskoolouers oor wonder, wat hul kinders als moet leer. Hoe verseker hulle dat hul kind eendag weer kan skool toe gaan (baie wil hul kind hoërskool toe stuur), of universiteit toe, of selfs net om hul na skool toegerus die lewe in te stuur.

Ek is seker mense gaan verskillende antwoorde op die vraag hê, maar hier is die hoof dinge wat ek aanbeveel.

1) Leer jou kind lees. Dit klink vanselfsprekend, maar realiteit is dat groot persentasies moderne kinders nie met begrip kan lees nie. Dit is nie net ‘n probleem in ons land nie, maar internasionaal, en is beslis nie beperk tot sekere sosio-ekonomiese groepe nie. Lees gerus meer oor die kommerwekkende statistieke in Die eenvoudig antwoord

2) Leer jou kind probleemoplossend dink. Ons leef in ‘n tyd van verbruikers, waar kinders die vermoeë om self probleme te identifiseer EN op te los verloor. Help hul om eendag nie net verbruikers te wees nie, maar deel van die groep mense wat vooruitgang en vernuwing kan bring.

3) Leer jou kind om onafhanklik te werk. Dit sluit waarskynlik baie by die volgende punt aan. Dit gaan nie net die lewe vir jou as ouer makliker maak as jou kind self gedrewe kan werk nie. Dit gaan ook eendag vir hulle dinge makliker maak as hulle gaan studeer en werk.

4) Werk aan karakterbou en hul emosionele intelligensie. Dit is die dinge wat bepaal hoe suksesvol, gelukkig en aangenaam mense is om mee saam te werk en lewe.

5) Leer jou kind hoe om te leer. Of nog belangriker help hul die vreugde ontdek van leer. Dis waardevol as mens weet hoe om inligting te bekom as jy spesifieke kennis nodig het. Dit maak nie saak hoe oud jy word nie, jy bly konstant leer en om te weet hoe om dit te doen is so belangrik.

6) Bou ‘n goeie algemene kennis op. Geen twee mense het dieselfde algemene kennis nie. Moet dus nie bekommerd wees oor presies wat jou kind alles iets van weet nie. Bou eerder stelselmatig meer en meer kennis oor meer en meer dinge in hul lewe in. En versprei dit oor soveel velde as moontlik.

7) Help jou kind om sy/haar belangstellings en sterk punte te ontdek. Deur te fokus op kinders se sterk punte bou dit hul selfvertroue. Wat beteken dat hul selfs dit waarmee hul sukkel makliker en meer positief aanpak. Daarby help dit hulle om vroeg reeds te ontwikkel in ‘n rigting wat waarskynlik hul loopbaan gaan word of gaan bydra tot loopbaan sukses. Hoe meer tyd ons immers aan iets spandeer hoe beter raak ons daarmee.

As jou kind hierdie bou blokke het kan hulle wanneer hul weet wat hul met hul lewe wil doen die uitdagings aanpak wat nodig is om daar te kom. En ja, skoolkinders het nodig om dieselfde vaardighede aan te leer. Ouerbetrokkenheid, en nie die kurrikulum, skool of buitemuurse aktiwiteite nie, is die belangrikste faktor om kinders te help ontwikkel om hul volle potensiaal te bereik.

Categories: Tuisonderrig | Sleutelwoorde: , | Lewer kommentaar

Hoogtepunte van 2020

Soos hul sê agterosse kom ook in die kraal. 2020 voel soos eeue terug en ek kom nou eers daarby uit om ons hoogtepunte van die jaar te laai.

Ek het einde laas jaar al ‘n lysie gemaak van wat ek wou laai en het die intussen weer verloor. Julle sal dus maar met ‘n beeld weergawe tevrede moet wees en kans is goed dat ek dinge gemis het.

Wat ek nie in beeld kan deel nie is al die aanlyn dinge wat ons beleef het agv die grendelstaat. Ons het SpaceX se vaart na die Internasionale Ruimte Stasie gevolg, heerlike die ballet stukke “Swan lake” en “Nutcracker” gekyk en Phantom of the Opera en Andrea Bocelli geluister/kyk.

