So het die eerste kwartaal tot ‘n einde gesnel en staan ons al weer op die vooraand van ‘n nuwe kwartaal. Ons het laas kwartaal weer ‘n paar interessante dinge gedoen op ons wetenskap Maandae. Voor die nuwe kwartaal afskop wil ek dit graag met julle deel.
Ons het die jaar afgeskop deur te praat oor hoe ‘n regte eksperiment gedoen word. Dat jy eers kyk wat jy wil toets, dan besluit hoe jy dit gaan toets, wat jy dink gaan gebeur. Daarna volg die eksperiment. Laaste word gekyk wat gebeur het (of dan nou nie gebeur het nie) en hoekom jy dink dit so is. As ‘n voorbeeld het ons gekyk na die spoed waarteen papier helikopters val. Ons het die helikopters van http://paperairplanes.co.uk/heliplan.php en http://www.paperhelicopterexperiment.com gebruik. Die kinders het beurte gemaak om die helikopters te laat val, terwyl van die ander met stop horlosies moes meet hoe vinnig dit val. Telkens het 2 gemeet en dit was ‘n goeie les, omdat hulle kon sien dat elkeen se tye verskil het as gevolg van menslike foute. Ons het ook elke helikopter meer as eenkeer laat val, sodat hulle kon sien dat die omgewing ook ‘n invloed het. Aan die einde het ons gemiddeldes uitgewerk en gekyk watter helikopters die stadigste en vinnigste geval het. Ironies genoeg het die oorspronklike eenvoudige helikopters die stadigste geval. Die beste was toe ek aan die einde vir hulle verduidelik dat aan die einde van ‘n eksperiment mens alles van die begin hipotese tot die resultate en gevolgtrekkings alles moet dokumenteer. Hulle was nie beïndruk met die gedagte dat hulle dit dalk nou moes doen nie. Ons ma’s het lekker gegiggel. Duidelik geniet hulle die doen van eksperimente, maar nie die papier werk deel daarvan nie.
Ons het al heelwat digtheid eksperimente gedoen, maar dit bly heerlik. Die keer het ons ‘n bietjie olie met voedselkleursel gemeng en dit dan in glase met water gedrup. Dis amper soos vuurwerke in ‘n glas. Veral my pop was versot daarop en het net nog en nog glase gemaak met verskillende kleur kombinasies.
Ons het ook rubber hoenderbene gemaak. Dit is nie ‘n vinnige eksperiment nie. Die hoenderbene lê in asyn en raak stadig sagter en meer buigbaar. Na ‘n week was die dunner bene buigbaar en na 2 weke was die dikker bene soos rubber. Binne die eerste minute sien mens egter al hoe klein borreltjies om die bene begin vorm soos wat die suur met die kalsium in die bene begin reageer. Dit was ook ‘n goeie kans om vir die kinders te verduidelik hoekom dit belangrik is om gesond te eet, sodat hulle sterk bene kan hê. Ook waarom dit sleg is om gaskoeldrank te drink, aangesien dit dieselfde effek op hul bene het as wat die asyn op die hoenderbene het.
