Ouerskap

Akademie kan wag

Daar is alweer ‘n beweging vir kinders om vroeër akademie geleer te word. Dit is een van die grootste probleme in moderne skole en tog is daar altyd weer ‘n groep wat voel kinders moet nog vroeër geleer word.

Dit alles word gemotiveer uit die feit dat jong kinders soos sponse is en in ‘n fraksie van die tyd iets kan leer wat ouer kinders (en volwassenes) dit kan leer. Die feit dat daar al meer en meer navorsing is wat wys dat formele onderrig op vroeë ouderdom skadelik vir kinders is, word onder die mat gevee. Al meer professionele mense staan op om ‘n swaai te probeer bring. So het die Amerikaners “Better late than early”, in Brittanje is daar weer “Too much too soon”. Maar dis asof ons so vasgevang is in die resies om kinders te hê wat slimmer is as hul maats dat ons net nie na rede kan/wil luister nie.

Die gevaarligte flikker, sirenes skree, maar ons is horende doof en siende blind. Jonger en jonger kinders lei aan depressie, , is angstig, het selfmoordneigings, klein angsaanvalle ens. Maar ons wil blykbaar nie besef dat ons die oorsaak van die probleme is nie. Dat vroeër nie beter is vir kinders se emosionele welstand nie. (Ook nie noodwendig eers vir hul akademiese welstand nie, navorsing dui juis daarop dat vroeë akademie lei tot probleme soos disleksie, onvermoë om met begrip te lees, ens.)

Maar jong kinders leer dan soveel makliker? Natuurlik. Hulle is bedoel om sponse te wees. Daar is ‘n magdom inligting wat hulle moet inneem en verwerk. Die probleem is dat ons dink dit is bedoel om akademiese inligting te wees.

Vir eeue het samelewings besef dat daar belangriker dinge was vir jong kinders om te leer as akademie. Kinders het tuis geleer lees en skyf en basiese reken. Dinge wat hul ouers vir hul kon leer. Eers op 12/13 (soms selfs later) het formele onderrig buite die huis begin.

Hoekom? Omdat mense geweet het dat daar belangriker dinge was wat kinders in die sponsie-fase moes leer. Werksetiek, interpersoonlik verhoudings, simpatie, empatie, deursettingsvermoë, geduld en en. Dit is die moeilike dinge om te leer. Kinders het saam met hul ouers gewerk en geleef. Eers wanneer hul op die drumpel van volwassenheid gestaan het het die fokus na akademie geskuif.

Die gevolg was dat kinders reeds op 13/14 emosioneel volwasse was! Daarenteen sit ons vandag met mense wat op 18/21 (en dikwels nog later) eers emosioneel volwasse is. Ons mag grappies maak oor die millinnials, maar dis gedeeltelik die skuif na akademie ipv karakter bou wat hul geskep het. Tog stoomroller ons voort. Ons gaan staan nie stil en dink wat ons kan leer uit hul gedrag nie.

Elke oomblik wat ons ‘n kind van 18 maande syfers leer of ‘n 3 jarige om te leer lees, ‘n 4/5 jarige om maalsomme te doen, is ons besig om tyd te steel van belangriker dinge. Toe hul vestibulere en motoriese stelsels moes ontwikkel sodat bo, onder, links, regs, potlootgreep, skouerstabiliteit en soveel meer vas gelê kon word moes hul by ‘n tafel sit en op papier werk (waarop hul oë nog nie kon fokus nie, omdat jong kinders versiende is en hul naby visie nog nie goed ontwikkel is nie). Ons het tyd wat hul moes leer om te werk en te deel met ander gesteel om op dinge te fokus wat hul later (miskien stadiger) kon leer.

Ouer kinders leer akademie miskien stadiger as jonger kinders, maar ouer kinders leer goeie karakter eienskappe nog moeiliker as jonger kinders. Die gesegde is nie verniet “buig die boompie terwyl hy jonk is nie”. Leer kinders goeie karakter terwyl hul jonk is en hul sal dit onthou tot in hul grysheid.

