0

Projek Gebaseerde Leer

7 May 2024
Share
Ek hou daarvan om verskillende benaderings van leer te kombineer. Ek het al dikwels geskryf oor hoe ons lewendeboeke inspan en ander Charlotte Mason gebaseerde idees. Tog is projekgebasseerde leer ook een van ons ander gunstelinge.

Entrepeneurskap is een voorbeeld van projekgebaseerde leer waaroor ek al geskryf het. My oudste 2 het al baie projekte aangepak om op die manier geleer. Kleinsus het egter heelwat minder dit gedoen. Daarom toe sy begin van die jaar met die idee kom om ‘n tydskrif te skep het ek dit aan gegryp.
Tog het ek nie heeltemal mooi besef hoe baie sy met die projek sou leer nie. Daar was wel tye wat ek my hare uit my kop wou trek. Die juffrou is baie onafhanklik en was nie altyd gelukkig as ek moet wys hoe om sekere programme te gebruik nie. Of as ek met alternatiewe voorstelle gekom het om iets aan te pak. Ek moes gereeld hoor “ek wil dit self doen”, maar hoe sy dit self wil doen sonder om eers bietjie tou wys gemaak te word was ‘n ander storie. 
In die hele proses het sy navorsing gedoen, haar eie kunsvlyt idees op papier gesit. Leer werk in ‘n woordverwerker en GIMP. Sy’t vinniger leer tik, geleer van bladuitleg, voorblad ontwerp, inhoudsopgawes, proeflees, van lisensies wat nodig is as jy prente gebruik wat jy nie self geskep het nie. Sy’t self prente geskep, ‘n resensie en redaktrise brief geskryf, aktiwiteite saam gestel en selfs ‘n speletjie uitgedink. Sy’t selfs aan sussie se arm gedraai om vir haar ‘n storie te skryf (hopelik sal die later as luisterstorie ook beskikbaar wees by Salomie se Storiehoekie). Waarskynlik was die mees uitdagende deel van die projek om haar maats aan te moedig om ook bydraes te stuur. Dit is iets wat sy nie verwag het nie, want sy het immers die eerste tema perde gemaak, omdat sy geweet het al haar maats is mal oor perde.Ek het nooit verwag dat sy by ‘n 45 bladsye tydskrif sou eindig nie. Sy aan die anderkant reken dit is nog heeltemal te kort. So deur die harde werk deur het sy dit baie geniet en deur gedruk al het die projek heelwat langer geneem as wat sy gedink het dit sou. Eintlik het sy nog ‘n klomp idees gehad wat daarin moes gaan. Sommige al half geskep, maar ek het net besef dit raak te lank en groot vir ‘n 10 jarige.
As jul haar projek wou ondersteun loer gerus na haar eerste Diere Maniere tydskrif oor perde, donkies en sebras. Haar volgende tema is katte (huis en wild) en sy sal enige bydraes ongelooflik waardeer!
 
Hou dus gerus jou oë oop vir oulik projek idees wat jou kind(ers) se aandag trek. Dit hoef beslis nie iets so groot soos hierdie projek te wees nie. Projekte is ‘n fantastiese praktiese manier van leer wat al die leerareas vir kinders saambring en hulle motiveer om meer te leer en doen. En hulle sommer beter toerus vir die lewe na skool.