Tydens ons volgende eksperiment het ons geleer hoe ‘n mikrogolfoond kos/vloeistof verhit. Natuurlik was dit weer tyd om vir ‘n eksperiment om eers nie te werk nie. Die eksperiment is baie eenvoudig. Plaas ‘n glas water en ‘n glas ys blokkies in die mikrogolfoond om te sien wat gebeur. Die idee is dat die water warm word, maar dat niks met die ys gebeur nie. Ons eerste poging was egter met ys wat al baie versplinter het en daar smelt die ys toe. Ons moes dus die eksperiment herhaal met heel bokkies ys vir dit om te werk. Eintlik was dit goed om te besef die klein bietjies ys vinnig by kamer temperatuur gesmelt het en die bietjies water kon toe verhit word in die mikrogolfoond, wat die res van die ys begin smelt het. ‘n Mikrogolf oond verskaf nie hitte soos ‘n stoof/oond/vuur nie. Dit gebruik radiasie om die H2O molekules te laat beweeg. Die water molekules roteer om met die wisselende elektriese veld (wat die mikrogolwe veroorsaak) in lyn te wees. Die beweging veroorsaak dat die stof verhit. In ys is die molekules in ‘n vaste rooster en kan nie beweeg nie. Dus ontstaan daar geen hitte nie. Dit is waarom mikrogolfoonde ‘n “defrost” stelling het. Daar tydens word die radiasie aan en afgesit. Die bietjies ys wat smelt agv kamer temperatuur kan dan begin verhit. Die hitte smelt dan bietjie meer van die stof en so stelselmatig word die stof verhit. Dit is ook dan waarom ons spesiale bakke, borde ens het om in ‘n mikrogolfoond te gebruik. Die bakke kan nie water in hulle bevat nie, anders gaan die bak self warm word en kan bars of breek. Ons het toe ook superverhitting bespreek (en nie probeer nie). Dit is waar die water by kookpunt kom maar die gas ontsnap nie die oppervlak (sodat ons kan sien dit kook nie). Dit gebeur gewoonlik omdat die houer waarin dit verhit word nie krakies en barsies het waar borrels op kan begin ontstaan nie. Sodra die houer met superverhitte vloeistof dan geskuif of -stamp word word al die gas op een slag vry gestel ipv oor tyd en dit ontplof dus. Super verhitte vloeistof kan brandwonde veroorsaak en dit is hoekom dit altyd belangrik is om iets nie te warm te maak in ‘n mikrogolfoond nie. En om ook nooit splinternuwe breekware te gebruik om iets te verhit nie.
Een van die knape wou weet hoekom lugspieëlings op die pad vorm op warm dae. http://www.islandnet.com/~see/weather/elements/mirage1.htm het ‘n goeie verduideliking van hoe lugspieëlings vorm. Ons het 3 eksperimente gedoen om die buiging van lig te verduidelik. Almal was nie ewe suksesvol nie. Die eerste was eenvoudig om ‘n potlood in ‘n glas water te sit en te sien dat dit lyk asof die potlood gebuig is op die vlak tussen die water en die lug. Die 2de eksperiment moes die digtheid verskil tussen sout en vars water gebruik om te wys hoe ‘n prent agter die glas verwrong word. Ek kon egter nie die water kry om in 2 lae te lê nie. Die vars water het gemeng met die soutoplossing, sodra ek dit ingooi. Miskien het iemand anders beter sukses met dit. Laastens het ons ‘n laser opgestel bo-oor ‘n plaat en dit teen ‘n muur geskyn en gemerk waar dit val. Daarna het ons die plaat (met ‘n afdakkie van foelie oor) aangeskakel en gekyk waar die laser nou teen die muur skyn. Die afstand in die kombuis was egter te klein om ‘n verskil te kan sien. Ons het dus die eksperiment buite oor ‘n gasstofie herhaal. Die keer kon mens sien dat die laser kolletjie effens laer skyn. Natuurlik het dit die kinders gehelp om beter te verstaan hoekom mens lugspieëlings altyd oor ‘n afstand sien en dat dit weg beweeg soos jy nader kom.
Om die kwartaal af te sluit het die kinders geheime prente met suurlemoen sap op papier geteken met oorpluisies (selfs die 2 tweejariges het die eksperiment geniet). Die prente het ons toe op die stoof warm gemaak. Die seuns wat woes in die bende ding op die oomblik is was versot op die eksperiment. Die koolstof in die suurlemoensap is deurskynend tot dit brand en swart/bruin word. As mens die papier lank genoeg oor die plaat hou word die res van die papier ook dieselfde kleur. Die papier brand net nie so maklik soos die suurlemoensap nie. Die eksperiment vereis ouer hulp. Dit kan ook teen ‘n gloeilamp gedoen word (wat meer kindervriendelik is). Dit was net makliker om 8 kinders se prente op ‘n plaat te verhit as teen ‘n gloeilamp. Oor die volgende paar dae het my kinders ‘n hele klomp geheime prente gemaak en dit oor ‘n kers verhit.