Ek het oor die jare al heelwat gesprekke gevolg in die tuisonderwys kringe oor verveelde kinders. Daar is die wat raad gee dat kinders verveeld moet wees om weer die lekker van ontdek en leer te leer ken. En dan ander wat dit as nalatig beskou.
Dit is egter eers onlangs wat ek dit beter begin verstaan het en die waarde van verveeld wees ontdek het. En dit het niks te doen met hoeveel jy met jou kinders doen of werk nie. Dit het wel te doen met ekstrene stimulasie en skedules.
Soos ek dit sien is daar 2 dinge wat op ‘n groot skaal van kinders steel. Die een is ‘n oorvol skedule. Dit steel tyd en energie by hulle en in die proses boet hul kreatiwiteit in. Daar is bloot nie tyd om die mooi dinge in die lewe te ontdek en te waardeer nie. Kinders (soos hul ouers) jaag van een ding na die ander. Daar is bloot net nie tyd vir stil sit nie. Nie tyd om te dink nie, nie tyd om te geniet nie, nie tyd om te leer nie en nie tyd om jouself te leer ken nie.
En dis nie moeilik om in die slagyster te trap nie. Daar is immers so baie aktiwiteite waaraan kinders kan deelneem. Die een meer interessant en leersaam as die volgende. Natuurlik wil ons nie he ons kinders moet op iets uitmis nie. Ons wil hulle immers die beste moontlike geleenthede bied om te ontwikkel tot hul volle potensiaal. Voor ons egter ons oe uitgevee het is ons so verstrengel in die gejaag dat hulle juis uitmis en nie kan ontwikkel tot hul volle potensiaal nie.
Dikwels ontdek ons net die waarde van ‘n rustiger skedul e wanneer omstandighede ons daar in dwing. Dit is immers maklik om die tekens dat dinge hand uit ruk mis te kyk. Mens begin mos nie met ‘n gejaag nie. Jy tel stadig maar seker spoed op en voor jy weet is alles buite beheer. Dan weet jy nie meer hoe om briek aan te draai nie.
Die tweede ding wat van ons kinders steel is tegnologie. Die TV, DVD”s, rekenaar speletjies, selfone, die internet. Weereens kom die dief dikwels in ‘n pragtig toegedraaide pakkie wat beloof om opvoedkundig te wees. Wat ons egter nie besef nie is dat hulle minder daaruit kry as wat van hulle geneem word.
Sien die probleem met skermtyd is dat dit stimuleer soos min ander dinge. Wie wil immers sit en ‘n boek lees as jy ‘n DVD kan kyk? Wie wil ‘n bordspeletjie saam met ‘n sussie/boetie speel as jy op ‘n selfoon/tablet/rekenaar kan speel? Die besluite maak nie altyd sin nie. Daar is immers meer opwindende dinge om te doen as voor ‘n skerm sit, maar kinders ontdek dit eers as ‘n mens die dag die skerm af sit en hulle geforseer word om iets anders te vind om te doen.
Dis eers dan wat mens ontdek dat skermtyd hul persoonlikheid beinvloed, hul konsentrasie verkort, hul slaap negatief beinvloed en soveel meer.
Dis wanneer kinders net verveeld genoeg is dat hulle ‘n boek op te tel om te lees, of in die modder gaan speel, of ‘n bord-/kaartspeletjie uit te haal. Dit is wanneer hulle begin oplet na die wereld rondom hulle en begin vrae vra. As kinders genoeg tyd het en nie oorgestimuleer is nie dan eers ontdek hul dat hul nooit verveeld hoef te wees nie. Dat hulle self die bron van aksie is en nie die dinge rondom hulle nie.
Dieselfde geld maar vir kinders in skole ook. Ek sit nog op twee stoele oor rekenaar/telefoon speletjies
Dis baie waar. Of mens se kinders nou tuis leer of by ‘n skool dit bly dieselfde. Tuis dryf die vrees dat jou kinders op iets gaan uit mis mens maklik om te veel te doen en by die skool is dit weer ‘n vrees dat jou kinders nie by die maats met die vol programme gaan bly bly nie. Om nie van die groepsdruk te praat nie. Dis net genade as mens die kinders deur die mynveld kry en iewers ‘n balans vind tussen te min en te veel.
Ja jy is reg. Kinders groot kry is nie vir sisies nie
Ek ondervind glad nie ‘n probleem met rekenaar nie, maar dit is seker omdat ons nie die seuns beperk nie, so hulle voel nie dat hulle altyd die kans moet gryp om op die rekenaar te speel as ons dit toelaat nie. Oudste sal enige tyd die rekenaar los en my vra dat ons ‘n bordspeletjie of skaak moet speel, ‘n boek vir hulle voorlees, en albei seuns sal iets in ‘n storie sien (het sy dit iets is wat iemand doen of ‘n onderwerp waaraan geraak word) en dan wil uitvind of dit gedoen kan word, of hulle probeer om hul eie weergawe van die “fliek/toneel/storie” uit te speel.