Ons het weer die Nuwe Jaar ingewag met ‘n gesinspele en aand van pret en plesier
Ons was bevoorreg genoeg om te gaan luister na die SU filharmoniese orkes. Wat ‘n belewenis!
Ons het die Rupert museum besoek as deel van die Woordfees en Pierneef en van Wouw se kunswerke beleef. Die kinders was gefasineer deur die akkedis detail op een van van Wouw se beeldhouwerke.
Gelukkig het ons vroeg konsert gehou (min wetend dat ‘n tweede konsert nooit sou kon plaasvind nie). My introvert dogter het ontpop in ‘n seremoniemeester! Later in die jaar het ons ‘n Kroontjiekiem konsert gehou. Ons vriende van naby en ver het videos van hul items in gestuur wat my oulike sus saam geredigeer het en almal in hul eie huise na kon kyk. Dit was heerlik om al die gesigte weer te sien na al die tyd in die grendelstaat.
My 3 het ure en ure van saam speel gehad.
Vir 3 maande lank het die drie elke dag getrou geoefen. Hulle is by verskillende gimnastiek klubs en ons het die 2 se Coronastics en Movid programme gekombineer, sodat hulle saam kon oefen.
Die drie het die tweede helfte van die jaar elke maand aan ‘n virtuele landloop deelgeneem. Dit was heerlik om te sien hoe hul tye verbeter het. Ons oudste het 4 km in 19:43 gehol, middelkind 3km in 14:52 en jongste 1km in 5:20 in die finale landloop van die jaar.
Ons middelkind het die grendelstaat benut om stories en liedjies te skryf wat sy begin verkoop het by Salomie se Storiehoekie.
Ons het baie dinge onder die mikroskoop ontdek.
Ons gesin het ‘n nuwe lid bygekry. Een wat lekker skade aanrig in die groentetuin!
Die oudste 2 het elke ‘n besigheid in geskryf vir die besigheidsbytjie kompetisie
Hulle het ook resensies geskryf vir Homeschool Beats en ons knaap het die wenresensie gekryf.
Ons het geleer van insekte!
En van 9 nuwe lande.
Dit was vir my ongeloofik met watter oulike idees my meisiekinders se gimnastiek klub vorendag gekom het om hulle gemotiveer te hou deur die deurmekaar jaar. Hulle het tydens grendelstaat ‘n virtuele klubkompetisie gehou, terug by oefening het die seniors ‘n “Challenge cup” gehou en die jaar is afgesluit met ‘n klubkompetisie. Die afrigters het soveel moeite met die meisies gedoen om die jaar ook vir hulle spesiaal te maak.
Klubkompetisie om die jaar af te sluit.
Ons het heerlik uit ons knaap se groentetuin geëet. Hy werk baie hard om die tuin so mooi instand te hou en uit te brei
Al drie die woelwaters se harde werk is beloon met pragtige Conquesta resultate! Hulle het ook baie goed gevaar in die Living Math Olimpiade. Die jongste 2 het onderskeidelik 1ste en 2de in hul graad geëindig en ons knaap het met ‘n 2de plek in sy graad en ‘n 3de plek in die volgende graad weg gestap.
Ons knaap het heerlike projekte gebou deur die jaar van hidrolise stelsels en lego karre wat krag genereer tot rekkie gewere en ‘n afstandbeheerde boot. Hy het DK boeke se Inventor Lab ongelooflik baie geniet en net so baie geleer in die proses. Hy het selfs een van sy eksperimente gedeel.
Ons jongste is mal oor kuns en gaan deur papier teen ‘n spoed wat my asem wegslaan. Ek is egter mal oor haar skeppings.
Middelsus skep ook graag en is besonder lief daarvoor om alles in mikroformaat te doen Hoe kleiner hoe beter vir haar.
Die jaar se harde werk is ook beloon. Middelsus het 2 goud en 2 silwer medaljes gewen by Gimnastiek Suid-Afrika se virtuele nasionale kompetisie.
Ons het die jaar afgesluit met ‘n baie oulike Natuur Adventskalender.
Categories: Alles in 'n dag, Tuisonderrig | Sleutelwoorde: , , | 4 Kommentaar

Die boksies wat druk

Terwyl ons kinders klein is verstaan ons dikwels dat kinders nie teen dieselfde spoed ontwikkel nie. Almal sit nie op presies 6 maande nie en loop teen 12 maande nie. Almal is ook nie van die doeke af op 2 nie.

My oudste meisiekind is amper 12 en het nog net 8 tande gewissel. Meeste van haar maats het daar getrek rondom 9! Daar is niks fout met haar nie en niks wat ek kan doen om die tande wissel aan te hits nie. Hoekom sou mens in elk geval wou?

Ons verstaan dit as dit by gewone kinderontwikkeling kom, maar glad nie as akademie in die prentjie kom nie. Dan moet elke graad 1 dieselfde werk kan baasraak. Dis effe onrealisties.

Juis om daardie rede sal jy vind dat baie tuisskolers nie vreeslik gek oor grade is nie. Meeste van hulle het ontdek dat hul kind akademies nie in een graad is nie. Hul mag ‘n graad voor wees in van die vakke en ‘n graad agter en ander.

Ek vermoed skoolma’s sien dit ook, hulle maak net nie altyd die korrelasie dat ‘n kind wat baie goed in een vak is dalk eintlik ‘n graad voor is en dat die vak waarmee hulle spook hul waarskynlik net nog in die vorige graad ontwikkelings gewys is nie.

Dit strek egter wyer as dit. Ek is oortuig die boksies (grade) waarin ons kinders plaas is ‘n groot hindernis. Nie net pootjie dit die wat dalk ‘n paar maande later eers reg is nie. Maar dit pootjie ook die wat voor is.

