Ons het die jaar begin met Vlytige Vrydae eenkeer ‘n maand saam met maats. Ons hou die groepie klein met ongeveer 6 kinders wat saam goedjies maak (plus natuurlik boeties en jonger sibbe wat speel terwyl hulle besig is). Die meisies (en soms hul boeties) ontdek saam verskillende vorme van kunsvlyt. Dis ‘n heerlike informele, goedkoop manier om nuwe dinge te ontdek en die klomp meisiekinders kuier heerlik om die tafel terwyl hul werk.
Februarie het hulle armbande ge”loom”, Dis ‘n manier van vleg met borduurgaring. My oulike sus het dit vir ons geleer oor die Desember vakansie en ons kon dit toe weer vir die ander leer. Ek vind dit altyd interessant hoe elke kind op ‘n kleurskema besluit en hoe die eindprodukte verskil net agv die plasing van die kleure. Die meisies het dit baie geniet en die dag is daar baie geklets.
In Maart het ons probeer om armbande te hekel. Die sewejariges het egter vinnig spoed verloor en die uiteinde was dar ek hul ma’s ‘n paar steke leer hekel het. Ons wil nog ‘n opvolg doen (vir die ma’s) en die hekel-ding goed onder die knie kry.
April het die boeties en kleiner sussies sommer saam gedécoupage. Daar is boekies versier en ‘n spaarblikkie, ‘n foto raam en skinkbord, ‘n boksie en klippe (vir deurstoppers). Elke kind het hul eie projek gehad.
Hierdie maand het hulle geleer om sjokolade vorms te maak (hopelik het die ander ma’s ook van die hande werk vir Moedersdag te ete gekry). Helfte van die lekkerte was om die bakke te kan uitlek. Hiermee het die peuters en kleuters natuurlik baie gewillig gehelp
En so tussen die skep deur speel die jonger kinders en die boeties ‘n hond uit ‘n bos … en later natuurlik die kunsvlyt dames ook, terwyl ons ma’s ‘n kans kry om rustig ‘n koppie koffie te drink en te kuier.
Dis so oulik!Neem my terug na die dae toe my kinders ook sulke goedjies gedoen het.Ek het juis verlede week ‘n klomp wol,lappe,kraletjies en allerhande gemorsies,wat mens hou vir die skeppings,uitgegooi.Toe wens ek so ek kan dit vir iemand gee om te gebruik.