12 January 2024
Share

Dis al die einde van ons eerste “skool” week vir die nuwe jaar en ek kom nou eers daarby uit om ons hoogtepunte van laas jaar te plaas. Ja, as ek net tyd gehad het kon julle ‘n lekker lang plasing gekry het oor oral waar die pap gereeld hier op die grond val. Maar tyd is een dinge waarvan ek gereeld ‘n tekort het.

Ek moet ook erken dat dit elke jaar vir my moeiliker raak om te skryf oor ons hoogtepunte. In ‘n flop het ek gedeel hoe dit my help om dit wat ons reg kry neer te skryf. Veral om moed vir die nuwe jaar te skep. Toe ek in 2014 dit hier begin deel het was die idee om vir ander te wys wat vir ons hoogtepunte was. Dat tuisskolers ook suksesse kan hê. Ek geniet dit altyd so om te sien wat ander tuisskoler bereik. Elke gesin is egter uniek en die idee was nooit dat dit ander moet laat voel dat hulle nie dit of dat reg gekry het nie. Tog oor die jare vind ek dat mense maklik in die slaggat trap om hulle gesin te vergelyk.

MOENIE! My gesin is nie jou gesin nie! Hierdie is ons oorwinnings en vreugdes. Beslis nie ‘n refleksie van ons uitdagings en waar ons faal nie. Ek kry beslis nie al die balle in die lug gehou nie. Een wat die jaar geval het is dat die kinders gewoonlik probeer om aan FAK se Ekspo en ander kompetisies deel te neem. Ek het egter al die datums gemis. Of sommer heeltemal gemis dat daar ‘n geleentheid was!

Iets wat ek beslis deesdae nie doen nie is om genoeg foto’s te neem. Dis op my doelwitte van die jaar om te kyk of ek daarop kan verbeter. Ek wil eendag kan terug kyk op al die wonderlike oomblikke saam met my gesin. Op die oomblik vat dit my dae om tussen foto’s deur te sif wat ander van ons geneem het om dit hier te kan plaas.

Hier is die foto’s wat ek bymekaar kon skraap!

Ons het weer 2022 afgesluit met ‘n gesinspele en hope pret om die nuwe jaar in te wag.

Die kinders het weer die atletiek baie geniet. Daar’s heelwat oggend vroeg opgestaan om eers te gaan hardloop om fiks te word. Die oudste 2 wou die 3000m aanpak.

Ons het die jaar probeer om meer uitstappies in te pas, nuwe vriende te maak en meer by ou vriende te kuier. En die oudste 2 het ook deel geword van ‘n tiener bordspeletjiesgroep wat 2 Saterdae en 1 Vrydag elke maand bymekaar gekom het.

Ons oudste het 16 geword! Hy het dit gevier deur saam met ‘n paar vriende te gaan stap en in ‘n bergpoel te swem.

Die grootste hoogtepunt van ons jaar was my ouers se 50ste huweliksherdenking. Vir die spesiale geleentheid was ons kinders vir die eerste keer in 10 jaar almal saam. Bonus was dat my ma se broer ook kon invlieg om in die vreugde te deel. Die kleinkinders het saam vir ouma en oupa ‘n konsert gehou. Dit was nogal ‘n storie om oefensessies in te glip sonder dat ouma-hul agterkom waarmee hul besig is. Veral vir die stuk wat my 3 saam vir hulle wou speel.

Die kinders het hul produkte by 2 Markdae en die Tuisskool Ekspo verkoop. My oudste het sy Rip Ice by ‘n waterwinkel op die rak gekry en middelsus het begin beskuit verkoop. Sy het ‘n paar Air BnB’s wat nou haar lekker “Ouma se beskuit” aankoop. Hulle het ook deelgeneem aan Besigheidsbytjies.

Die 3 het weer aan ‘n lekker paar Olimpiades deelgeneem. World Maths Day het ons knaap 3de in die land gekom vir graad 10 tot 12 (en 252ste in die wêreld). Middelsus wat ook 3de in die land (en 456ste in die wêreld) vir graad 8 en kleinsus 71ste in die land vir graad 4. Hierdie is altyd ‘n lekker manier vir hulle om hoofrekeninge te oefen. Ek dink my grootste verbasing was toe my oudste vir Wits se finale rondte gekwalifiseer het (wiskunde in Engels is altyd vir hom meer uitdagend) en dit as ‘n graad 10 in die graad 10 tot 12 kategorie. Ek dink nie hy besef watter prestasie dit werklik is nie.