Hoekom sê ek so? Ek is oortuig dat kinders vasgevang word in die verwagtinge van hul graad. Dit perk hul in. Ek gaan my oudste as voorbeeld gebruik.

Vroeg reeds het ek besef sy kop werk anders. Alles om hom sien hy in hoeveelhede en patrone en die verwantskappe tussen dit. Hy sou op 5 in ‘n Playball les in gestap het en dadelik getel het hoeveel vorms daar is, seker gemaak het al die maatjies is daar (elk het ‘n vorm gehad waarop hul moes staan) en dan begin apparaat tel het en gesê het daar is te min hoepels, of twee twee kinders gaan ‘n bal moet deel.

Hy was mal oor somme maak. Daarom het ek in graad R hom reeds ingeskryf vir Living Maths se Wiskunde olimpiade se graad 1 vraestel en hy het 1ste in die land geëindig. Hy het nooit gedink dis juis ‘n prestasie nie. Dit was net iets lekkers om te doen. So het hy die volgende jaar 1ste in graad 2 gekom, en die jaar daarna 2de in graad 3.

Alles het goed gegaan tot in graad 3. Teen daardie tyd is al wat almal mos ‘n kind vra as hul hom/haar ontmoet, “Watter graad is jy?”. Ek het besef ek sal moet plan maak dat my kinders nie soos skape mense aanstaar as hul die vraag kry nie. Ek het hul dus mooi geleer dat hy in graad 3 is en jonger sus in graad 1.

En net daar het die probleme begin. Daardie jaar toe ek die graad 4 olimpiade vraestel voor hom neersit weier hy botweg om dit te skryf. Hy is nie graad 4 nie. Hy moet die graad 3 vraestel skryf. Ek het mooi gepraat, gesoebat, verduidelik hy het reeds die vorige jaar graad 3 geskryf en net een vraag verkeerd gehad.

Alles verniet. As hy graad 3 is moet hy die graad 3 vraestel skryf. So tot my groot frustrasie het hy toe maar weer graad 3 s’n geskryf. Daarna het ek hom elke jaar probeer oortuig om een graad op te probeer. Of dan ten minste na hy sy eie graad s’n geskryf het ook die volgende graad te probeer. Sonder enige sukses. In sy kop was dit net nie moontlik om ‘n graad hoër se vraestel te doen nie. Hy’t steeds goed gevaar, 2de, 1ste en 3de in die volgende 3 jaar gekom.

Laas jaar het ek weer probeer en uiteindelik tot my groot vreugde sukses behaal. Hy was bereid om na hy die graad 7 geskryf het ook die graad 8 te probeer. Ongelooflik genoeg het ek selfs sy arm gedraai om die graad 9 te skryf.

Die gevolg. Hy het 2de in graad 7 gekom en 3de in graad 8. Hy het selfs 20 van die 25 vrae vir graad 9 reggekry!!!

Voor jul dink die ma is net aan die spog (en ja ek is trots) is dit nie my punt nie. Die punt is hy het homself beperk. Hy het limiete op sy eie vermoëns geplaas en nie eers probeer om sy volle potensiaal te bereik nie. Bloot omdat hy die boksie stelsel van grade geglo het!

Ek kan net wonder waar hy sou trek as hy elke jaar wiskunde volgens sy vermoeë aangepak het ipv volgens sy graad? As hy reeds laas jaar met graad 8 werk begin het?

En nee ek dink nie ons moet kinders konstant uitdaag nie. Ek glo hul het die ruimte nodig om teen hul eie pas te ontwikkel. Ek vermoed dat ons hope kinders se potensiaal onderdruk, maar daar is ook hope kinders wat glo hulle is te dom / te stadig / nie goed genoeg nie, bloot omdat hul eintlik net ‘n paar maande ekstra nodig gehad het om daar te kom.

Daardie selfde wiskunde kind van my is een van hulle ook. Taal en lees kom nie natuurlik vir hom nie. Hy het meer tyd nodig as baie ander om dit baas te raak.

As jy die voorreg het om jou kinders tuis op te voed, benut dit ten volle. Moenie dat die boksie van grade hulle vasvang nie. Beweeg so vinnig of stadig soos dit vir hulle nodig is nie.

As jou kinders in die skool is, en jy nie so maklik uit die boks kan klim nie, is dit steeds die moeite werd om oop gesprekke met jou kind(ers) te hê. Om gereeld vir hom/haar te verduidelik dat meeste van ons nie regtig in die graad boksie pas nie. Dat jy nie slim of dom is bloot omdat jy goeie of slegte punte kry nie. Leer hul om hul eie potensiaal te bereik en dat dit goed genoeg is!

Categories: Graad 7, Tuisonderrig, wiskunde | Sleutelwoorde: , , , | 3 Kommentaar

Oolfant Januarie aanbiedinge

Oolfant het 2 ongelooflike Januarie aanbiedinge, perfek om die nuwe jaar met fantastiese produkte in Afrikaans af te skop.