Ons span die kar voor die perde en kan dan nie verstaan hoekom dinge nie wil werk soos ons gehoop het nie. En hoe meer die akademiese druk raak hoe minder verwag ons op ander gebiede van ons kinders. Hulle hoef nie huis skoon te maak, skottelgoed te bêre, wasgoed te was ens nie, want daar bly dan nie tyd oor vir speel (wat ook belangrik is!) nie. Min besef ons dat die fisiese werk las wat ons probeer verlig, juis die plek is waar hul leer om ‘n bydra tot die samelewing te maak, leer om verantwoordelikheid te vat, leer dat daar dinge is wat jy doen nie omdat dit lekker is of jy beloon word daarvoor nie, maar omdat dit gedoen moet word.

Daar was natuurlik nog ‘n voordeel daaraan gewees om jong volwassenes eers akademie te leer. Hulle kon al vir hulself dink en redeneer. Hulle het al die onderskeiding gehad om te weet wat reg en verkeerd is. Dit is natuurlik ‘n probleem vir die wat propaganda in kinders se kele wil afdruk. Dis soveel makliker om ‘n kind te indoktrineer as ‘n volwassene. En of ons nou daarvan hou of nie daar is nooit ‘n gebalanseerde siening wat geleer word nie. Dis altyd uit een party se oogpunt, om sy siening ander se siening te maak. Geskiedenis leer ons hoe regerings dit gebruik het om hul ideologie uit te dra. Hoe hul massas oortuig het om teen rasionele denke op te tree.

Miskien is die grootste prys wat kinders betaal dat hul nooit tyd het om hul passie te ontdek nie. Dat ons hulle die wêreld instuur, sonder ‘n idee wat hul werklik gelukkig maak. Waarvoor hulle die ekstra myl sal stap, omdat dit wat hulle wil bereik vir hulle saak maak.

Dis tyd dat ons weer besef ons kinders se karakter is belangriker as hul akademie. Dat daar dinge is wat kan wag, terwyl ons werk aan dit wat werklik belangrik is!

Advertisements
Categories: Ouerskap, Uncategorized | Sleutelwoordw: ,, | 4 Kommentaar

Die eenvoudige antwoord

Met die nuutste PIRLS verslag uit wat gevind het dat amper 4 uit elke 5 tienjariges nie met begrip kan lees nie is almal weer in rep en roer oor die toestand van onderwys in ons land. Die hartseer is dat ons steeds met oogklappe rond loop. Lees mens die berigte is die klem op die swak prestasies by lae inkomste skole en landelike gebiede. En, ja, die kinders se lees vaardighede is beroerd en kort dringend aandag!!!

Maar hier is die skokkende ding. Alhoewel dit beter gaan in middelklas Afrikaans en Engelse skole gaan dit steeds katastrofies sleg! Hier is ‘n paar statistiek uit die verslag oor ons Afrikaanse kinders indien iemand nog gedink het ons sit mooi “hoog en droog”. Lees voort

Categories: Alles in 'n dag, Ouerskap, Uncategorized | Sleutelwoordw: ,,,,,, | 4 Kommentaar

Los die kind

Ons het ‘n groot gees in die tuisonderwys kringe verloor laas jaar. Leendert van Oostrum was net een van daardie mense wat jy nie sommer weer vergeet as jy hom eers in die oë gekyk het nie. Al was dit net in ‘n skare mense en hy geen benul het wie jy is nie.