Hulle het ook MyTutor.chat se “events & tests” geniet. Dis ‘n lekker manier om olimpiade tipe vrae te oefen.

Kleinsus het by 2 klavierkonserte gespeel. Ons het ook weer ons jaarlikse konsert saam met 4 ander tuisskoolgesinne gehou. Daar is klavier, viool, tjello en ukelele gespeel, gesing en gedans, grappe vertel en poppekas gehou. Die lekkerste is om elke jaar te sien hoe al die kinders ontwikkel en vorder. En natuurlik die heerlike kuier agterna.

Natuurlik het gimnastiek weer ‘n groot deel van ons jaar uitgemaak. Al 3 het hard geoefen en so goed gedoen. Ek is veral trots op ons oudste wat ‘n jaar deurspek met beserings gehad het en bly deurdruk het. Dit vat deursettingsvermoë om aan te hou as dinge nie loop soos jy gehoop het en harde werk nie soos gewoonlik beloon kan word nie. Kleinsus het ook vir die eerste keer saam begin deelneem aan die groter kompetisies en ons almal verbaas. Sy’s skoonskip gemaak by Weskaap (ek het haar lekker gespot dat sy nie die goue medaljes met ander wou deel nie). Ongelukkig was SA’s nie laas jaar op ons kaarte nie en moet sy maar wag om hopelik die jaar kragte te gaan meet teen die ander provinsies se gimnaste.

My jongste bly my ook verbaas met haar skeppings en idees. Ek probeer hard om vir haar genoeg ruimte te laat om die talent te ontwikkel.

My oudste word al meer handig. As hy nie besig is om met elektronika ‘n projek te bou nie, of iets vir iemand reg te maak nie, help hy sy pa om ons wiele op die pad te hou. Hy het ‘n forum ontdek met elektroniese projekte en het volgens hom nooit genoeg tyd om alles te bou wat hy wil nie. Hierdie vakansie het ek gedink hy sal net sleg wees en rondlê, maar hy het nie genoeg ure in ‘n dag gehad om als te bou wat hy wou nie.

Die heel beste vir my is dat my kinders nog saam kan speel. Lego bly ‘n gunsteling. Hulle skep graag hele wêrelde met blokkies en dan kan hulle ure saam met dit speel. Speel is so ‘n integrale deel van mens wees en dit bekommer my dat kinders dikwels nie meer tyd vir dit het nie. Of erger nog nie meer weet hoe om dit te doen nie.

Stadig maar seker leer ons van meer en meer lande. Of ons ooit die hele kaart gaan kan inkleur weet ek nie. Ons gaan in elk geval probeer.

Dit bly vir my kosbaar dat ons elke dag saam kan sit en lees. Ons ontdek so saam wonderlike wêrelde en dit bied net soveel geleenthede vir gesprekke oor belangrike (en onbelangrike) dinge.

My grootste fokus hierdie jaar was om die Somme(r) Pret Wiskunde Program vir graad O tot 3 te herverpak, wat dit nou moontlik maak om dit per graad aan te koop.

Verder het ‘n Literatuur Geïnspireerde Taalleer Werkboek oor Kringe in ‘n Bos die lig gesien. Ek is baie dankbaar vir my ma wat help proeflees het en altyd met voorstelle kom om beter Afrikaans te gebruik. Dit was ook net betyds klaar vir ons knaap om daarmee te begin. Die werkboek kombineer ‘n literatuurstudie van Kringe in ‘n Bos met taalleer, Elk van die 9 eenhede bevat Verryking/Skryfkuns, Begrip, Woordeskat en Spelling, Taalleer en Diktee.

Opwindende nuus (hoop ek) is dat daar op my winkel nou ‘n opsie is om per EFT te betaal. Ek weet sommige kliënte het in die verlede gesukkel met die Payfast platform wat nie altyd saam met hul bank wil werk nie. Ek hoop dus dat hierdie dit sal makliker maak om betalings te doen.

In my kop dryf ‘n duisende en een nuwe idees rond, maar ongelukkig is die realiteit dat ek nie by dit alles uitkom nie. Tog as ek terug kyk is ek dankbaar vir nog ‘n ongelooflike jaar.