Die eerste aanbieding is ideaal vir nuwe skoolskool gesinne en sluit die 21 dae na sukses as tuisskoolma in wat jou sal help om jou voete te vind om die nuwe avontuur van tuisonderwys met selfvertroue aan te pak. Daarby is ook ingesluit Marisa Haasbroek se 5 taalkursusse (15 minuut Afrikaans, Sinne wat sing, Kom ons skryf ‘n opstel, Spel sonder sukkel en Die genot van gedigte).

Die pakket het ook 5 skitterende bonusse by leer net meer opwindend sal maak in ander areas. Die vyf gratis bonusse:

  1. ʼn R300 afslagkoepon op “Voetspore”. Die splinternuwe eenheidstudie, lewendeboek gebaseerde leerplan.
  2. Intekening by die aanlyn kursus “My French Adventure” van Rosa Scheepers ter waarde van R300
  3. 3 maande se intekening by Luistervink Stories, Hannekie Verwoerd se webwerf waar sy stories voorlees, ter waarde van R300
  4. ʼn Somme(r) Pret Wiskunde geskenkpak van my produkte ter waarde van R90 (‘n Somme(r) Pret e-boek van jou keuse plus R50 van enige van my produkte).
  5. ʼn Opleidingsvideo deur Janet Kieswetter van Kieswetter Klaskamer oor leer lees ter waarde van R50

R5846 se waarde vir slegs R2999. Jy spaar dus ‘n ongelooflike R2847! (Dus amper dubbel die waarde van jou aankope!)

Die tweede aanbeiding sluit Marisa Haasbroek se 5 taalkursusse (15 minuut Afrikaans, Sinne wat sing, Kom ons skryf ‘n opstel, Spel sonder sukkel en Die genot van gedigte) plus 3 gratis bonusse:
1. Intekening by die aanlyn kursus “My French Adventure” van Rosa Scheepers ter waarde van R300
2. 3 maande se intekening by Luistervink Stories, Hannekie Verwoerd se webwerf waar sy stories voorlees, ter waarde van R300.
3. ʼn Somme(r) Pret Wiskunde geskenkpak van my produkte ter waarde van R90 (‘n Somme(r) Pret e-boek van jou keuse plus R50 van enige van my produkte).

R 3486 se waarde vir slegs R1999. Jy spaar dus ‘n ongelooflike R1487!


Meer oor die aanbiedinge by https://oolfant.com/. Aanbieding geldig tot en met 31 JANUARIE 2021 (nuwe bonusse is ongelukkig net geldig vir nuwe aankopers).

Categories: Tuisonderrig | Sleutelwoorde: , , | Lewer kommentaar

Op ons boekrak 2020

Soos baie dinge in 2020 was dit nogal ‘n uitdaging om boeke vir voorlees te vind. Ons het op die ou end ‘n e-boek en ‘n hele klomp “audio” boeke bygevoeg om aan te vul.

Ten spyte van die uitdagings het ons heerlike stories gelees! My 7 jarige geniet nie altyd al die stories wat my 11 en 13 jarige geniet nie. Daarom lees ek vir haar ander stories ook voor wat meer op haar vlak is.

(Ons leeslyste vir die vorige jare kan hier gevind word – 2019, 2018 2017, 2016, 2015, 2014, 2013 en ons gunsteling lewende boeke.)

Die boeke wat ek spesiaal vir ons 7 jarige gekies het (maar wat die oudste 2 meestal ook lekker saam luister aan) was:

Heidi se vriende – Spyri
Hallo, Vos! Hallo, Haas! – Sylvia Vanden Heede
Pippie Langkous – Astrid Lindgren
Timmertak se nuwe avonture – Peet Ellison (het towery in)
Pippie Langkous gaan aanboord – Astrid Lindgren
Pippie Langkous en die Suidsee – Astrid Lindgren
Pinokkio – Carlo Collodi (fee en towery)
Jamie en Sebastiaan en die storiemol – – Martie Kruger en Martie Preller
Lana en Rakker: Speeltyd vir Rakker– Holly Webb
Lana en Rakker: Die pajamapartytjie – Holly Webb
Wolf en hond – Sylvia vanden Heede
Die stoutsterte poot aanwal – Marianna Brandt
Die stoutsterte van Texel tot TafelbaaiMarianna Brandt
Peps – Erica Lillegg
Jamie en Sebastiaan – Martie Kruger en Martie Preller

Ons voorleesboeke vir die jaar was:
Pilatus tot Molshoop – Jan Spies
Soldier dog – Sam Angus – Honde wat in die 1ste wêreldoorlog gebruik is om boodskappe te stuur.
Gelofteland – FA Venter
Die Reisiger – Karel Schoeman.
Around the world in 80 days – Julius Verne (gratis e-boek)
Gulliver van Lilliput – Jonathan Swift
Die kleine Maja en haar avonture – Waldemar Bonsels
Gulliver’s Travels: A Voyage to Brobdingnag – Jonathan Swift
Oor die nek van die draak – Maretha Maartens
Ruiter in die nag – Mikro
Geliefde Generaal – Pieter W. Grobbelaar – lewens verhaal van Generaal JBM Hetzog 1866 – 1942
Held van Colenso – CJ Scheepers Strydom – Lewensverhaar van Generaal Louis Botha. (Nie ‘n lewende boek nie en my kinders het dus swaar geluister, maar dit is interessant om die boereoorlog, en politiek daarna, uit ‘n ander generaal se oogpunt te sien)
Kinders van die wêreld 3