My eerste ervaring was ‘n praatjie deur hom oor die veranderinge in ons wêreld en hoe die skoolstelsel nie saam met dit aangepas het nie. Dit het my wiele aan die draai gesit. Rus ons werklik nog ons kinders toe om gelukkige suksesvolle volwassenes te word? Lees voort

Categories: Ouerskap, Tuisonderrig, Uncategorized | Sleutelwoordw: ,, | 2 Kommentaar

Kinders en die Bybel

‘n Paar jaar terug het ek ‘n nuwe vriendin ontmoet wat nie vir haar kinders uit Kinderbybels gelees het nie, maar uit die Bybel. Dit was vir my ‘n vreemde konsep. Was die Bybel nie bietjie te ingewikkeld vir klein kindertjies nie? My eie kinders wat op daardie stadium 3 en 5. Tog was ek al redelik uit gelees aan die prente Bybels en hul herhalende temas.

Ons het dit dus probeer en ek was redelik verbaas hoe baie die kinders werklik verstaan het. Vandag verbaas dit my nie meer so baie nie. Ek het al agter gekom dat kinders se boeke al meer en meer vereenvoudig geraak het deur die jare. Daar was immers ‘n tyd wat kinders leer lees het deur die Bybel te lees! Lees voort

Categories: kleuter, Ons lees, Ouerskap | Sleutelwoordw: ,,,, | 2 Kommentaar

Werk slimmer, nie harder

Daar is iets wat ek al meer en meer die laaste ruk besef. Met kinders kan jy harder werk. Of jy kan slimmer te werk gaan.

Sien die ding is dat jy elke dag vir ure kan sit om iets in hulle koppe te kry. Uiteindelik sal hulle dit snap. Dit vat egter heelwat werk en deursettingsvermoë. En as jy met ‘n besige knaap met rysmiere te doen het, heelwat frustrasie (van beide kante). Lees voort

Categories: Graad 1, Graad 2, Graad 3, Graad R, Ouerskap, Tuisonderrig | Sleutelwoordw: ,,,, | 15 Kommentaar

Sosiale probleme en boelies

Tuisonderrig is nou nogal gereeld in die media die laaste tyd. Ek verstom my soms oor wat “kenners” in van die artikels kwytraak. Ek wonder dikwels hoekom hulle nie ‘n bietjie moeite gedoen het om ‘n ingeligte opinie te lewer nie. Dis maklik om ‘n persoonlike opinie te lig, maar as jy jou naam en kundigheid gaan koppel aan iets, moet jy tog ‘n bietjie meer gedagte daaraan skenk. Anders gaan mense wat iets weet, gate slaan in wat jy kwyt raak.

Die interessantste bly egter altyd vir my om die kommentaar kolom te lees. Mense maak soms daar die vreemdste opmerkings. Daar is immers altyd die siel wat te vertel het van die een kind of gesin wat hy/sy ken wat totaal sosiaal wan aangepas is. Ek bevraagteken nie sy waarneming nie, maar ek sou tog graag met die siel ‘n gesprek wou hê om te hoor of die kind(ers) die enigste sosiaal wanaangepaste mense is wat hy ken? Persoonlik ken ek baie sulke mense. Ja, van hul is in die tuisonderrig gemeenskap, maar meer is/was in skole (dit maak seker net sin siende dat meer mense skool toe gaan as tuis onderrig word). Lees voort

Categories: Ouerskap, Tuisonderrig | Sleutelwoordw: ,, | 7 Kommentaar

‘n Oujaar pakkie

Tradisies is iets wat ons geborge laat voel. Dit skep herinneringe en het die vermoë om mens sag en “squashy” te laat voel (soos my woelwaters dit sou stel). Beste van alles is dat dit nie groot of duur goed hoef te wees nie. Ek dink byvoorbeeld terug aan sjokolade eet na Sondag middag slapies op my ouers se bed. So is ons gesin besig om weer ons eie tradisies te skep.

Einde laas jaar lees ek die oukersaand boks tradisie raak. Dit lyk toe vir my soos ‘n fantastiese manier om die jaar mee af te sluit. Die vorige jaar was die eerste jaar wat die kinders besef het oujaar is iets wat gevier word. Tog raak die aand lank om te wag vir 12 uur. Dis daarom dat die boks idee by my byval gevind het. Daarby is verrassings mos altyd ‘n lekkerte.

