Ons oudste wou laas jaar al ‘n Junior Entrepeneurs stalletjie by KragDag bespreek het. Ek probeer egter altyd die eerste 3 maande van die jaar net kop-bo-water hou met alles wat op my bord is. Die jaar het ons egter besluit maller as kop af kan dit seker nie gaan nie.
Natuurlik toe ouboet ‘n stalletjie bespreek wil ons middelkind ook een hê. En as hulle 2 stalletjies het, MOET die jongste nie die aksie misloop nie! En voor ek my oë uitvee het 1 stalletjie 3 geword en wonder ek waarin ek my begewe het!!!
So tussen die atletiek chaos deur is hier behoorlik rondgeskarrel die laaste maand. Die grootste uitdaging was die logistiek om gazebo’s, tafels en geldbokse vir DRIE stalletjies te kry (en om uiteindelik alles saam met voorraad by KragDag te kry). Ek is so dankbaar vir al ons vriende wat gehelp het.
Die tweede uitdaging was alles wat in ons posseël grootte kombuis tussen EISHkom deur moes gebeur. Ons moes mooi skeduleer dat ousus genoeg beskuit kon bak, ouboet sy salwe kon brou en kleinsus eksperimenteer met die knibbelhappies wat sy wou maak. En tussen in moes polimeerklei skeppings nog ook gebak word. Ons skoolkamer het meer soos ‘n stoorkamer / fabriekswinkel begin lyk as enige iets anders, want alles moet iewers heen as dit eers klaar was.
Die ma moes rond jaag om produkte te help koop, etikette by drukkers op te laai en en en. Die 3 moes ook werk aan hul besigheidsplanne (wat hul kon voltooi as hul aan die kompetisie deel van die Junior Entrepreneurs wou deelneem). Ons grootste kop krap was om te skat watter hoeveelhede voorraad hulle moet maak. Daar is immers geen manier om te voorspel hoeveel voete daar sal wees nie.
Genadiglik kon die drie die laaste 3 dae voor KragDag, sonder skoolwerk tussenin, fokus om al die laaste afrondingswerk klaar te kry. Buiten vir ons oudste wat eers op nommer 99 botteltjies, vir sy splinter nuwe Kakiebos Leerkos, in die hande kon kry was alles wat vooraf gebak en brou word toe reeds klaar. Kleinsus moes natuurlik nog haar knibbelhappies maak, want die moes vars wees. Die meeste werk was dus die laaste paar dae om strooibiljette te ontwerp en plakkate maak. Hier is ook baie kop gekrap oor hoe om alles uit te stal en hoe om hul produkte vir kliënte aanloklik te maak. Klein goedjies soos om proesels en monsters (“samples”) daar te hê.
Hierdie maand was regtig net ‘n groot praktiese leerervaring vir hulle gewees. Ja, dit het baie druk op ons reeds vol program geplaas, maar dit was beslis elke sekonde die moeite werd gewees. Daar is net baie fasette in entrepreneurskap en om ‘n stalletjie markdag reg te kry waaruit iets geleer kan word. Daar is soveel vaardighede waaraan hulle moes werk. Sommige eenvoudig soos hoe skep mens ‘n QR kode. Ander meer ingewikkeld soos om ‘n advertensie op GIMP te ontwerp. Somme maak, kosprys en verkoop pryse bereken. Planne maak oor hoe om binne jou begroting te bly, want elkeen van hulle het net ‘n beperkte hoeveelheid fondse beskikbaar gehad uit vorige markdae en verkope van hulle produkte.
Die belangrikste is egter vir my dat hulle leer hoe om hulself te bemark. Ja, almal gaan nie eendag ‘n entrepreneur word nie. Maar watter beroep hulle ook al wel gaan doen gaan hulle “hulself” moet kan bemark. Dit kan hul kennis, vaardigheid, ondervinding of ‘n produk wees. Hulle gaan dit aan iemand moet “verkoop”.