Audioboeke wat ons geluister het (gratis van Audible en stories wat Dawid Walliams beskikbaar gestel het tydens Lockdown):
The Green Ember – S. D. Smith
20 000 leagues under the sea – Jules Verne
Angus Mouse – Montice L. Harmon
The Case of the Prowling Bear – John R. Erickson
The Case of the Swirling Killer Tornado: Hank the Cowdog – John R. Erickson
The Case of the watermelon patch: Hank the Cowdog – John R. Erickson (My kinders het die 3 Hank stories baie geniet en heerlike gelag. Dit bevat wel toilet humor)
Worlds worst children 1 – Dawid Walliams
Worlds worst children 2 – Dawid Walliams
Worlds worst children 3 – Dawid Walliams
Bad dad – Dawid Walliams
Ice Monster – Dawid Walliams
Danny Meadow mouse – Burgess
Happy Jack – Burgess
Saving Lilly – Peg Kehret
Fox and the squirrel – Sheila Gandhi
Shelter dogs: Amazing Stories of Adopted Strays – Peg Kehret
Grandpa’s great escape – Dawid Walliams

Ons jongste het ook ‘n hele klomp Luistervink Stories geniet, maar ek was ongelukkig nie oulik genoeg om die titels neer te skryf nie.

Categories: Graad 1, Graad 5, Graad 7, Ons lees, Tuisonderrig | Sleutelwoorde: , , , | 1 Kommentaar

Insekte kopieerboek

Die jaar wou my meisiekinders weer van insekte leer. Ek het eers kop gekrap, want omdat my kinders almal gogga mal is het ons al heelwat van insekte oor die jare geleer.

Uiteindelik het ek besluit om met hulle die insekte deel van Exploring Creation with Zoology 1: Flying Creatures of the Fifth day deur Fulbright te doen. Dit het ons die grootste deel van die jaar geneem om deur die 7 hoofstukke te werk. Hoofsaaklik omdat ons dit tweetalig gedoen het. Dit is vir my belangrik dat my kinders die terme ook in Afrikaans ken.

Wat ek hou van die boek is dat dit soos ‘n storie lees en klem lê op die hoe wonderlik God die natuur gemaak het. Ons het so baie nuwe wonderlike dinge van die klein gediertes om ons geleer.

In die proses het ek ‘n kopieerboek oor insekte begin skep vir my kinders. Kopieerboeke is ‘n lekker manier om taal, woordeskat en leestekens te oefen. En natuurlik pret te hê in die proses.

Insekte kopieerboek: Deel 1 fokus op Exploring Creation with Zoology 1: Flying Creatures of the Fifth day deur Fulbright se Lesse 1, 9, 10 en 1. Dit is propvol insekte inligting en woordeskat. Dit bevat onder andere teksverse, sowel as aktiwiteite soos doolhowe, teken, prente kopieer, patrone uitbrei, woordsoeke, ‘n blokkiesraaisel en inkleur. Temas wat gedek word is dierkunde, ‘n algemene insek terme, hul lewensiklusse, en leefstyl, asook sosiale insekte (miere, heuningbye, wespe en termiete.

Ek moes egter heelwat ander bronne inspan om al die Afrikaanse woorde te vertaal oa die Wêreldspektrum, Sasol se Eerste veldgids tot Insekte van Suider-Afrika en Google se e-verken Insekte.

David Attenboroughs se Conquest Of The Skies (Seisoen 1, Episode 1) het ook ongelooflike beeldmateriaal van insekte. (Die episode bevat wel evolusie teorie.)

Nog oulike bronne om in te span is Ontdek insekte en Insektopedie.

Om die kopieerboek te bestel gaan na Kopieerboeke.

Categories: Tuisonderrig, Uncategorized | Sleutelwoorde: , , , | 1 Kommentaar

Twee groot mylpale

Dit is einde van die jaar en ek is besig met ‘n terugblik op die jaar om ons hoogtepunte uit te haal. In die proses besef ek daar is 2 groot mylpale wat ek graag met julle wil deel.

Die eerste is so bietjie bittersoet. Ons is op ‘n punt waar ek vir ‘n paar dae sou kon verdwyn en die kinders sou op hul eie die huishouding kon hardloop. Dit is ‘n trotse oomblik, maar bring ook ‘n stekie hartseer as jy besef hulle het jou nie meer op daardie vlak nodig nie.

