Die jaar 2025 moet seker eerder bekend staan as die jaar van die oudioboek. My jongste 2 het beslis meer ure na oudio stories geluister as na my voorlesings. Veral my jongste is mal oor radio dramas. Sy het weer vir Strandloper 1 en Operasie Umbra geluister, na sy Strandloper 2 ook klaar geluister het.
Ons leeslyste vir vorige jare kan hier gevind word – 2024, 2023, 2022, 2021, 2020, 2019, 2018, 2017, 2016, 2015, 2014, 2013 en ons gunsteling lewende boeke.).
Buiten vir die stories wat ons gelees het het ons ook Kinders van die Wêreld 8 en die eerste 3 lande in Kinders van die Wêreld 1 en die tweede helfte van Streams of Civilization 2 gelees. Dis ons leesstof na middagete.
Ons oggende het begin met Bybel waar ons Daniël tot Lukas gelees het. Wat dit eintlik beteken het is dat ons halfpad deur die jaar vir die tweede keer deur die Bybel is. Toe ons destyds uit die Bybel begin lees het het ons eers rond gespring. Daarna het ons besluit om dit van begin tot einde te lees en toe die tweede rondte het ons een ou testament en dan een nuwe testament boek gelees. Iewers het ons toe geëindig met net ‘n klompie ou testament boeke. Daar is immers 11 meer boeke in die ou testament as die nuwe testament. So in die jaar het ons met rondte nommer 3 begin. Die slag het ons besluit om te begin met die nuwe testament maar in kronologiese volgorde. Daarna sal ons seker die ou testament op dieselfde manier aanpak.
Ek weet daar is gesinne wat elke jaar deur die Bybel lees, maar vir ons vat dit heelwat langer. As ek so vinnig moet raai waarskynlik ‘n goeie 5 jaar elke keer, maar dit is lekker om stadig saam deur te lees en saam gesprekke oor die deel wat ons elke dag lees te hê.
Na Bybel lees ek vir die kinders ‘n kombinasie van stories. Ons is gewoonlik met ten minste 2 boeke op ‘n slag besig. Dit het begin om ons jongste te akkomodeer wat nie altyd die stories van die ouer twee lekker gevolg het nie. Deesdae luister sy egter lekker saam. Wel dit is nou buiten vir Last of the Mochicans wat ‘n groot hap uit die tweede helfte van ons jaar se voorlees gevat het. Sy het nie altyd die boek lekker gevolg nie. In alle eerlikheid het die taal my soms verloor. Tog het ons steeds die storie geniet. Dit was ook die eerste eboek wat ek vir die kinders voorgelees het, want die hardekopie wat ek kon kry was die verkorte weergawe, wat ons na die eerste hoofstuk besef het nie vir ons gaan werk nie. Ons het dus toe weer voor begin om die oorspronklike in eboek formaat te lees.
Op ons leeslys was die volgende boeke:
Animal Farm – George Orwell
Judy – Damien Lewis
Daggy Dogfoot – Dick King-Smith
Last of the Mochicans – James Fenimore Cooper
Mensies in die Dorsland – John Coetzee
Willem en die bruin hings – Kowie Rossouw
Boerseun – Laura Ingalls Wilder
Die huis op die grasvlakte – Laura Ingalls Wilder
Die oudioboeke wat hulle geluister het (buiten nou die radio dramas wat ek al bo genoem het) was:
Nanny Piggins and the Runaway Lion – R.A. Spratt
Nanny Piggins and the Accidental Blast-Off – R.A. Spratt
Dollars to Doughnuts: Birthday Bling – Catherine R. Daly
Nanny Piggins and the Origin Story – R.A. Spratt
The Princess in Black and the Prince in Pink – Shannon Hale and Dean Hale
Nanny Piggins and the Rival Ringmaster – R.A. Spratt
The Green Ember 2: Ember Falls – S.D. Smith
The Adventures of Nanny Piggins – R.A. Spratt
Nanny Piggins and the Pursuit of Justice – R.A. Spratt
Nanny Piggins and the Wicked Plan – R.A. Spratt
The Green Ember 3: Ember Rising – S.D. Smith
Bear Grylls Adventures volume 4 – Bear Grylls
Eintlik moes Ember’s End ook op die lysie gewees het, maar hulle het dit eers die eerste Januarie klaar geluister. So hulle het dit op hul 2026 luister lys geplaas. Daar sou beslis meer stories op die oudioboek lys kon gewees het. Daar is egter altyd ‘n wagtyd om op Libby te kan luister, wat beteken dat hulle iets wou luister, maar soms eers weke moes wag om die boek in die hande te kry. Tog is ek dankbaar vir die oulike boeke en dat ek dit nie alles moet voorlees nie. Bonus is natuurlik dat die voorlesers se Engels beter as myne is.