Ek kan nie onthou uit watter storie dit gekom het nie, maar ‘n verbygaande opmerking iewers (ons kyk dvd op die rekenaar, het nie tv nie) oor haaie, het my oudste nou al vir twee maande aan die leer oor seediere en allerhande see lewe, en ja, dit is nog meer rekenaar tyd, want hy soek Youtube videos op oor die onderwerp. Hy het so op Jonathan Bird se Blue World afgekom en kan vir jou verskriklik baie opnoem. Net jammer ons het nie die geld om sommer net so na die akwarium in Durban af te sit nie (amper R600 vir ek en die twee seuns). Hulle het egter ‘n uitdruk karton aktiwiteit wat ons jare gelede gekoop het gebruik (see agtergrond) en al hul onderwater plastiek diere en plante uit die kas gaan haal, en toneel op toneel gebou en gespeel.
Maar te veel aktiwiteite en uit die huis – elke dag se rondry en aan alles en nog wat wil deelneem – die stem ek 100% mee saam. Die kinders is naderhand negatief oor alles omdat hulle moeg is vir uitgaan en ry. Ek ook.
Skermtyd beïnvloed beslis verskillende kinders verskillend. Ons doen nou nog Khan Academy op die rekenaar en kyk van tyd tot tyd you tube videos, maar verder kom (veral ons oudste) eers oor die onttrekking simptome van skerm tyd. Ek het gedink dit is net hy wat negatief beïnvloed word, maar net na ons die TV afgesit het en “games” by die venster uit gegooi het kom ons meisiekind en se sy’s so bly ons het dit gedoen, want nou’t hulle weer ontdek hoe baie lekker dinge daar is om te speel. Dit was nogal vir my snaaks, want ek het altyd gereken hulle speel reeds meer as meeste kinders van hulle ouderdom. Tog kan ek sien hoe hul spel die laaste ruk verander het.
Ek dink nie ons leef in ‘n tyd waar mens heeltemal skermtyd kan uitsny nie, maar na ek die gesprek op die tuisonderwys yahoo groep gevolg het en Frank so mooi die meganisme agter skerm verslawing verduidelik het het iets wat my lankal krap net skielik s’n gemaak. Natuurlik is almal nie ewe geneig tot ‘n verslawing nie, maar niemand is seker ook heel immuun daarteen nie.
Nadat ek jou geantwoord het staan ek en dink. Verslawing is seker ook nie die regte term nie. Die kinders het immers nooit gekerm vir meer en meer skerm tyd nie. Hulle was ook nie ongelukkig toe ons dit weg gevat het nie. Wat seker die geval sou wees as dit werklik ‘n verslawing was.
Die groot ding wat aan my gekrap het is dat die knaap konstant vir my kom vertel het hy is verveeld. En kom mens met voorstelle van dinge om te doen dan kla hy dat dit onopwindende goed is. Skielik het ons nooit meer daai probleem nie. Die probleem is nou dat daar nie genoeg tyd is om al die “onopwindende goed” te doen nie.
Ek verstaan wat jy bedoel. My twee sê ook nou en dan hulle is verveeld, maar dan trek iets weer hul aandag en 10-15min. later is hulle aan’t speel. Hulle het nou na skoolwerk vanoggend Lego Jurassic Park op die rekenaar gespeel, wat gelei het tot my oudste wat op Ark (‘n ander speletjie) se wiki inligting oor ‘n spesifieke dinosaur in die speletjie gaan opsoek het. Hy moes egter verlede week self begin name opsoek want ek is net te besig, en toe oor die naweek luister ek hoe hy vir sy boetie verduidelik hoe hy die name lees. En vanoggend weer. Hy soek toe name op, en vertel aan boetie, en ‘n paar minute later is seker so 20 van hul plastiek dinosaurs op die tafel uitgepak en bespreek hulle dit. My bediende wil egter nou gou daar skoonmaak, so hulle speel nou die verskillende dinosaurusse buite op die gras. Oudste verduidelik aan jongste hoe hoog/laag die klanke moet wees, hoe die arms beweeg, groot/klein treë … en dit alles na 15min. Lego speletjie gespeel is.
Ja, dit gaan nie elke dag so nie, maar eerlikwaar, meeste van die tyd. Ek stem saam dit verskil miskien van kind-tot-kind en huis-tot-huis, want ek en my man werk basies heeltyd op die rekenaars. Dit is ons tv, ons musiek sentrum, ons ensiklopedieë (ons het ook regte boeke wat ons tussen deur gebruik).
Dis seker maar altyd ons almal se grootste uitdaging om die regte balans vir ons gesin en ons individuele kinders te kry. Want my balans gaan anders lyk as jou balans of enige iemand anders s’n.
Ja verseker, dis hoekom jy verskillende gesinne nog minder as kinders kan vergelyk. Huise en hul mense verskil, en elkeen moet kry wat vir hulle werk. Ek voel net die rekenaar is nie voor die voet sleg nie.