Hulle sal kan sorg vir ontbyt tot aandete. Skottelgoed was en wegpak. Hulle maak lankal als skoon wat nodig is (ons huis is sekerlik nie skou gehalte nie, maar dis lekker dat hulle dit self kan doen).

Met die dat ons besef het gimnastiek en skottelgoed was werk nie so lekker saam nie, het ons oudste meisiekind besluit dan sal sy die wasgoed oorneem. So nou was sy wasgoed, hang op en maak weer hopies skoon klere vir almal om te gaan bere. Regtig handig!

Ons knaap is so knap met die tuin en maak sommer in ‘n japtrap goedjies in en om die huis reg. Net die ander dag het hy al die slotte en skarniere geolie (want hy was verveeld).

Ons jongste het ook uiteindelik die opruim ding bemeester. Dit is soveel moeiliker vir kinders om op te ruim as om ander huiswerkies te doen. Opruim het net so baie stappe en beplanning wat nodig is dat kinders daarmee sukkel. En natuurlik is dit dikwels net vir ons makliker om dit self te doen as om by te staan en hulle stukkie-stukkie te lei om te leer om dit self te doen. Ek weet, want my ander 2 kon heelwat vroeër al dit self doen, maar met die jongste het ons langer gevat om daar te kom. Ouboet, ousus of ek kon immers baie makliker gou inspring en klaar maak.

Die tweede groot mylpaal is om hulle self motivering te sien. Natuurlik werk ons jare al daaraan dat hulle selfstandig kan werk. In die huis maar ook met skoolwerk. Dit lekker om die jaar se beplanning te kan doen en vir hulle elke week werk uit te sit wat hulle self bestuur en klaar maak na goed denke. Ons 11 jarige moet ek nog so nou en dan herinner dat die week vorder en als nog nie klaar is nie, maar ouboet gaan 100% op eie stoom voort. Hy sal selfs sy week beplanning aanpas as hy besef daar gaan iets wees wat met sy normale skedule inmeng.

Met die grendelstaat het ek besef hoe noodsaaklik daardie vaardighede is. Skielik was daar nie meer gimnastiek oefening elke dag nie. Ons het gepraat oor hoe oefening help om gemoedere hoog te hou en hulle het ook besef dat hulle fiks wou bly sodat hulle kan reg wees as hulle weer kon begin oefen.

Vir 3 maande het hulle elke weeksoggend opgestaan en na ontbyt vir 1.5-2 ure geoefen. Menigte oggend was 1 van hulle nie lus nie, maar hulle het deur gedruk. Tuis oefeninge is nie naastenby so opwindend soos om op apparaat te kan werk en nuwe vaardighede aan te leer nie. Daar is nie afrigters wat help motiveer of maats om dit lekker te maak nie.

Om elke dag net te werk aan krag, stamina en soepelheid is nie hope pret nie. Daar is geen erkenning of kort termyn beloning in dit nie. Dit vat tonne deursettingsvermoë en interne motivering en ek is trots daarop dat hulle dit kon doen. Ek is oortuig dat dit ‘n vaardigheid is wat hulle net kan help om eendag suksesvol te wees en nie afhanklik van ander om iets te bereik of om gelukkig te voel nie.

Skielik besef ek hierdie was nie so ‘n verlore jaar soos wat dit gevoel het nie. Wat het jou kinders hierdie jaar bereik? Aan watter vaardighede het julle gewerk? Of beplan julle om volgende jaar aan te werk?

Categories: Ouerskap, Tuisonderrig | Sleutelwoorde: , , , , , | Lewer kommentaar

Genoeg

Dis einde van die jaar, ‘n besondere lang en uitdagende jaar, en almal is moeg. As jy met mense, veral kinders, werk sal jy weet dat dit ‘n ander vlak van moeg is. Onderwysers sal van daardie kan getuig en tuisskoolma’s is niks anders nie.

Dis ‘n groot voorreg om jou eie kinders te kan opvoed, maar dit maak dit nie minder dreinerend nie. Ons is net mense wat ook moeg raak.

Anders as onderwysers wat aan die einde van die jaar dankie briefies en geskenkies kry, word tuisskoolma’s egter dikwels aan die einde van die jaar bevraagteken deur wel bedoelende familie en vriende.

Is jou kinders op standaard? Hoe weet jy hulle is reg vir die volgende graad? Is jy seker hulle het alles geleer wat hulle moes? Dink jy nie jou kinders moes al x, y of z gedoen het nie? Of erger nog; dink jy nie jy moet eerder jou kinders in die skool sit nie?

Dit is nie maklik om op die emosionele laagtepunt in die jaar met dit ook nog gekonfronteer te word nie! So vandag wil ek vir jou, Mamma (of as jy ‘n Pappa is wat tuisskool) sê “Jy is genoeg!”. Jou tyd en liefde en aandag is genoeg. Bêre al daardie onsekerheid. Skep ‘n slag asem en herlaai jou batterye.

