0

Die waarde van min

10 April 2023
Share

As jy hierdie lees is die kans groot dat jou kinders groot word met oorvloed. Ek weet meeste van julle gaan met my verskil, want ons leef in ‘n wêreld wat konstant klem lê op wat ons NIE het NIE. Wat meer dinge aan ons wil verkoop en wil hê dat ons inkomste moet groter en groter word om al daardie “noodsaaklikhede” aan te skaf.

En natuurlik wil ons vir ons kinders alles gee wat ons gehad het en meer. Meer dinge, meer geleenthede, meer, meer. Maar is dit goed vir hulle? Die realiteit is dat daar waarskynlik in die geskiedenis nog nooit ‘n tyd was wat kinders soveel klere, speelgoed, aktiwiteite, keuses vir kos en vele meer gehad het nie. Is hul egter gelukkiger? Bring dit vir hulle groter vreugde as vorige generasies?

Die ironie is dat hoe meer hul het hoe meer kla hul dat hul meer wil hê, meer wil doen. Wie van julle ken nie die “ek is honger” en dan is daar ‘n verskeidenheid eet opsies beskikbaar nie, maar jou kind is nie nou lus vir dit nie. Hulle soek iets anders om te eet. Ons en hulle is vet bederf met oorvloed en verskeidenheid en meeste van die tyd besef ons dit nie eers nie.

Vandag wil ek dus vir jou wys wat die voordele daarvan is vir kinders (en onsself) om minder dinge te hê. Om nie altyd te kry wat ons harte begeer nie.

Hoe minder ons het hoe makliker is dit om die waarde van dinge te besef. Dit gee ons die geleentheid om dit te waardeer wat ons het. Ons pas dit ook beter op.

Om een of ander rede is dit ook bevrydend. Meer goed het die vermoë om ons te versmoor. Of miskien is die hoeveelheid keuse net vir ons oorweldigend. Dit is interessant dat kinders in ‘n kamer vol speelgoed dikwels verveeld sal wees en kerm dat hulle niks het om te doen nie. Tog as daar net ‘n paar opsies is speel hul met vreugde en is daar gewoonlik nie genoeg ure in die dag om als te speel wat hul wil speel nie.

Ons is maar baie dieselfde. Tuisskoolma’s sal altyd meer en beter hulpbronne wil hê, maar wanneer ons baie opsies tot ons beskikking het kan ons nie besluit watter een om te gebruik nie. Of daardie kas vol klere wat jy net nie kan besluit wat om aan te trek nie. Ons almal het al met ‘n soortgelyke probleem gesit. Te veel keuses is net TE VEEL vir ons.

Om nie net altyd te kry wat hul wil hê nie, leer ons kinders om te werk vir dit wat hulle wil hê. Interessant genoeg spandeer kinders ook nie geld waarvoor hulle gewerk het so maklik soos geld wat hulle geskenk gekry het of hul ouers se geld nie.

Een van die groot wenne vir my is dat dit kreatiwiteit ontwikkel en hulle leer om probleem oplossing te doen. Hulle begin dink hoe hulle dit kan skep wat hulle wil hê. My 9 jarige het ‘n reuse pophuis uit ou bokse en afval produkte geskep. Sy wou nog altyd ‘n pophuis gehad het en het net eendag besef dat dit moontlik is om haar eie te bou. Ek moet erken die huidige een is seker al die derde of vierde model. Elke kort-kort besluit sy sy kan beter doen en dan hou sy net die goed waarvan sy regtig hou, gooi die res uit en begin van vooraf.

Wat aansluit by die boonste punt is dat kinders om dit wat hulle het reg te maak en dinge te hergebruik (wat baie meer omgewingsvriendelik is). My mond hang gereeld oop vir dit wat my 16jarige als kan regmaak of uit komponente en parte van stukkende goed te bou. Vriende het al geleer dat hy die man is om te vra om iets reg te maak of ou elektroniese toestelle voor te gee om vir komponente te stroop.

Bonus van dit is dat hulle nuwe vaardighede aanleer. Die 9jarige is ‘n “pro” met ‘n “hot glue gun”, die 16jarige het geleer soldeer, fyn werk en veilig werk.

Daar is natuurlik ‘n fyn balans. As ons werklik te min het kan dit beperkend wees en ‘n mens se moed breek. Jy het immers iets nodig om mee te begin; jy’t geleenthede nodig om te werk vir geld.

Volgende keer as jy dus iets vir jou kinders wil kry, dink eers of dit regtig noodsaaklik is. En nee alles hoef nie noodsaaklik te wees nie, maar dikwels is daar waarheid in die uitdrukking “less is more”.