So het ons dan die halfpad merk vir die Amerikaanse Hoërskool Diploma (AHSD) vir my oudste bereik. Twee jaar terug het ons baie vinnig van rigting verander. Dit is nie hoe ek daarvan hou om iets te doen nie. Ek is van daardie siele wat graag goed iets wil navors en oordink.
Die oorspronklike plan was om Cambridge te doen vir die laaste skooljare, maar ek was altyd kriewelrig in my gemoed daaroor. Ons wil graag so lank moontlik vir ons kinders blootstel aan ons waardes en norme om hulle beter toe te rus om staande te bly teen die wêreld se aanvalle. Ek het geweet dat Cambridge teenstrydig daarmee is, maar nie besef dat daar ‘n ander alternatief is nie.
Die laaste 2 jaar was besig. Vir ons wat nog altyd ‘n loslittige benadering gevolg het was dit ‘n aanpassing om skielik alles te moet aanteken en te laat inpas binne die akademiese boksies. Ek dink dit was vir my die grootste aanpassing en dit het beslis my werkslading meer gemaak. Vir my kinders het dit nie so ‘n groot verskil gemaak nie. My oudste het immers al vir ‘n paar jaar gewerk daarna om oor te gaan op ‘n meer akademiese benadering. En grotendeels het hulle voortgegaan soos voorheen.
Op daardie punt moet ek noem dat ek dink die AHSD is ‘n wonderlike opsie as jy ‘n ouer is wat hou daarvan om boksies af te merk; om te werk binne ‘n raamwerk. Dit bied jou daardie boksies tesame met die buigsaamheid om jou eie keuses van materiaal en spoed te bepaal. ‘n Mens kan dit van graad 1 af doen en hoef nie eers soos ons in graad 9 daarmee weg te spring nie.
Hierdie jaar was egter wel uitdagend vir my oudste. ‘n Groot bydrae was sy gesondheid. Hy het allergieë en met die toevoeging van preserveermiddels (en meer) in alle vleis het sy wiele gereeld afgekom. Ongelukkig kon ons nog nie ‘n konstante bron van skoon vleis vind nie. Dit is frustrerend dat vleis produkte nie al die byvoegsels lys nie en meer frustrerend dat selfs vleis wat veronderstel is om organies / free range te wees daarmee besoedel is.
Telkens moes hy weer probeer opvang wanneer hy meer gesond was. In konsep is die werklading vir ‘n tipiese jaar op die AHSD 825 ure per jaar, of te wel 23 ure per week oor 36 weke. Wat omtrent 4.5 ure per dag is. Natuurlik kan dit in minder of meer weke ingepas word wat die ure per dag sal beïnvloed.
My knaap het egter gekies om bo-op dit musiek ekstra te neem, wat daaglikse oefentyd byvoeg. En verder ‘n ekstra vak te neem wat nie nodig is om sy krediete vol te maak nie. Om alles te kroon is daardie vak IGO (Ingenieursgraad en ontwerp) wat ‘n vak is wat beslis meer as 1 krediet se ure elke jaar neem. Veral vir hom vir wie dit ‘n heerlike plek is om sy perfeksionisme uit te leef. Hy geniet die vak geweldig baie en voel die opoffering van tyd is die moeite werd.
Hy doen ook Russies op duolingo en natuurlik is ‘n kompeterende siel soos hy nie tevrede om net 5 of 10 minute ‘n dag dit te doen nie. Moet my asseblief nie vra hoekom hy juis Russies gekies het nie. Die kinders het maar almal hul eie idees. Middelsus het al twee jaar se Hebreeus agter die rug en het onlangs met Italiaans daarby begin. Terwyl kleinsus nou ook met Duits begin het. Soos julle kan agter kom hou die oudste 2 van ‘n uitdaging, want beide moes eers ‘n nuwe alfabet leer. En almal van hulle ken al heelwat Duits van luister hoe ek leer. Op daardie punt moet ek noem dat Duolingo wel ander agendas druk, veral in Duits. Nie so veel in Hebreeus en Russies nie.
Boonop pas hy 14 ure se gimnastiek oefentyd per week ook nog in die program in. So, ja, daar was tye wat hy gevoel het dat hy nooit gaan voor kom nie. Tye wat hy agter was en naweke en vakansies moes inhaal.
