5 November 2023
Share

Die laaste tyd hoor ek te veel ma’s sê dat hul voel soos ‘n flop of dat hul voel hul tuisskool pad is ‘n flop. Of wat as hulle gaan flop? Dis ‘n interessante woordkeuse en hoekom juis die woord so prominent op die oomblik is weet ek nie. Maar…

Dis die tyd van die jaar. Ons is almal moeg. Die jaar was lank. Te lank.

Boonop loop almal se stresvlakke super hoog oor die voorgestelde BELA wetsontwerp wat op die tafel is. Hoe gaan dit ons raak? Gaan ons al die nodige boksies kan afmerk om die departement gelukkig te hou? Familie en vriende is weer aan die loer oor almal se skouers en oral gons dit net oor wat die toekoms vir tuisonderwys moontlik na kan lyk.

Watter waarborg het enige ma egter dat sy nie gaan flop nie? Al waarop ons kan vertrou is dat die Here se genade ons elke dag dra. In ons eie krag kan ons dit nie doen nie. Verder is ek oortuig dat Hy’t ‘n hart vir kinders het en dat Hy ten spyte van ons tekortkominge en uitdagings dinge ten goede vir hulle werk. Ons moet net bly vertrou.

Soveel keer in die verlede het ek gedink ons het nie die beste materiaal of kom nie by als uit nie. Hoeveel keer het dit nie gevoel asof die wiele afkom nie? En tog in retrospeksie was dit wat nodig was in daardie tydvak.

Ons kan net elke dag doen wat ons kan binne die vermoëns en uitdagings wat ons tans het en Hom vertrou vir die res.

Dit beteken egter nie dat dit aldag maklik is om nie in selfvertwyfeling te verval nie. Die tyd van die jaar vind ek dat dit goed is om te gaan stil staan en te kyk wat ons wel bereik het. Skryf dit neer. Elke dingetjie, al is dit hoe klein. Wat het jul gelees? Op watter uitstappies was julle? Wat het jou kinders reg gekry of op verbeter? Watter aktiwiteite het hulle gedoen? Watter maats het jou kinders gemaak of vriendskappe het hulle opgebou? En nee, dit hoef en moet ook nie net akademies van aard wees nie. Hoe het hulle emosioneel gegroei? Watter uitdagings het hulle (en jul gesin) die jaar oorkom? Watter projekte het hulle aangepak? Watter kuns het hulle geskep? Of stories geskryf?

Mens dink altyd daar het nie veel gebeur nie, tot jy stadig deur die jaar begin dink. Gaan deur jul foto’s om jou te help. Daardie lysie groei vinniger as wat jy dink en as jy weersien besef jy dat julle verder gekom het as wat jy aanvanklik gedink het.

En as die gat te diep is om die ligpunte te sien praat met die mense rondom jou. Hoor by hulle wat hulle die jaar sien gebeur het. ‘n Ander se perspektief kan so baie help.

My laaste wenk is om gereeld tyd te maak om saam met ander tuisskoolma’s te kuier. Ons het dit nodig. Dis nodig om in die vreugde van mekaar se klein oorwinnings te deel. Nodig om te hoor ander sukkel ook. Ons is nie alleen nie!!!

Ek weet om die tyd af te knyp as jy voel dinge val in mekaar klink onmoontlik, maar op die langtermyn is daardie ondesteuningsnetwerk krities belangrik vir jou eie emosionele behoud. Knyp dus die tyd af. Dis ons ma’s se weergawe van AA en help ons om moed en spoed te hou.