KragDag was beslis vir hulle ‘n positiewe ervaring. Eerstens omdat die meerderheid kliënte Afrikaans was. Dit is bloot net makliker om in jou eie taal met kliënte te werk. Dan ‘n pluimpie vir die mense wat wel by hul stalletjies verby gekom het. Die meeste het werklik belangstelling getoon en vrae gevra oor die produkte en hoekom hulle spesifiek dit maak en verkoop.
‘n Bonus vir ons was dat dit tuisskoolvriendelik was. Nie een keer het iemand die tipiese watter-graad of watter-skool-is-jy vrae gevra nie.
Ek was ook baie beïndruk met die manier hoe die beoordelaars met die kinders gewerk het. Hulle vrae het die kinders laat dink en hulle het goeie terugvoer van hulle ontvang oor hoe hulle in die toekoms hul besighede kan verbeter.
Hierdie jaar was daar nie so baie voete by Kragdag WesKaap nie. Ek vermoed die skoolvakansie het grootliks bygedra daartoe. Ten spyte daarvan het al drie die kinders ‘n goeie klompie verkope gehad. Ek dink positief vir hulle was dat hulle redelik akkuraat geskat het watter persentasie mense produkte koop. Dit help dat hul al kleiner tuisskoolmarkdae gehad het en weet dalk elkeen wat voor jou staan nie noodwendig ‘n aankope gaan maak nie. Iets wat ons wel by die kleiner markte geleer het is om altyd knibbelhappies ook te verkoop. Mense sal eerder ‘n bedrag geld op eetgoed as op ‘n produk spandeer. Dit hou die kinders se moraal hoog as iets wat hul gemaak het verkoop, al is dit nie hul hoofproduk nie.
Vir my bly die grootste plus punt van sulke inisiatiewe dat kinders leer dat daar waarde is in hul tyd, vaardighede en kreatiwiteit. En natuurlik dat my kinders die Donderdag daar so baie geniet het dat hul amper nie Vrydagaand kon aan die slaap raak van opgewondenheid oor die vooruitsig om Saterdag weer stalletjies te hê nie.
Hulle het ook planne gemaak om probleme wat hul die Donderdag ervaar het anders aan te pak die Saterdag. Soos die feit dat die wind nie saam speel met strooibiljette en tafeldoeke nie. Ook nie met die kaartjies wat ons jongste verkoop het nie. So leer hulle by elke mark iets en kan hul elke nuwe mark beter aanpak.
Ek hoop van harte dat ons van julle by volgende jaar se Junior Entrepreneurs hier in die Kaap sal sien. Ja, dit vat ekstra tyd, maar dit is regtig lekker vir die kinders en hulle leer geweldig baie! Dit is uit en uit die moeite werd. Bonus is dat daar 2 afdelings is; Voete natmaak (vir kinders soos my jongste wat op die dag iets wil smous, maar nog nie regtig ‘n langtermyn plan het nie) en Doelgerig (vir kinders wat ‘n produk het wat hul nie net op die dag wil verkoop nie). Daar is dus ‘n plekkie vir elke jong entrepreneur.
Baie dankie aan KragDag, Sakeliga en FergusMOR vir hierdie ongelooflike geleentheid.
Well done julle!
Haai Lizelle, hoekom noem jy nie dat jou kinders tweede prys en wenprys gewen het nie? Geldpryse ook! Dis baie indrukwekkend! Wat was die kriteria om te wen? Hulle voorlegging en besigheidsplan was seker die belangrikste?
Hi Janet, ek is nie seker watter kriteria die beoordelaars gebruik het nie. Die kinders wat aan die kompetisie wou deelneem moes vooraf ‘n dokument voltooi met klomp vrae oor hulself en hul besigheid. Die een vir Voete natmaak was eenvoudiger om te voltooi, terwyl die Doelgerig afdeling meer ingewikkelde vrae in gehad het. Op die dag het die beoordelaars die stalletjies kom besoek, na hul produkte gekyk en met hul daaroor gepraat. Hulle het ook hope vrae gehad oor hoe hul by hul produk prys uitgekom het, hoeveel tyd hul aan hul besigheid spandeer, wat dit kos om die produk te maak, of hul verstaan wat wins is, wie hul kliënte is en waar hul nog hul produk bemark, ens.