Ek noem dit alles juis omdat ek voel sonder die ekstras is die AHSD ‘n baie haalbare opsie vir enige kind wat bereid is om die moeite in te sit, sonder om hulle te oorwerk. Dit laat steeds tyd vir ander belangstellings, stokperdjies en net wees.
Dis veral ‘n goeie opsie vir kinders wat ‘n wye belangstelling het, omdat krediete wiskunde, wetenskap, tale en sosiale wetenskappe moet insluit. Dis nie noodwendig die beste opsie vir ‘n kind wat op een area wil fokus soos bv wetenskappe nie. Dan bly ander alternatiewe soos Cambridge en die NSS steeds ‘n beter opsie waar vakke binne een veld gekies kan word.
Terwyl ek die skryf wil ek sommer noem watter materiaal ons gebruik, want dit is die vraag wat ek gereeld kry. Ek verstaan dit heeltemal want die legio keuses daar buite is wonderlik, maar tog ook oorweldigend. So hier is wat ons tot nou toe ingespan vir die verskillende vakke:
Met Wiskunde val ons nog effe rond. My knaap het vir graad 8 en 9 Pythagoras gebruik. Dit bied goeie uitdagings, maar min verduidelikings. Die Maths 4 Africa studiegidse is oulik om die basiese wiskunde begrippe op ‘n kleurvolle manier te verduidelik, maar dek nie uitdagings nie en was dus nie veel van ‘n hulp juis met dit wat hy in Pythagoras mee gespook het nie. Ons moes dus maar telkens self sien kom klaar.
Die jaar het hy https://www.siyavula.com/read se handboek ingespan. Die verduidelikings was beslis beter en die onderwysersgids ‘n hulp, alhoewel dit steeds net een moontlike verduidelik vir probleme gee. Met ‘n knaap wat dikwels ‘n ander pad volg, moes ek maar steeds self baie van die merkwerk op eie stoom doen. Ek voel dit was ‘n goeie oorgang na graad 10, want ek weet met elke nuwe fase is dit uitdagend om die nuwe konsepte te bemeester. Die boeke bied egter nie ‘n uitdaging vir kinders wat bietjie verder wil dink nie. Ons het daarvoor maar ekstra olimpiade vraestelle ingespan van SAMO, Wits en mytutor.chat
Sy wetenskappe het uit Exploring Creation with Physical Science vir laas jaar en die jaar Chemistry (2de uitgawe) bestaan. Ek moet erken die blote gedagte dat hy ‘n jaar lank chemie sou doen het my laat bewe. Ek het so baie resensies gelees en daaruit besluit dat Dr Wile se weergawes beter klink. Aanvanklik wou ek sy nuwe Discovering Design with Chemistry gekry het, maar ‘n baie goedkoop Exploring Creation with Chemistry (2de uitgawe) het oor my pad gekom. Die boek was ‘n lewensredder. Alhoewel dit steeds uitdagend was het my knaap 100% op eie stoom deur dit gewerk, soms vasgehaak en dan eers weer ‘n stuk gaan lees. Dit is so uiteengesit dat kinders dit op hul eie kan baasraak, selfs as hul ma wil weghol van chemie af. Ek sou graag die ekstra eksperiment pak saam met dit wou kry, want alhoewel die eksperimente in die boek maklik is om tuis te doen is dit nie te opwindend nie. Bonus was dat hy vir ‘n sessie saam met ‘n Meestersgraad student in biochemie na die laboratorium kon gaan, wat darem bietjie gehelp het. Hy het die kursus so geniet dat hy dit oorweeg om vir sy graad 12 jaar eerder die Advance Chemistry kursus te doen as die Advance Physics. Maar kom ons wag en kyk of hy nog so voel na hy volgende jaar die Physics kursus gedoen het. Ek vermoed hy gaan die nog meer geniet.
Middelsus verkies egter Apologia se 3de uitgawes. Sy het die jaar vir graad 8 Exploring Creation with General Science gedoen. Sy hou net meer van die nuwe meer kleurvolle formaat. Wat beteken ek is nog opsoek na ‘n Exploring Creation with Biology 3de uitgawe vir volgende jaar (wat tans uitverkoop is by Creation Ministries). Daar is dus dalk ‘n kans dat sy volgende jaar met Physical Science gaan moet wegspring, maar sy hoop nog dat ons die Biologie in die hande kan kry. Sy wil bitter graag die jaar daarna Mariene Biologie neem wat Biologie as voorvereiste het.
