Dis ‘n nuwe jaar en weer tyd vir ‘n nuwe lys van die boeke wat my rakkers geniet het. Die jaar word hulle al 6 en 8 en dit wat hul geniet verander stadig maar seker. Ek wil egter ook ‘n lees lysie by sit vir kleinsus wat nou 1 is. Gaan loer gerus wat ons gelees en geniet het in 2014 en 2013.
Ek hoor al te dikwels dat mense spook om vir peuters boeke te lees. Wat ek met my rakkers gevind het is dat die tipe storie ‘n reuse verskil maak. Vir eerste boeke is ek altyd mal oor die boeke van Charles Fuge (ongeag of hy dit net geillustreer het of geskryf het ook). Die prente is realisties genoeg om hul aandag te trek maar het nie te veel detail om hulle te verskrik nie. Sy boeke het net die vermoë om peuters se aandag vas te vang en te behou. Ongelukkig is al die Afrikaanse weergawes van sy boeke nie meer in druk nie, maar mens kan dit nog in Engels in die hande kry en seker jou eie woorde opmaak.
Die boeke wat ons 1 jarige geniet dateer nog uit ouboet en sus se dae (meeste biblioteke behoort van dit nog te hê). Haar gunstelinge is:
– Partykeer wil ek styf opkrul – Vicki Churchill
– Dit is hoe – Charles Fuge
– Ek ken ‘n renoster – Charles Fuge
– Hop skop dinosourus-opskop – Tony Mitton
– Raai hoe lief is ek vir jou – Sam McBratney
– Dis wonderlik wanneer jy glimlag – Sam McBratney
– Dirk soek ‘n drukkie – David Melling (Daar is ook Nog drukkies vir Dirk, Toemaar Dirk en Dirk slaap oor wat net so oulik is)
– Karla krullebol – Theresa van Baalen
– Ek soek ‘n tier – Joyce Danbar
En hier is die boeke wat ons amper 6 en 8 jarige die jaar geniet het (soos in die verlede sal die lysie deur die jaar groei, so loer maar weer van tyd tot tyd in om te sien wat bygevoeg is):
– Wit oemfaan, Die Avontuur van Paulus van Gass – FA Venter (Die boek is gebaseer op ‘n ware verhaal wat afspeel tydens die Groot Trek. Dit was perfek vir my amper 8 jarige wat op die oomblik gek is oor oorleef. Die boek bied ‘n baie gebalanseerde weergawe van hoe die Groot Trek van beide Voortrekker en Zoeloe kant gesien is)
– Katrientjie van keerweder – Alba Bouwer
– Poppie-Dot van die Kaap – Marianna Brandt (Al die avonture van Poppie-Dot saam met haar koei)
– Vonk en sy maats – Alsoon Wessels (Die boek laat my dink aan die Trompie boeke, die kattekwaad van die groep seuns is net meer geskik vir jonger lesers en ons pop het dit ook geniet – teenoor Trompie wat sy vervelig gevind het)
– Die koning se prinses – Beth Moore (‘n Pragtige storie om God se vergifnis aan kinders oor te dra)
– Jock van die Bosveld – hervertel deur Phillida Brooke Simons (‘n Goeie weergawe van die ou bekende storie van Jock met interessante brokkies tussen in om gebeure beter te verduidelik)
– Die Dingesfabriek, Jannus en Kriek onder die see, Die Dingesfabriek Jannus en kriek op die maan en Die dingesfabriek, Jannus en Kriek krimp– Elizabeth Wasserman
– Koningskind – Anita du Plessis (Die storie word vertel uit die oogpunt van ‘n jong Engelse bulhond. Dis nogal humoristies hoe die hond se weergawe van gebeure verskil van hoe sy huismense dit ervaar. Beide my kinders was gek oor die storie)
– Anderkant die berge – Helene Roux (‘n storie wat tydens die Groot Trek afspeel)
– Wetenskap met wiele – Richard Hammond (Dit is nie ‘n storieboek nie, maar my 8jarige is versot op die boek. Ons het dit al so baie uitgeneem. Ek wens werklik dat dit nog te koop was. Dit het alles oor die werking van motors in.)
