2

Die minder perfekte dae

4 February 2015
Share

Ek lees ‘n ruk terug dat al die sosiale media die geneigdheid het om ‘n baie idilliese prentjie te skep. Dis immers heerlik om al ons suksesse te deel. En baie maklik om stil te bly oor die dinge wat nie volgens plan verloop nie. Dis dood normaal, maar dit kan onbereikbare verwagtinge skep. Diegene wat lees wat ons deel kan dink dat alles net altyd klopdisselboom hardloop. En dit is verseker ver van waar! 

Gister was een van daardie minder as perfekte dae. Die tipe waar jy jou half gedrinkte eerste-oggend-koppie-koffie in die mikrogolfoond ontdek toe jy in aller haas aandete op die tafel probeer kry. Nie omdat jy nie hard probeer het om dit te drink nie. Jy het dit immers seker ‘n goeie 5 keer warm gemaak en net een sluk gevorder. Die dag het my nogal onkant betrap. Daar was nie die oggend gimnastiek soos gewoonlik nie en ons het baie planne vir die rustiger more gehad. Ons wou die kans gebruik om die kinders se skootboeke oor perde aan mekaar te sit.

Kleinsus het egter ‘n slegte nag gehad en in ‘n onmoontlike bui opgestaan. Dis nogal ‘n raar verskynsel, maar dit was een van daardie dae wat niks reg was nie. Ons het ons goedjies uit gepak, maar gou besef dit gaan nie werk nie. As sy nie blou moord skree nie, is sy besig om ‘n vloermoer te gooi, omdat sy wil saam skribbel en verseker nie op haar eie bladsy nie. Nee, op een van hulle s’n. Of sy gooi alles en wat nog van die tafels af. Die rakkers is baie teleurgesteld. Hulle het baie uitgesien na alles wat ons beplan het.

Ons pak maar eers weg om weer te probeer as kleinsus slaap. Teen die tyd dat sy haar laat oggend slapie vat is al hul lus vir werk weg en daarna is ons weer op pad na ‘n sport les.

Dis op die tipe dae dat ek ekstra dankbaar is dat ons ‘n meer informele tuisonderrig filosofie het en nie hoef te poog om by ‘n skool-by-die-huis kurrikulum by te bly nie. En teen die tyd het ek ook darem al geleer dat ten spyte van sulke dae die kinders steeds leer en goed vorder.

Vanoggend was almal weer vroeg op en voor ons knaap opgelaai is vir gimnastiek net voor 9 het ons al goed gevorder met die skootboeke. Dit is nou die onvoorspelbaarheid van dae met ‘n peuter in die huis. Nie een lyk heel soos ‘n ander nie.

Waarvan leer julle die week?