2

Geurige water

5 February 2015
Share

Dis somer en heerlik warm. Saam met dit is ek altyd opsoek na ietsie koel om te drink. Sap is heeltemal te soet na my smaak en alhoewel ek altyd baie water drink, bly dit vir my ‘n straf. Wel die somer is my nuutste gier geurige water (of soos die Engelse sê  “infused water”). Hoekom ek dit nog nooit probeer het nie weet nugter?! Dis so ‘n verfrissende heerlikheid.

201510

Elke aand maak ek ‘n nuwe brousel aan en deur die dag drink ek en die kinders elke laaste druppel op. Ek het al ‘n paar vreemde resepte probeer van appel met ‘n kaneelstokkie tot waatlemoen met kruisement blare. Al die geure was nie ewe gewild hier in ons huis nie.

Op die oomblik is ons gunsteling om die granadillas en suurlemoene uit ons tuin te gebruik. Ek wissel dit meestal af tussen net granadilla en dan weer suurlemoen water. Saam met die suurlemoen skywe voeg ek ‘n kombinasie van gemmer, komkommer en kruisement blare in. Ons het nog nie moeg geraak vir die bederf nie.

Beste van alles is dat ek gevind het dat ek minder van ‘n soettand het vandat ons dit drink. Waarskynlik omdat ek meer as genoeg suiker op die manier in kry. En of dit nou toevallig is of nie sal ek nou nie weet nie. Maar die amper maand wat ons die baie water drink het ek al 1.5kg verloor. Nou daaroor sal ek beslis nie kla nie. Daar is immers nog ‘n paar ongewenste kilos wat ek al van my tweede swangerskap af rond piekel. Maar vir hongerly en sweet is ek nog altyd bang!

Wat is jou gunsteling drink ding in die warm somer maande?