0

Ons leer van bekering

11 May 2016
Share

Hierdie blyk toe om ‘n jaar te word waarop ons fokus op Dawid. En Dawid het so baie om vir ons te leer. Nie omdat hy perfek was nie, maar juis omdat hy ‘n mens net soos ons was. Wel miskien in ons terme juis meer sondig as baie van ons. En tog was hy ‘n man na God se hart, omdat hy verstaan het dat sy sonde nie bloot ‘n oortreding van die wet was nie. Dat sy sonde God se hart geraak het.

Die verhaal van Dawid en Batseba kan ongelooflik baie vir kinders beteken. Veral oor wat bekering is.

Hier’s ‘n kort opsomming van ‘n les wat ek met kinders by ons kerk gedoen het (na aanleiding van ons studie tuis oor Dawid). Natuurlik kan dit uitgebrei word oor ‘n paar dae as jy dit tuis met jou kinders bespreek.

Die vraag aan die klas was of hulle weet wie Dawid in die Bybel is. Natuurlik kon hulle baie goed vir Dawid en Goliat onthou en selfs dat hy ‘n koning van Israel was. Toe skok ek egter die bloedjies en vertel vir hulle dat as Dawid vandag geleef het hy waarskynlik in die tronk sou sit en dat baie mense nie van hom sou hou nie. Alle ore was toe gespits!

Lees gerus vir die kinders 2 Samuel11 of vertel vir hulle die storie van Dawid en Batseba. Ek het vir hulle vertel hoe Dawid se eerste sonde in die deel was dat hy vir Batseba begeer het. Dit is niks anders as wanneer ons iets wil he wat iemand anders het. Dit kan mooi klere wees, ‘n nuwe speletjie, ens. Die kinders kon toe dinge opnoem wat hulle dink ons dikwels begeer.

As demonstrasie het ek toe ‘n glas water geneem. Ek het ‘n paar druppels verskillende voedselkleursel met ‘n teelepel olie gemeng en dit in die glas gegooi. Die olie/kleursel mengsel is soos daardie eerste sonde. Eers dryf dit bo-op die water en maak nie ‘n groot verskil aan hoe die water lyk nie. Maar dan stadig begin die kleursel uitsak en na ‘n ruk is die hele glas gevul met ‘n klomp kleure en raak die water sommer net ‘n gag kleur.

iPhone4

Daardie eerste sonde (as ons dit nie bely en wegdraai van dit af nie), lei tot die volgende sonde. Dawid het nie net vir Batseba begeer nie hy het haar toe by haar man gesteel (met ouer kinders kan mens die konsep van egbreek bespreek, maar vir die jongeres is steel ‘n konsep wat hul makliker verstaan).

Soos dit gewoonlik met sonde gaan moes Dawid toe iets doen om die sonde weg te steek. Eers het hy net gejok daaroor en dus weer gesondig. Later het hy Batseba se man laat vermoor, deur om hom te stuur om op die voorste linies te gaan baklei waar hy geweet het hy sou sterf. Vandag gaan mens tronk toe vir diefstal en moord. Baie mense sou nie van Dawid gehou het as hy vandag gelewe het en al die vreeslike dinge gedoen het nie.

As dit nie was dat God ingegryp het deur die profeet Natan na Dawid toe te stuur nie, kon dinge in Dawid se lewe nog baie erger geraak het. Sy lewe was teen die tyd so vuil soos die water in die glas.

Lees 2 Samuel 12:1-9 en vers 13. Natan het vir Dawid die storie van die ryk man vertel wat die arm man se enigste lam laat slag het. Hy het die storie gebruik om vir Dawid die omvang van sy sonde te wys. Dawid was koning, hy het meer as enige iemand anders in Israel besit. Tog het hy die vrou van iemand anders gesteel.

Dit is hier waar Dawid ‘n ongelooflike man was. Dit is waar ons by hom kan leer. Dawid het nie kwaad geword en sy sonde probeer wegsteek of ‘n verskoning daarvoor probeer soek nie. Hy het dadelik besef hoe seer hy God se hart gemaak het en tot bekering gekom. Wat beteken dit om jou te bekeer? Dit beteken jy moet jou sonde sien. Jy moet jammer wees oor wat jy gedoen het, jy moet dit voor God en mense bely en om vergifnis vra. Laastens, maar waarskynlik die moeilikste, moet jy weg draai van jou sonde en daaraan werk om dit nie weer te doen nie.

Dawid het besef dat sy sonde tussen hom en God gekom het. Om dit te demonstreer het ek ‘n muntstuk in ‘n leë glas laat val. Voor ons sonde kan ons maklik by God kom en met hom ‘n verhouding hê. As ons egter sondig kom hierdie sonde in die pad. Plaas nou ‘n sneesdoekie oor die glas en maak dit vas met ‘n rekkie. Jy kan versigtig met ‘n rooi koutjie sondes op die sneesdoekie skryf soos steel, jok, haat, jaloesie ens. As jy nou weer die muntstuk in die glas probeer gooi by dit op die sneesdoekie lê.

Neem ‘n spuitbottel met ‘n bietjie rooi gekleurde water. Die water stel Jesus se bloed wat vir ons aan die kruis gevloei het voor. Hy het reeds vir ons gesterf en opgestaan, maar voor ons nie ons bekeer nie, beteken dit vir ons niks nie. As ons ons egter bekeer kan daardie bloed ons sonde bedek. Sproei die gekleurde water op die sneesdoekie. As jy op die sneesdoekie geskryf het sal die woorde nou verdwyn. Gooi nou weer die muntstuk in die glas. Dit val dwarsdeur die nat sneesdoekie. Ons kan weer vrylik na God gaan en met hom ‘n verhouding hê.

In ons lewe gaan ons net soos Dawid dikwels sondig, ons is immers net mense. Dit is egter wat ons doen nadat ons gesondig het wat die verskil maak. Ons kan hardnekkig vasklou aan die sonde of ons kan ons bekeer en weer die verhouding herstel met God en heel mense word.

Dawid het ‘n ongelooflike mooi psalm geskryf nadat Natan by hom was. Lees Psalm 51. Daarin lees ons hoe Dawid besef het dat hy teen God gesondig het en dat dit tussen hom en God staan. Dit beskryf ook mooi hoe Dawid hom bekeer het.

Al het God Dawid se sondes vergewe was daar egter steeds gevolge daarvan. Dawid en Batseba se babatjie is dood. Sonde het altyd gevolge. Tog het God weer vir Dawid en Batseba geseën en een van hul ander kinders was koning Salomo.

Ek het die prent afgelaai by www.whatsinthebible.com (en die byskrif in Afrikaanse vertaal) en teksverse vir die kinders gedruk om in te kleur en te onthou. Laai dit gerus hier af.