Een van my kliënte vra onlangs vir my hoeveel tyd haar graad O (R) aan wiskunde in ‘n week behoort te spandeer. Voor ek dit beantwoord gaan ek iets sê wat jou mag verbaas veral van iemand wat ‘n wiskundeprogram en -produkte verkoop.
In die grondslagfase (en voorskool) sou ek baie meer tyd en aandag aan taalontwikkeling spandeer as wiskunde. Taal is die hoeksteen waarop alle leer gebou word. Ja, selfs wiskunde! Geen kind kan wiskunde doen as hulle nie met begrip kan lees nie. ‘n Som kan nie aangepak word as jy in die eerste plek nie verstaan wat hulle vra nie. Tog het die onlangse PIRLS verslag getoon dat net 18% van graad 4 kinders met begrip kan lees en dat ouer kinders nie veel beter vaar nie.
Ek het nie die nuutste PIRLS bekyk nie, maar die vorige een het getoon dat Afrikaanse kinders nie die probleem vryspring nie. Ek het daaroor in 2017 geskryf.
Hierdie kinders word opgestel om akademies te vaal. Om nie eers te praat van die uitdagings waarmee hulle na skool gaan sit nie.
Die ding van taal- en leesbegrip is dat dit nie primêr in ‘n klaskamer ontwikkel word nie. Kinders leer taal deur hul ore van die dag wat hulle gebore word (streng gesproke al voor dit wanneer hul ore al in die baarmoeder die klanke van hul moedertaal begin uitken). Dit is dus voorskool en tuis waar kinders blootgestel moet word aan goeie taal om oor tyd ‘n goeie woordeskat en begrip van daardie taal te ontwikkel.
In ons land sit ons natuurlik met die bykomende uitdaging dat meeste kinders ongelooflik baie blootstelling aan Engels het, terwyl hul eie moedertaal afgeskeep word. Dikwels dink ons dat dit hul ‘n voorsprong gee in ‘n Engelse wêreld, maar die realiteit is dat ons tweede taal se ontwikkeling beperk word deur die vlak waarop ons moedertaal ontwikkel is. In ‘n tweetalige (of selfs meertalige) wêreld het ons dus nodig om meer tyd aan ons moedertaal te spandeer, juis om die ander tale ook optimaal te kan gebruik.
Daarom is die heel beste ding wat jy ooit vir jou kind akademies kan doen om aandag aan hul taalontwikkeling te gee. Een van die maklikste en goedkoopste manier is om daagliks vir hul voor te lees. Ek het hope leeslyste waar julle idees vir goeie boeke kan vind (een daarvan is ‘n lys met lewendeboeke). Natuurlik is daar ander maniere ook. Daar is produkte soos Luistervinkstories wat besige ouers help om te bou aan taal. Die wonderlike ding van voorlees is dat dit soveel ander voordele het en dan vir ‘n ekstra bonus help dit oor tyd ook jou kind se konsentrasie vermoë verbeter.
Daarom as jy net 1 uur ‘n dag beskikbaar het om 100% op jou kind te fokus, gebruik die tyd om vir jou kind voor te lees. Die Bonus is dat as jy meer as een kind het dat daardie 1 uur iets is wat aan hulle almal se ontwikkeling bou. Dis nou wat mens ekonomiese tyd bestuur vir besige ma’s noem.
Maar terug na die oorspronklike vraag oor hoeveel tyd om aan wiskunde te spandeer. ‘n Graad O (R) kind hoef regtig nie meer as 15 minute 2 tot 3 keer ‘n week formeel aan wiskunde te spandeer nie. En die res van die grondslagfase nie meer as 15 minute 3 tot 4 keer ‘n week nie. Met formeel bedoel ek tyd wat iemand aktief met ‘n kind sit en fokus op wiskunde. Dit kan ‘n speletjie, werkvel of aktiwiteit wees of bloot om ‘n konsep vir hul te verduidelik.
Dit is egter beslis nie al tyd wat ‘n kind in ‘n week aan wiskunde spandeer nie. Wiskunde, net soos taal, is iets wat ons nie primêr op papier leer nie. Dit is oral in die wêreld om ons en kinders span dit elke dag wetend of onwetend in. Daar is dus hope tyd nodig vir hulle om informeel aan wiskunde begrippe blootgestel te word en dit organies te leer. Dit sluit in vryespel (soos verbeelding spel, ‘n karretjie dorp bou in die tuin, popspeel, ‘n boks omskep in ‘n oond/TV of wat ook al, in die bad met koppies speel en so volumes ontdek, ens. Die belangrikste deel van vryespel is dat die kind in beheer is. Dit is nie iets wat jy vir hulle beplan of hul mee voorsê nie! Vir ons lyk dit net soos speel, maar vir hulle is dit ‘n manier om van die wêreld om hul sin te maak en dinge beter te verstaan.), gestruktureerde spel (lego speel, legkaarte bou, blokkies speel, patrone bou, krale ryg, logika speletjies en bordspeletjies speel, ens.), gesprekke wat hul met ander het (wat woordeskat bou – veral dit wat met wiskunde te doen het; tydsbegrippe, saam, minder/meer as ens val onder dit) en alledaagse dinge wat hul doen waar hul die konsepte toepas (inkopies doen, koekbak, iets bou of reg maak, dinge weeg en meet, ens).
Die wonderlike ding van hierdie informele leer is dat dit ook bou aan ander vaardighede (soos spiertonus, fyn motoriese ontwikkeling, skouer stabiliteit, proposisie, balans ens) wat krities nodig is in alle areas van leer en ontwikkeling.
Die kruks van die saak is dus dat kinders tyd nodig het om te wees en te speel. Tyd waarin ons hulle nie besig hou met akademie, skermtyd, sport en ander buitemuurse aktiwiteite nie. Tyd is kosbaar. Ons moet dit wys spandeer.