21 May 2013
Share

Soos julle seker al weet is ons ‘n klomp boekwurms. Die kinders is mal oor al die stories wat ons elke dag lees. Die enigste nadeel daarvan is dat baie van die boeke wat vir hulle (4-6 jaar) geskryf is nie meer lank genoeg na hulle s’n is nie. En die wat lank genoeg is is meestal op die tiener mark gerig. Ons lees ook nie stories met geweld, spoke, drake, towerspreuke, hekse, monsters, trolle ens nie. My grootste uitdaging is dus om elke maand by die biblioteek boeke op te spoor wat geskik is. En natuurlik moet die boeke ook ‘n dogtertjie en ‘n seuntjie se belangstelling prikkel.

Ek wil sommer ‘n lys begin van langer boeke wat hulle geniet het. Dalk help dit ander boekwurms in hulle soektog (nog voorstelle sal waardeer word). Daar is ook ‘n digbundel of 2 in, want my 2 is gek oor gediggies. Ek sal die lys van tyd tot tyd aanvul soos ons nuwe ontdekkings maak. (Baie van die boeke is oud, maar die wat nog in druk is sal ek probeer skakels voor plaas)

  • Rex Stone se Dinowêreld reeks (die boeke was nog tot onlangs in druk, sommige boekwinkels het dus nog van die titels beskikbaar). Die Ingelse weergawes is nog te koop
  • Lynn Bedford Hall se “Potjie en Kimberley” en “Potjie in Pretoria”
  • Louise Smit se “Haas das se nuuskas”, “Haas das raak weg” en “Professor Fossilus en die Dinosourusse”. Professor Fossilus was definitief die kinders se gunsteling van die stories
  • AA Milne se Winnie die Pooh
  • Nikki Berry se “Houdini se avontuur”
  • Martie Preller se “Jy en die Dinosourus”, “Jy en Toetankat” en “Die Balkieboek”. Die kinders het lekker gelag vir die Balkieboek. Die “Jy en” reeks is stories met keuses en dus verskillende eindes. Jy en die Dinosourus is verseker die beste van die boeke in die reeks. 
  • Dick King-smith se “Klawerjas”
  • Marianna Brandt se “Die stoutsterte van Texel tot Tafelbaai” en “Die stoutsterte, Poot aan wal” – 2 Heerlike stories met so bietjie geskiedenis van Jan van Riebeeck te vaart na die kaap en die eerste maand in die kaap. 
  • Johanna Spyri se “Heidi”. Die storie is soveel beter as die DVD’s met ‘n baie meer geestelike boodskap. 
  • Sylvia van den Heede se “Vos en Haas”, “Totsiens Vos en Haas” en “Vos en Haas op die eiland
  • Sven Nordqvist se “Jakkelsjag”, “Die verjaarsdagkoek“, “Klein Fielies raak weg” en “Pettson gaan kampeer” – Prettige stories met nog ouliker illustrasies (die kinders is mal daaroor om net deur die boeke te blaai en die klein detail raak te sien)
  • Ela Spence se Soekie reeks
  • Philip de Vos se “Mallemeule-man”, “Wolfgang Amadeus muis” en “Belladonna, prima donna
  • Lize Groenewald se “Fransina-vark en die Dagbreek-Hotel”
  • Jaco Jacobs se “Suzie se Superdoeper Sjampoe” en “Bertie Blikbrein
  • Jenny Valentine se “Ek en Bella” en “Ek en Bella: Lekker verjaar
  • Richard en Florence Atwater se “Meneer Popper se Pikkewyne”
  • Elmarie Botes se “Jabulani die olifant” en “Velaphi die pikkewyn”
  • Winckler en Marais se “Seerbekkie” en “Klein bokkie”
  • Martie Preller en Martie Kruger se “Jamie en Sebastiaan”
  • Leon Rousseau se “Die Kaskenades van Jakkals en Wolf
  • Pieter W. Grobbelaar se “Jakkals en Wolf

Vir nog boeke wat ons geniet het gaan loer by ons nuutste lys in