3

Op ons boekrak 2023

6 December 2023
Share

In hierdie huis hou ons van lees en voorlees. Ja, selfs die buurt se katte kom luister saam. (Ons leeslyste vir vorige jare kan hier gevind word –2022, 2021, 2020, 2019, 2018 2017, 2016, 2015, 2014, 2013 en ons gunsteling lewende boeke.).

Dit voel deesdae vir my asof ons nie meer so baie gelees kry soos vroeër jare nie, tog bly die tye saam, opgekrul met ‘n goeie boek, vir my kosbaar. Dis wonderlik watter gesprekke die leestyd uitlok en al die leer geleenthede wat dit bied.

Soggens begin ek met ‘n storie gemik op ons jongste, alhoewel die ouer 2 steeds die stories geniet. Daarna volg Bybel (hierdie jaar was dit Job tot Hooglied en 2 Timoteus tot Jakobus). Daarna lees ek iets spesifiek vir my 14 en 16 jarige. Soms sit kleinsus saam en soms raak sy weg en gaan doen haar eie ding. Dit gebeur gewoonlik as ons met ‘n Engelse boek besig is. Vir die Afrikaanse stories is sy geneig om te bly.

Op my jongste (wat onlangs 10 geword het) se voorleeslys was:
1. Kriek-hulle – Anna Rothman
2. Die Jaar Een – Jenny Seed
3. Bambi – Felix Salten
4. Die Swerwerhond – C.R.deW. Van Wyk
5. Die Singende Gras – Freda Linde
6. Paddeltjie – Joh. H. Been
7. Trail Blazers: Neil Armstrong – Alex Woolf
8. Daar het ‘n Ster Verskyn – Karl Kielblock
9. Die walvisjagtertjie – Peter Freuchen
10. Die eerste Prys – CS Badenhorst

En vir die oudste 2 het ek die volgende gelees:
1. Heldin uit die Vreemde – Rykie van Reenen
2. Hy praat met diere – Konrad Lorenz
3. Bull Run – Paul Fleischman
4. Crispin: The Cross of Lead – Avi – Middeleeue
5. Lords of the last frontier – Lawrence G. Green
6. Kringe in ‘n bos – Dalene Matthee
7. Indian Captive: The story of Mary Jemison – Lois Lenski

Na middagete is ons tweede leessessie. Dan wissel ek dit af tussen Kinders van die Wêreld (die jaar het ons nommer 6 gelees) en Streams of Civilization. Ons het boek 1 klaar gemaak die jaar en volgende jaar sal ons die tweede een begin. Met die boeke klaar vir die jaar het ons die laaste paar weke Money Matters for Teens gelees. Hierdie jaar het ons nie ‘n wetenskapboek in die mengsel gehad nie. Die oudste 2 het elk wetenskap op hul eie gedoen en kleinsus het ‘n hoop eksperimente gedoen. Sy het my egter goed laat verstaan dat ons volgende jaar weer wetenskap ook in die middag lees sessie gaan moet inwerk.

Natuurlik lê daar klaar al ‘n nuwe hopie boeke wat ek nie kan wag om te begin voorlees nie. Van hulle sal ons al mee begin voor hierdie jaar om is, maar ek vermoed dat hulle eers klaar sal wees aan die begin van die nuwe jaar. Dus sal julle maar tot volgende jaar die tyd moet wag om te hoor wat volgende op ons leeslys was.