Jy het miskien hierdie jaar ‘n paar foute gemaak. Wie het nog nooit foute gemaak nie? Nie een onderwyser sal vir jou kan vertel dat hulle ‘n foutlose jaar gehad het nie. Dat daar nie iets was wat hulle anders sou wou doen nie. Iets wat hulle nie sou wou regmaak volgende jaar nie. So hoekom verwag dat jy nie ook soms dinge verkeerd gaan doen of verkeerd aangaan pak nie.

Voor jy hierdie jaar afskryf as ‘n verlore jaar gaan sit eers en kyk wat julle wel bereik het. Marisa Haasbroek van Oolfant het ‘n oulike terugblik op die jaar wat jy kan voltooi as deel van haar gratis kursus “Skop tuisskool suksesvol af met hierdie gratis hulpbronne“. Of gaan skryf sommer net self al julle hoogtepunte neer. Ek doen dit elke jaar en is altyd stom geslaan. Mens vergeet so vinnig wat julle alles gedoen het. Ek praat ook nie net van akademie nie. Hoe het jou kinders emosioneel gegroei? Aan watter karaktereienskappe het julle die jaar gewerk? Daar is soveel meer aan kinders onderrig as bloot feite leer. Lewensvaardighede wat vir hulle op die langtermyn meer gaan beteken as boeke kennis.

Dan eers na jy goed ontspan het en weer nuwe moed vir die jaar het kan jy gaan sit en kyk wat jy anders wil doen in die nuwe jaar. Onthou Rome is nie in ‘n dag gebou nie. Kies een ding / area wat jy wil verander en fokus daarop in die nuwe jaar. Dit klink eenvoudig, maar elke jaar se bietjie maak ‘n langtermyn verskil. Dit is die klein verstellingtjies wat ons help om koers te hou.

En moenie vergeet dat ons ‘n God het met ‘n hart vir kinders nie. Joune ook! Hy weet wat ons kinders wanneer nodig het, veel beter as wat selfs ons weet. Vertrou Hom dat Hy ten spyte van ons tekortkomings alles vir hulle ten goede laat mee werk.

Mag julle die nuwe tuisskool jaar met nuwe moed en durf aanpak!

NS. Daar’s geen beter tyd as nou om ‘n tuisskool vriendin op die skouer te klop en haar te bemoedig nie. ‘n Klein woorde om te wys dat jy raak sien wat sy hierdie jaar met haar kinders bereik het, maak ‘n reuse verskil.

Categories: Alles in 'n dag, Tuisonderrig | Sleutelwoorde: | Lewer kommentaar

‘n Skoolkamer

So dikwels hoor ek nuwe tuisskolers vra vir hulp of idees om hul skoolkamer in te rig. Baie voel benoud, omdat hulle nie ‘n ruimte vir ‘n skoolkamer het nie.

Wel die goeie nuus is; jy het nie ‘n skoolkamer nodig nie! Vir die eerste keer het ons nou ‘n “skoolkamer”. Of soos my jongste dit noem “die biblioteek”. Vir 13 jaar was dit wat ons vir skool gebruik het hier, daar en oral waar ek ‘n gaatjie kon kry om dit te bêre.

Natuurlik geniet ek die nuwe ekstra vertrek. Ek kan al ons boeke, kunsgoed en opvoedkundige produkte saam bêre. Dit voel vir my asof daar meer orde is. Dis makliker om die huis netjies(er) te hou. Maar buiten daarvoor is die realiteit dat ons steeds die huis (en erf) vol leer.

Die kinders verkies dit steeds om rondom die eetkamertafel saam te werk. Of buite by die stoeptafel. Ons krul steeds op die bank op om stories te lees. Of kies ‘n lekker son / koeltekol (afhangende van die weer) daarvoor. Hulle hou hul steeds met projekte besig in hul kamers of in die motorhuis of tuin.

“Die biblioteek” is wel ‘n lekker plek om te gaan wegkruip as jy bietjie stilte soek (wel tot iemand jou daar ontdek). En vir die eerste keer kan die kinders ‘n spel Monopoly of skaak daar begin en dit los tot later, sonder dat dit weg gepak hoef te word voor ete. En die lessenaar het ‘n kunsstasie geword waar hul net weer kan aangaan wanneer hul lus het.

‘n Skoolvertrek is dus ‘n heel handige ding, solank jy besef dis nie ‘n noodsaaklikheid of dat leer net daar kan gebeur nie!

Categories: Tuisonderrig | Sleutelwoorde: | Lewer kommentaar

Leer jou kind lees

2021 lê en loer vir ons en daarmee saam is menigte nuwe tuisskoolma besig om kop te krap oor hoe om haar kind te leer lees volgende jaar. Ek weet nie van julle nie, maar met my oudste het dit behoorlik my broek laat bewe. Wie van ons besef nie die belangrikheid van lees nie? Is dit nie die basis waarop alle leer gebou word nie?

