8 April 2016
Share

Dis ongelooflik om te dink dat dit al weer tyd is om ‘n nuwe leeslys te begin. (Die vorige jare kan hier gevind word – 2015, 2014, 2013 en ons gunsteling lewende boeke). Dit bly maar ‘n uitdaging om boeke te vind wat die kinders almal geniet. Kleinsus (2) steur haar nog nie te veel aan die stories nie en speel gewoonlik sommer net in die omgewing of sit op my skoot (en wil blaai voor dit tyd is 😉

Die ouderdomsverskil tussen die 2 oudstes, wat 9 en 7 is, is nie so seer ‘n probleem nie, soos wat die feit dat dit wat meisies en seuns in belangstel hemelsbreed verskil. Ek vind ook dat ons 9 jarige knaap stories begin geniet waarin daar emosionele intriges is. Hy geniet die karakterbou, terwyl ons Pop dit nog hartseer of ontstellend vind.

Noudat die twee ‘n hond uit ‘n bos lees besef ek eers werklik die waarde van al die jare wat ek al so vir hulle voorlees. Vir kinders om self te lees het hul nodig om ‘n wye woordeskat te hê. En daarmee help die voorlees baie. Dis woorde wat vir hulle onbekend is waarmee hul sukkel as hul self lees. Die groot tameletjies is gewoonlik die voorname in die boeke, juis omdat die meestal nie foneties sin maak nie. So het ek net geglimlag vir ons amper 7 jarige se poging om Philippus (in Fransina vark en die dagbreek hotel) uit te spreek.

iPhone14.jpg

Daar is min dinge wat so lekker is as dat ons Pop nou weer vir kleinsus voorlees. Elke dag vind ek iewers die 2 besig om te lees. Natuurlik is dit nog ‘n wonderlike voordeel van voorlees. Dit kweek ‘n liefde vir stories by kinders. En daardie liefde is van onskatbare waarde. Dis die liefde wat hulle nou elke dag vir ure vasgenael hou voor ‘n boek en maak dat ek meeste aande moet halt roep, sodat hulle nie te laat gaan slaap nie. (Hul gunsteling tyd vir lees is in die bed voor slaaptyd).

Soos ander jare moet julle maar later in die jaar weer inloer, want die lys boeke groei soos die jaar vorder.

– Klawerjas – Dick King-Smith

– Die musiek wat die koning wil hoor – Rona Rupert

– Jakkals en Wolf in Namakwaland – Glaudien Kotze

– Die pad oor die berg kom huis toe, Koba – Kowie Rossouw

– Klein wilde sjimpansee – Anna Michel

– Partys hulle – EB Grosskopf

– Dokter Dolittle en sy diere – Hugh Lofting

– Poppie-Dot by die grootrivier – Marianna Brandt

– Jantjie Muis en Jakob Slang en ander verhaaltjies – CJ Langenhoven

– Speurder Kwaaikofski: Die kougomstrik – Jurgen Banscherus

– Heidi en haar vriende – Johanna Spyri

– Bienkie en die Boeing, Bienkie en die blondekop, Bienkie en die buurseun, Bienkie kry ‘n bondgenoot, Bienkie en die boemelaar, Bienkie en die bosveld, Dingo, Eenspoor – Ettie Bierman

– Nina en die funky eksperiment – Elisbe van der Colff

– Die byeboere van more – Richen Marais

– Trompie, Trompie die stouterd, Trompie die soet seun, Trompie die hoërseunskool, Trompie die dromer, Trompie die speurder, Trompie die sterk seun, Trompie die groot minnaar, Trompie die held – Topsy Smith

– Saartjie, Saartjie se vakansie, Saartjie se geheim,Saartjie se donkie, Saartjie se nuwe maat en  Saartjie se slim plan, Saartjie se papegaai – Bettie Naude

– Kalie Emmer en die sjokoladefabriek, Kalie Emmer en die groot glashyser – Roald Dahl

– Kraai-hulle – Anna Rothmann

– Riets se meesterstuk – F Leslie

– Peps – Erica Lillegg

– Zackie Mostert en die vreeslike verjaarsdag – Jaco Jacobs

– Vakansie op Groen Hewels, Nuwe Gaste op Groen Heuwels – Annette Spence

– Kinders van Orion – Mike Heine