6 November 2022
Share

So dikwels bou ons ons identiteit op ander mense. Ons ouers, kinders, eggenoot, vriende. Of selfs ons werk of ander aktiwiteit wat ons doen soos sport of prestasies. Om nie eers te praat oor die invloed wat sosiale media het op wat ons van ons self dink nie.

Die ironie is hoe hierdie mense ons behandel sê minder van ons as wat dit van hulle sê. Mense tree op vanuit wie hulle is en hoe hul reageer is iets intern in hulle. Dit gaan nie werklik oor die persoon teenoor wie hul reageer nie. Dit is ‘n moeilike konsep om te verstaan.

Dikwels sal een van my kinders sê X het hul kwaad/hartseer gemaak. Die realiteit is X mag dalk iets gedoen/gesê het, maar X het hulle nie kwaad/hartseer gemaak nie. Dis hulself wat kwaad/hartseer geword het. Dis jy wat reageer op ‘n manier en dit is jou keuse hoe jy reageer. Natuurlik sit ons almal met letsels, wonde en sommer net persoonlikheidstipes wat maak dat ons maklik op ‘n sekere manier reageer. Tog bly dit in jou hande hoe jy gaan reageer.

Wie jy is, miskien nog meer wie jy glo jy is, gaan egter ‘n groot invloed hê op jou reaksie en sommer net hoe jy elke dag van jou lewe gaan aanpak en met ander omgaan.

Ons kan wie ons is en glo ons is bou op die mense en dinge om ons. Ons gaan egter altyd met ‘n verwronge beeld sit. Of ons kan dit bou op dit wat ons Maker van ons weet. Wie beter as Hy weet wie ons werklik is en wat ons werklike waarde is.

Jy kan ‘n diamant swart smeer en dit steenkool noem. Dit verander egter nie die waarde van die diamant nie. Dit maak wel dat die diamant nie tot sy volle reg kom en skitter of bruikbaar is soos dit bedoel was om te wees nie. Ons kan egter ook ‘n diamant slyp en so sy waarde drasties verhoog.

Net so kleur die wêreld ons dikwels in en ons raak weg onder dit wat ander dink. Dit is tyd om daardie kleur af te skrop en te word wie ons werklik is. Beter nog om toe te laat dat ons geslyp word en selfs meer werd word as dit.

Ek dink ons almal kort dikwels iets om ons te herinner wie ons werklik is. Daarom het ek 32 teksverse saam gesit om jou (en my) terug te bring na die waarheid oor wie ons elkeen is. Laai dit gerus gratis in my winkel af by https://lomi.co.za/product/my-identiteit-kaartjies/.

Druk dit uit. Hopelik is dit maklik om dit so ook te deel met jou kinders en vriende. Ons almal kan doen met ‘n beter perspektief oor wie ons is.