– Stem van die groot olifant – Jenny Seed (Die storie speel af in Sjaka se stat en is ‘n heerlike manier om meer te leer oor die Zoeloe gebruike van daardie tyd. Ek kon nie vinnig genoeg na my knaap se s’n die boek lees nie)
– Bambi – Felix Salten (Dit is ‘n ongelooflike mooi lewende boek oor die diere, hul gewoontes en die woud. Buiten dat die boek in ‘n woud afspeel en handel oor ‘n bokkie met die naam Bambi is daar nie juis ooreenkomste met die Disney weergawe van die storie nie. Dis ‘n pragtige boek, wat kinders se verbeelding aangryp.)
– Nina en die wacky hare – Elizbe van der Colff (die kinders het die storie geniet, maar die taal gebruik van die kinders in die boek het my die piep gegee. Jong lesers sal waarskynlik al die Engelse woorde soos wacky, spooky, cool, great ens geniet. Ek moes egter telkens die woorde verduidelik aan my 2, omdat hulle nie gewoond is aan die tipe taalgebruik nie.)
– Die vernuftige verkleurmannetjie – Charles de Villiers (Dis ‘n baie kort boek, maar ‘n mooi lewende boek oor verkleurmannetjies.)
– Suid-Afrikaanse helde en ikone – Wendy Maartens (‘n versameling verhale oor helde en ikone van ons land uit verskillende kulture. Heerlike blootstelling vir ons kinders aan die mense van ons reënboog nasie)
– Drie jong jagters, Op die klein spoortjies, Fanie se veldskooldae – PJ Schoeman
– Wiele gooi – Heinz Winckler
– Knakkie en die vreemde spoor en Knappie en die strandjut – Heinz Winckler
– Tina – Heinz Winckler (‘n Ballet storie oor aanhou probeer)
– Koeitjies in die klawer – Pieter W Grobbelaar
– Die swart hings – Anna Sewell
– Baron Buksie – Wille Martin
– Die Avonture van Kuifie: Bestemming maan, Die Avonture van Kuifie: Verkenners op die man, Die Avonture van Kuifie: Die geheimsinnige ster, Die Avonture van Kuifie: Tempel van die son, Die Avonture van Kuifie: Vlug 714 na Sydney, Die Avonture van Kuifie: Kuifie in Amerika, Die Avonture van Kuifie: Kuifie en die Pikaro’s – Herge
– Rondom die wêreld in tagtig dae – Jules Verne
– Nils Holgersson se winderbaarlike reis – Selma Lagerlof
– Die klein brultiertjie – Reiner Zimnik
– Nag op Spioenkop – Jenny Seed
Aaag, 1 jarige kleinsus is te pragtig! Oulike gesiggie.
Die boeke klink interessant, voorheen sou ek net vir jou geskryf het dat al my kinders uit die huis is en het ek nie meer belang in sulke boeke nie. Maar nou is daar ‘n kleinding oppad vir ouma, so ek lees jou skrywes heelwat ernstiger …
Haai Spokie,wonderlike nuus!
Baie geluk met die kleinkind wat op pad is. Wat ‘n ongelooflike seën. Ek is seker jy gaan die nuwe ouma status sommer baie geniet!
Dankie vir jou pragtige blog.My kleinseuntjie is nou 16 maande oud en ek kan nie wag om vir hom van jou boekies in die hande te kry nie.
Ek hoop julle sal die spesiale tydjies van saam lees sommer vreeslik baie geniet.
Ek vind ons boekrak ‘n trekpleister vir al ons vriende se kinders. Maak nie saak waar hulle deur die dag leer nie, kinders het ‘n behoefte aan stories en boeke. My twee seuns geniet ‘n hoofstuk uit “Dragon Riders of Berk” (die Afrikaanse boeke), maar is baie teleurgesteld dat dit nie is soos die flieks stories nie. Hulle is ook versot op superhelde, wat ons grotendeels net in Engels kry, en op die oomblik allerhande feite boeke wat hulle meer vertel oor goed soos vulkane, storms, die aarde, ens. Ons boekrak groei dus op hierdie stadium meer aan met feite boeke vir verskillende ouderdomme as storieboeke.
Ek hoor jou oor die vriende. Dis altyd vir my so interessant om tydens ‘n speel een of ander kind voor die boekrak te betrap of aan die lees iewers.
Ek is tog so dankbaar vir die biblioteek. Ek sou nooit genoeg boeke kon bekostig nie!