0

Ma vs juffrou

11 October 2022
Share

Elke nou en dan hoor ek iemand kon nie tuisskool nie omdat hulle nie die balans kon vind tussen ma wees en juffrou wees nie.

Die interessante ding is dat onderwys besig is om te verander. Navorsing wys dat kinders die beste leer as hulle gefasiliteer word; as iemand hul hand vat en saam met hulle ontdek en leer. Hulle leer nie goed as ons bloot ons kennis aan hulle wil oordra nie.

Die tradisionele manier van kinders se koppe vol feite stop is aan die uitsterf. Jy hoef dus nooit jou kinders se juffrou te wees nie! Jy kan saam met hulle leer en ontdek.

Iets wat ons ook nie altyd verstaan nie is dat kinders eers kan leer by iemand as hulle daardie persoon vertrou. As hul glo dat wat iemand hul vertel die waarheid is. Juis daarom is ouers fantasties toegerus om hul kinders te leer.

Dit is om hierdie rede dat meer en meer skole begin oor beweeg na ‘n stelsel waar ‘n onderwyser ‘n hele fase by dieselfde groep kinders bly. Of selfs soos in lande soos Finland se geval tot 6 jaar.

Nie net leer die onderwyser die kinders beter verstaan nie, maar die kinders leer beter by die onderwyser.

Selfs hier in Suid Afrika is daar skole wat die konsep gesnap het en kinders die hele grondslagfase by een onderwyser hou. Dit is ongelooflik om te sien hoe dit die kinders se gedrag beïnvloed en ook hoe maklik hul instruksie van hul onderwyser ontvang.

As ons mooi daaroor dink het ons as ouers alles wat ons kinders moes leer voor hul skool toe is vir hulle geleer. Ons het hul leer sit, kruip, loop, praat. Vir hul maniere en al die “soft skills” soos probleem oplossing, om te kommunikeer, saam te werk, te deel, hoe om konflik te hanteer, ens.

Ons het dit nie gedoen deur voor ‘n swartbord te staan en dit vir hulle te verduidelik nie. Ons het nie handboeke nodig gehad of enige ander onderwys materiaal nie. Ons was bloot net daar. Ons voorbeeld en leiding en hope geduld was al wat nodig was. Hulle het bloot die ruimte nodig gehad om die wêreld rondom hul waar te neem, dit na te boots en iets oor en oor te probeer tot hul dit reg gekry het.

Ek vermoed deel van die probleem is dat kinders deesdae vroeg reeds by dagsorg of ‘n kleuterskool in ander se sorg geplaas word. Ons ervaar dus nie meer eerstehands hoe kinders leer en groei nie. Ons dink ‘n dagmoeder of juffrou is nodig om hul die dinge te leer. Terwyl hul eintlik self organies dit doen en bloot ‘n veilige omgewing nodig het om dit in te doen.

As jy dus een van daardie ouers is wat sukkel om die balans tussen juffrou en ma te vind, pak bloot die juffrou weg en wees net ma! Jy is meer as genoeg vir jou kinders. Vat hul hand en ontdek saam met hul die wonderlike wêreld om ons. Wat ‘n wonderlike avontuur om saam aan te durf.

Een ding wat ek jou kan waarborg is dat jy meer as hulle in die proses gaan leer!