0

‘n Wêreld vol fopnuus

4 May 2024
Share

‘n Rukkie terug het Janet Kieswetter van Kieswetter klaskamer ‘n paar plasings gemaak om mense bewus te maak van hoe KI (kunsmatige intelligensie (AI)) gebruik word om ons te mislei. Spesifiek rakende foto’s wat verander of geskep word om valse inligting weer te gee.

Ongelukkig strek die verspreiding van vals inligting veel verder as dit. Deesdae doen daar gereeld sosiale media boodskappe die rondte wat vals inligting versprei. Ek kon nog nie my kop kry rondom hoekom mense dit doen nie. Dit is nie soos ‘n poets wat jy op vriende of familie bak en jy kan sien hoe jy hul fop en dan lag almal agterna lekker saam daaroor nie. Hierdie word die kuberwêreld in gestuur, sonder dat die skepper werklik ooit die gevolge aanskou. Wat is dus die doel daarvan?

Hoe dit ook al sy dit kom algemeen voor. Mense buite ander se te kort aan algemene kennis uit en hul onvoorwaardelike aanvaarding dat alles wat hulle sien of lees ware akkurate inligting is. Ongelukkig is die wêreld te groot en vol inligting vir ons om altyd valshede uit te snuffel. Maar hoe meer ons weet hoe beter kan ons onsself beskerm teen die tipe misbruike.

Die realiteit is dat die skoolstelsel ons vatbaar maak vir die tipe ding. Ons almal is ‘n magdom oppervlakkige inligting geleer, wat beteken dat ons dink ons weet iets, maar eintlik weet ons net genoeg om mislei te kan word.

Die onlangse windstorms in die Weskaap is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Ons almal weet immers iets van weer. Ons weet iets van spoed en kan die skade sien. Maar ons weet nie genoeg om te besef dat as ‘n skermgreep (“screenshot”) wat ‘n rekord windstoot (windgust) van 303 km/uur en gemiddelde winde van 145km/uur aandui effe woes is nie.

Die media het winde van tot 139km/uur berig. Die syfers kry hul gewoonlik vanaf die SAWD. En ja ek weet die media berig ook dikwels maar power, maar in die geval was hul bron waarskynlik meer in die kol. Die fopnuus het ook die brokkie inligting verdraai, om dit te laat klink asof die berigte spoed die gemiddelde spoed was en dat die windstoot dus baie erger was.

Hoekom is ek nie oortuig dat die skermgreep waar is nie? Om windspoed bietjie meer in perspektief te plaas. Twaalf is die hoogste skaal op die Beauford skaal van windspoed met windspoed groter as 118km/uur wat as ‘n orkaan gedefinieer word. Op die Fujita-skaal vir tornados is ‘n F3 254-332km/uur. Dis die 3de ergste tornado’s wat voorkom en rig ernstige skade aan. Op die Saffir-Simpson skaal van orkaanintensietyd is die ergte kategorie 5 met windspoed van 250+ km/uur.

Indien ons hier in die kaap dus winde van 303 km/uur beleef het sou die skade aansienlik groter moes wees. Ja, hier was baie skade. Skole moes immers vir 2 dae sluit om skoolterreine weer veilig te kry om kinders te ontvang. Menigte dakke het afgewaai, ongelooflike baie bome het omgewaai (en saam met dit heinings en mure beskadig). Maar dis meer waarskynlik dat winde van 145km/uur hierdie klas skade aanrig as dat winde van 303km/uur dit gedoen het. Indien jy daaraan twyfel gaan kyk gerus na prente van hoe die skade lyk na ‘n tipiese tornado of orkaan.

Wat gee mens nog snuf in die nuus dat die prent na bewering van Windfinder wat versprei word gefabriseer is? Die plek waar die rekord na bewering gemeet is het nie ‘n weerstasie met data op Windfinder nie. Die naaste stasie waarvoor Windfinder data het is op Stellenboschfontein wat op ‘n berg geleë is. Die stasie het ‘n maksimum windstoot van net oor 140km/uur gemeet op die betrokke dag.

Terwyl Weather Underground (stokperdjie weerstasies) in die omgewing windstoot van tussen 80 en lae 90 km/uur gemeet het. Met gemiddelde winde van 60-70 km/uur.

Miskien is die probleem dat ons vinniger as dit met voertuie ry en dus nie besef watter skade winde van dieselfde spoed kan aanrig nie. Per toeval kom ek toe die week op ou weer rekords af in ‘n Sasol boek oor weer. Wat ook die windstootspoed beter in perspektief plaas.

In die tye wat ons leef is dit belangrik dat ons vir ons kinders leer dat alles wat hul sien of lees nie noodwendig die waarheid is nie. Dat daar ongelukkig mense in hierdie wêreld is wat dit om een of ander duister rede geniet om ander te mislei.

Ons enigste wapen teen hierdie misleiding is om meer in diepte kennis in te win oor soveel moontlik dinge was wat ons kan. Om diep te delf en nie net die oppervlak te skraap as ons oor iets leer wat vir ons interessant is nie. Ons kan dit nie doen vir alle inligting wat daar is nie, maar hoe meer van ons dieper kennis het hoe meer kan ons mekaar help om valse inligting uit te ken.

Ons kan ook ons kinders leer om nie net alles wat hul sien te deel nie. Indien hul nie kennis oor ‘n tema het nie is dit beter om of eers seker te maak dat dit akkuraat is, of net verby te blaai sonder om dit verder te versprei.

Toevoeging: Texas het ‘n 160km/uur (100 myl/uur) storm beleef 17 Mei 2024. Om ‘n idee van die skade wat die sterkte winde aanrig te kry kan julle loer na foto’s by https://www.texastribune.org/2024/05/17/texas-storm-photos-damage-power-outages/. Hoe bitter dankbaar voel ek dat ons April storm nie so erg was nie.