‘n Hele rukkie terug het ons dus al lanterns gemaak om oujaarsaand aan te steek. Dit was so ‘n maklike aktiwiteit en hulle was mal oor die knip, plak en teken. Saam met al die kerse het dit toe oujaarsaand ‘n heerlike atmosfeer geskep.

DSCF6884 Lees voort

Categories: Alles in 'n dag, Die woelwaters, Ouerskap | Sleutelwoordw: ,,, | 14 Kommentaar

Spog vir ‘n vale

Dit is die tyd van die jaar dat al wat ouer is vir ‘n vale spog met hul spruite. Daar is sertifikate en rapporte net waar jy kyk. Ek het egter al heelwat kritiek ook raak gelees van siele wat dink dit is onregverdig teenoor die kinders wat nie akademies sterk is nie. Ek hoor hulle hart, maar ek stem nie heel saam nie.

DSCF4094

Sien uoers is nou maar een maal gemaak om te spog met hul kinders. Dit is net hoe ons aan mekaar gesit is. Vandat daardie klein lyfie sy of haar opwagting maak vind ons iets om oor te spog. Dikwels subtiel, maar ons kan ons self net nie verhelp nie. En dit hoort ook so. Elke kind is spesiaal en uniek en iemand om op trots te wees. Lees voort

Categories: Ouerskap | Sleutelwoordw: ,, | 15 Kommentaar

Ouerskap ‘n olimpiese sport

Ek sit en dink gister dat ouerskap nes enige ander olimpiese sport is. Die atlete spandeer jare en jare om in hul item te vorder. Dit beteken ure van sweet en baie opofferings. Daar is baie waarop hulle uit mis vir ‘n kans om ‘n olimpiese medalje te verower. Vir meeste van ons is die toewyding net nie die moeite werd nie. Tog is ek seker elke atleet by die spele sou dit nie anders wou gehad het nie.
Ouerskap is baie dieselfde. Daar is soveel aanpassings en opofferings wat mens maak om kinders groot te maak. Tog is dit alles deur en deur die moeite werd. Dit is nie ‘n kort termyn projek nie. Vir jare bou mens aan kinders karakters en mens wees. Dit verg toewyding elke liewe dag. En dis eers soveel jare later wat jy “resultate” sien.

Mag ons as ouers nie ook soos van hierdie atlete by die olimpiese spele kom en besef ons moes dalk nog ‘n paar uur harder geoefen het om ‘n medalje te verseker nie. Mag ons vandag die ekstra uur afknyp om in ons kinders se lewe te belê.

 

Categories: Ouerskap | Lewer kommentaar

Beste ruiltransaksie ooit

Dis ongelooflik om te dink 6 jaar terug het ons uitgevind ons is swanger vir die eerste keer. Dit voel dan nog soos gister toe ek bewend en ongelowig na daai twee strepies op die toetsie gekyk het. Vandag hardloop hier 2 besige lyfies in ons huis rond en sorg vir hope vreugde (en met tye uitputting). Mens moet seker eers self kinders hê om presies te verstaan hoe baie hul mens se lewe verander.

Verby is kerslig etes, opkrul op die bank voor die TV en vroeg gaan inkruip snags. Ons het dit ingeruil vir skaterlaggies, nat oopmond soene en die heerlikste kinderdrukkies. Ons silwerskoon huis het ons verruil vir taai handjies, sjokolade bekkies en blik ogies. Laat slaap naweke het nou oggende van rofstoei en lag op die dubbelbed geword. Dit als was die beste winskoop ooit.

So tussen die min slaap deur vergeet mens soms van al die nuwe wonder wat in jou lewe is. Dankie aan my japsnoete vir al die vreugde, onvoorwaardelike liefde en vertroue. Dis ‘n voorreg om julle mamma te kan wees en elke oomblik van elke dag met julle te deel.

Categories: Ouerskap | Lewer kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.