En dan kyk jy rond en sien al die peperduur leesprogramme, wat net jou vrees bevestig dat om kinders te leer lees ‘n ingewikkelde storie is. Word dit nie immers bevestig deur die groot persentasie kinders wat met lees probleme spook nie?

Om dinge te vererger word jy gebombardeer met botsende raad. Gebruik hierdie sigwoorde. Nee, leer hul eerder foneties lees. Beter nog meng die twee. Die een beweer jy kan jou 4 jare leer deur op als in die huis woorde te plak, ander sê wag tot later. Dis genoeg om jou hare uit jou kop te kan trek.

Voor jy hol vir die berge, dit is makliker as wat jy dink.

So hier was my antwoord aan een van vele ma’s wat met al die vrae rondloop.

Ek dink die botsend raad het 2 oorsake.

Eerstens het ons ‘n prestasie gedrewe samelewing geraak. Die arme kinders is nog in doeke dan wil ons kyk wie se kind kan die eerste sit, kruip, loop of van die doeke af kom. En kort voor lank begin jy dink daar is fout met jou kind as hy nie ook so vroeg iets kon doen nie.

Die gevolg is dat ons vroeër en vroeër wil hê kinders moet kan lees en deur ander akademiese hoepels spring. Die ironie is dat ons juis in die proses krities belangrike dinge deur die krake laat glip. Onder 7 moet ons fokus wees om die vastibulere stelsel en om propriosepsie te ontwikkel wat so krities is vir latere lees en wiskundige begrip (dit het alles te doen met fisiese aktiwiteite en buite speel tyd). Ons moet werk aan speel, sodat kinders probleem oplossing en kreatiewe denke kan ontwikkel. In my opinie is dit juis die tekortkoming wat veroorsaak dat so baie kinders deesdae leerprobleme het. Hulle kan nie die mas op kom nie, want hulle is fisies nie sterk genoeg vir die uitdagings nie.

Tweedens is meeste leesmetodes gegrond op hoe om Engels te leer lees. Engels is ‘n uitdagende taal om te leer lees. Daar is net te baie woorde wat geleen is uit ander tale en waarvan die spelling nie foneties sin maak nie. Om bloot die kinders foneties te leer is dus ‘n lang opdraande stryd en gevolglik het hul met allerhande planne vorendag gekom om kinders vroeër te kry om die woorde te kan lees.

Afrikaans is genadiglik nie dieselfde nie. Ons het nie allerhande “tricks” nodig om ons kinders te leer lees nie. Hulle het bloot die bou blokke nodig. As hul die klanke van die verskillende letters ken en hul ore geoefen is (hul fonetiese bewustheid het) gaan die res self in plek val. Jy gaan nie ‘n duur kurrikulum nodig het nie, jy gaan nie ure hoef te swoeg en sweet nie. Dit gaan net gebeur. En ja, as dit gebeur gaan jy nog geduldig moet saam met hul sit terwyl hul stadig klank en jy gaan hul belangstelling moet aanmoedig deur saam te lees, sodat die storie nie vervelig en uitputtend raak nie. Maar dis dit. Jy’t net tyd en geduld nodig.

Maar net soos magietyd jou baba gehelp het om fisies sterk genoeg te raak vir sit en kruip, is daar eenvoudige dinge wat jy kan doen om lees vir hulle makliker te maak.

Die eerste is om te fokus op fisiese ontwikkeling soos ek hier bo genoem het. Genoeg buite tyd; swaai, rol, hang, sodat hul onder andere ruimtelike bewustheid kan ontwikkel. Dit help om te verstaan dat hoe ‘n letter geskryf is op die bladsy belangrik is (‘n p en d is dus nie dieselfde letter net onderste bo nie, ‘n b en d is nie dieselfde letter net gespieëlbeeld nie). En sodat hul kan leer om van links na regs te lees en die reël kan volg.

Die tweede is om hul woordeskat te bou sodat dekodering van die woorde wat hul moet lees makliker is. Dis makliker om ‘n woorde te herken wat jy reeds ken as om ‘n woord wat jy nog nooit gehoor het nie te lees. Voorlees is die eenvoudigste manier om woordeskat te bou. Om nie te praat van al die ander voordele wat dit inhou nie.

Die derde is om hul ore te oefen. Kan hul hoor met watter klank begin ‘n woord, of watter woorde rym met mekaar. Om rympies te lees en woordespeletjies te speel help baie hiermee. Wat sien jy wat met ‘n “k” begin? En maak saam lawwe rympies op.

En voor jy jou oë uitvee sit jy met jou hande in jou hare, omdat hul nie hul neuse uit ‘n boek kan hou nie.

Geniet die avontuur. Dis so ‘n kosbare tyd saam, maak die beste van elke oomblik eerder as om nou al in akademie verstrengel te raak.

NS. Loer gerus na https://lomi.co.za/2014/01/24/letter-pret/ en https://lomi.co.za/2014/04/03/letter-pret-2/ as jy na idees soek om klanke te leer.

Categories: Tuisonderrig | Sleutelwoorde: , , | Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.