0

Eklektiese onderrig

8 December 2023
Share
As jy in tuisskool kringe beweeg sal jy hoor dat meeste mense ‘n eklektiese benadering volg. As jy nuut is op die tuisskool pad gaan dit verwarrend wees, want elkeen met wie jy praat bedoel waarskynlik iets heel anders met die woorde.
So wat presies is ‘n eklektiese benadering? Ek noem dit gewoonlik sommer die spoeg en plak metode. Alhoewel dit seker beter is om dit die laslappie metode te noem.

Daar is twee hoof vertakkings van eklektiese onderrig. Die eerste is mense wat ‘n tradisionele benadering volg. In tuisskool kringe noem ons dit dikwels sommer net skool-by-die-huis. Dit is gesinne wat steeds die model volg wat skole doen, maar nie van klaar verpakte materiaal van ‘n diensverskaffer gebruik maak nie. Net soos skole kies hierdie gesinne self watter produkte/handboeke/materiaal hulle vir elke vak gaan gebruik.
Die grootste voordeel van om dit so te doen is dat dit baie goedkoper is as om ‘n diensverskaffer te gebruik. Dit bied jou ook die vryheid om materiaal te kies wat beter by jou kind pas. Dalk verkies hulle volkleur boeke, of miskien juis nie. Die ekstra hulp en gebruikersvriendelikheid van onderwysersgidse en memorandums beïnvloed ook watter materiaal gekies word.
Ekstra hulpmiddels speel ook ‘n groot rol. So gaan ons knaap van volgende jaar af HSE se werkboek gebruik vir IGO, bloot omdat Stefen Kleyn op youtube (https://www.youtube.com/@StefanKleynHowToEGD) sy klasse plaas en in die nuwe jaar oorskuif na HSE se boeke. Dit maak hierdie praktiese vak net soveel makliker as daar iemand soos hy is om stap vir stap te verduidelik hoe dit gedoen moet word. Sy video’s het hierdie jaar BAIE makliker vir ons gemaak.
Die tweede groep wat eintlik die ware essensie van die eklektiese benadering is is mense wat nie net materiaal meng nie, maar ook onderrig metodes. Ja, ek weet as jy uit die skoolstelsel kom is jy gewoonlik onder die indruk dat daar net 1 manier van onderrig is, tradisionele onderrig. Die realiteit is dat daar ‘n wye verskeidenheid metodes/ benaderings is. Baie hiervan is al baie oud en goed nagevors. Ons is net onbewys dat dit bestaan. Om net ‘n paar van die benaderings te noem is daar die klassieke benadering (wat Classical Conversations op gebaseer is), Charlotte Mason, Montessori, Waldorf, Unschooling (ook bekend as Free Range learning of selfgerigteleer), Eenheidstudies / Skootboeke (soos Konos), Literatuurgebaseerde benadering (soos Sonlight), Projekgebaseerde leer, wêreldskool (roadschooling) en vele meer! Met eklektiese onderrig neem jy uit verskillende benaderings dit waarvan jy hou en wat vir julle werk en skep so ‘n doelgemaakte benadering vir jou gesin.

As voorbeeld, in ons huis meng ons ‘n hele paar benaderings. Ons het ‘n goeie skoot van die Charlotte Mason benadering weg. ‘n Groot deel van ons leer vind dus deur lewendeboeke plaas, ons doen kopieerwerk en diktee en hou van die blootstelling aan kunste en die natuur wat sentraal aan die benadering is, asook die fokus om vroeg te werk aan karakterbou en goeie gewoontes. In tradisionele vak terme dek ons so tale en sosiale wetenskappe (geskiedenis en aardrykskunde). En ons verkies die wetenskapboeke van Apologia juis omdat dit die werk in ‘n verteltrant aanbied wat aanklank vind by ons wat gewoond is aan lewendeboeke. Droë handboeke werk net nie vir ons nie.
Saam met dit meng ons ‘n groot skoot Unschooling veral in die laerskool jare. Dit is vir my belangrik dat die kinders hulle eie belangstellings ontdek en leer om kreatief te dink. Deur dit wat hulle interesseer as wegspring plek te gebruik leer hul soveel meer as wanneer ons temas dek wat hul nie interesseer nie. Unschooling bied kinders ook die geleentheid om teen hul eie pas te ontwikkel. Dit beteken hulle kan op dieselfde oomblik voor en agter in sekere “vakke” of ontwikkelings areas wees. Dit bied hul ook die kans om meer prakties en organies te leer.

Tog is daar ook dele van ons leer wat binne die tradisionele model sal val. Dit het begin insluip in die hoërskool jare. Bloot omdat die kinders uiteindelik ‘n stuk papier nodig het om te wys hulle het skool voltooi. Soos ek reeds genoem het doen my knaap gewone skool IGO en my oudste 2 doen wiskunde op die manier. Ja, ons probeer heelwat konkrete, praktiese leer steeds inwerk saam met kritiese denke, maar hul gebruik hoofsaaklik deesdae gewone skool handboeke.
Begin van die jaar het ek ‘n vraelys voltooi om te wys watter benaderings jy toepas en hierdie was ons uitleg:
Soos jul kan sien meng en pas ons baie en iewers in die roesemoes van benaderings vind ons dit wat vir ons werk.
So volgende keer as jy iemand tee kom wat die eklektiese benadering volg, kan jy gerus maar verder vra en dalk ‘n beter idee kry van wat presies hulle doen.
Die goeie nuus is natuurlik dat as iets nie vir julle werk nie is daar beslis ander opsies daar buite wat wel kan. So moenie moedeloos raak nie, bly net soek tot jy die benadering vind wat vir julle werk!