Vir sosiale wetenskappe gebruik ons Streams of Civilization. Dis soortgelyk aan Story of the World, maar gegrond op skeppingsleer en uit ‘n christen perspektief. Dit dek geskiedenis chronologies. Ons lees al jare oor verskillende geskiedkundige gebeurtenisse en figure en hierdie is net ‘n lekker manier om dit alles in konteks te sit. Saam met dit lees ons steeds Kinders van die Wêreld. Daarin leer ons meer van die geskiedenis van spesifieke lande, hul godsdiens, kultuur, gebruike en vele meer. En natuurlik lees ons steeds heelwat lewende boeke om die ervaring aan te vul.
Nadat ons na baie programme gekyk het het ons keuse vir Engels op Total Language Plus geval. Dit het ‘n Charlotte Mason inslag en diktee vorm ‘n groot deel van die program. Vir elke graad is daar ‘n verskeidenheid boektitels waarvan jy dan ‘n studie(s) kies. Saam met dit het my oudste laas jaar Grammar Repair Kit ingespan en hy gebruik ook Khan Academy en English Handbook and study guide. Volgende jaar gaan ons aan met Total Language Plus, maar die plan is ook om Fast Grammar: High School Training by te voeg. Ons sal maar sien hoe dit gaan. Die proefles het interessant gelyk.
Ons span ook https://www.youtube.com/@AdrianPartridgeOnWriting/videos se skryf video’s in. Sommer vir beide Afrikaans en Engelse skryfwerk.
Vir Afrikaans kombineer ek van Oolfant se produkte, gooi so bietjie Pret met Poësie by asook Afrikaans Handbook and study guide en dan het my knaap my Wit Oemfaan studie die jaar gedoen. Tans is ek besig om ‘n soortgelyke een vir Kringe in ‘n Bos op te stel. Ek moet egter erken ek is redelik voos die tyd van die jaar en ek vorder nie soos ek gehoop het nie. Tog moet dit klaar voor die nuwe skool jaar kan afskop, so die mamma moet maar net oë toe knyp en deur druk!
Vir IGO is Stefan Kleyn se youtube kanaal ons grootste hulp. Ons het dit laas jaar begin inspan toe ons knaap nog ‘n plaaslike hoërskool se IGO werkboek gebruik het. Die jaar het ons JPEGD se werkboek gebruik, omdat dit was wat Stefan vir sy lesse ingespan het. Volgende jaar beweeg hy oor na HSE se werkboeke, so ons skuif saam. Hy neem elke klas van hom op en dit gee kinders die kans om stap vir stap saam met hom te werk.
Persoonlik dink ek die ekstras wat nodig is vir die die AHSD dit vir ons lekkerder maak. Natuurlik kan enige gesin die ekstras inwerk, maar ek vermoed dat as dit nie iets was wat ons moes doen as deel van die vereistes nie, sou ons sommige van die dinge bloot net nooit by uitgekom het nie.
Een van die ekstras is Persoonlike finansies. Vir die vak het ons Money Matters for teens (en die gepaardgaande werkboek – Money Matters for teen workbook 15-18 edition) ingespan. Die boek fokus meer op die Bybelse beginsels van geld bestuur, terwyl die werkboek die praktiese deel dek van hoe om ‘n begroting op te stel, ‘n bankrekening te bestuur, geld te maak, lenings, hoe om werk te soek, ens.).
‘n Ander keuse ekstra was Logika (wat onder Sosiale wetenskappe val). Ons het laas jaar The Fallacy Detectives workbook edition gebruik. Dit was beslis interessant hoe valshede ingespan word om ons mening of opinie te swaai. En ons het lekker gelag as die kinders ‘n spesifieke tipe iewers raak gesien het. Hulle is nogal skerp.
Vir my knaap was my hoof fokus vir rekenaar geletterdheid dat hy moes leer goed tik. Hy het https://learntyping.org vir dit gebruik. Die vaardigheid het hy al baie ingespan om sy take te tik en ander skryf werk te doen. Saam met dit het ons gewerk deur basiese vaardighede op die rekenaar. E-posse stuur, hoe om inligting te soek, internet veiligheid, hoe om verskillende programme op OpenOffice te gebruik, as ook ekstras soos hoe om Audacity en GIMP in te span om musiek te sny en prente te skep en verander.
Baie dankie dat jy so vrylik deel wat werk vir jou. So goed om ten minste beginpunt te hê om verskillende bronne te explore.