Met die nuutste PIRLS verslag uit wat gevind het dat amper 4 uit elke 5 tienjariges nie met begrip kan lees nie is almal weer in rep en roer oor die toestand van onderwys in ons land. Die hartseer is dat ons steeds met oogklappe rond loop. Lees mens die berigte is die klem op die swak prestasies by lae inkomste skole en landelike gebiede. En, ja, die kinders se lees vaardighede is beroerd en kort dringend aandag!!!
Maar hier is die skokkende ding. Alhoewel dit beter gaan in middelklas Afrikaans en Engelse skole gaan dit steeds katastrofies sleg! Hier is ‘n paar statistiek uit die verslag oor ons Afrikaanse kinders indien iemand nog gedink het ons sit mooi “hoog en droog”.
Afrikaanse kinders het gemiddeld 369 punte gekry (uit 1000!). Dit is onder die minimum vlak van die gradering. Kinders wat onder 400 punte gekry het kan nie met begrip lees nie. Tussen 400 en 474 punte kan hul lees om inligting te vind. En eers bo 475 kan hul inligting begin interpreteer. Engelse onderrig het met ‘n skrale 3 punte beter gedoen met 372 punte. Suid-Afrika lê onder lande soos Koeweit (393) en Iran (428) wat vir ons ‘n ontstellende laaste plek in die studie gewen het.
56% van Afrikaanse kinders het nie die minimum vlak van die gradering gehaal nie. Helfte van Afrikaanse kinders kan dus teen die einde graad 4 nie met begrip lees nie. Dit terwyl daar al van hulle verwag word om inhoudsvakke te leer en daarin eksamens te skryf!
Ergste is dinge raak slegter. In 2011 het Afrikaanse graad 4’s darem 397 gekry. Dus net onder die laagste vlak. In die laaste 5 jaar het graad 4’s se leesvaardigheid met 28 punte gedaal.
Net 0.2% van ons land se graad 4’s kan gevorderd lees, 1.9% kan goed lees, 7.5% gemiddeld en 22% swak. Met die oortollige 78% wat glad nie met begrip kan lees nie.
85% van die kinders was wel in kleuterskole. Vroeër aanvang van onderrig is dus ook nie die antwoord om die probleem te verbeter soos meeste politiese hoop nie.
Die studie wys dat kinders wie se ouers graag self lees beter gedoen het (359 teen die 307 van ouers wat nie graag lees nie).
En dit gaan nie beter met ander vakke nie (mens kan immers niks anders verwag nie. Kinders moet kan lees om enige ander vak gebied aan te durf). SA het 2de laaste gekom (uit 48 lande) vir graad 4 en 8 in wiskunde en laaste vir graad 8 wetenskap in die 2015 TIMMS studie. Die ergste is dat ons graad 5 en 9 kinders aan die studie deel geneem het! Mens sou dus verwag dat ‘n hele ekstra jaar ‘n verskil sou maak.
In die studie is 65% van ons land se kinders onder die minimum vlak gegradeer. Privaat skole het 477 punte gekry (wat darem binne die minimum vlak was) vir wiskunde, maar steeds nie besonder goed nie. Ons privaat skole het immers so goed soos Singapoer se swakste studente gedoen (ja, laat daardie een bietjie in sink).
Die studie het gevind dat kinders wat nie geboelie word en wat in hul moedertaal onderrig word, 68 en 60 punte onderskeidelik, beter gedoen het. Wat ‘n groter impak gehad het as die feit dat kinders ‘n toilet of lopende water in die huis gehad het. Kinders wie se ouers voorskool tyd aan opvoedkundige aktiwiteite soos voorlees en speletjies spandeer het het 50 punte beter gevaar. Weereens is die kinders wat ten minste 3 jaar in ‘n kleuterskool was steeds onder die minimum vlak gegradeer.
En op die GITR 2015 verslag lê SA 139ste uit 143 lande. Ons kan dus net sowel erken dat ons met ‘n vet probleem sit en dat dit nie net arm kinders is wat geraak word nie.
Tog is daar hoop in die verslae. En dit word bevestig deur ‘n 2013 studie deur die Universiteit van Stellenbosch University wat graad R in Suid-Afrika ge-evalueer het en gevind het dat: “there is virtually no measurable impact for the poorest three school quintiles… only 12 days of normal learning gains in maths and 50 days in home language in a school year of 200 days”.
En op bl.26: “… it is recommended that recognition, resources and funding be given to support the significant role played [in early learning] by home-learning environments, including potential awareness-raising campaigns to help parents/caregivers understand and value their role in supporting early learning in the home. To this end, culturally relevant storybooks in all South African languages should be made more widely available to parents/caregivers, in particular through community libraries.”
Die antwoord is dus so eenvoudig en tog ook so ongelooflik moeilik om toegepas te kry. Dis ouer betrokkenheid. Ouers wat voorskool vir hul kinders voorlees en kinders blootstel aan basiese wiskunde soos vorms en tel. En dan die betrokkenheid voort sit en steeds vir hul kinders voorlees (en self lees) wanneer hul skool toe gaan. Vraag is nou hoe bereik ons ouers en bemagtig hulle, sodat hulle weer ‘n impak op hul kinders kan maak?
En dan moet ons ook plan maak met die boelie epidemie en besef dat moedertaal onderrig noodsaaklik is in al 11 landstale.
Dit is natuurlik ook goeie nuus vir ouers. Dit beteken elkeen van ons kan ‘n noemenswaardige verskil maak aan ons kinders se akademiese prestasie en latere sukses in die lewe. Begin sommer nou! Gryp ‘n boek en gaan lees vir jou kind(ers) ‘n storie!
Ek raak sommer moedeloos as ek hierdie lees! Ons het ‘n lang pad om te stap.As die nuwe regering destyds alles gelos het wat gewerk het en eerder aandag gegee het aan die swak plekke, het ons nie nou met die gemors gesit nie.Maar nee, toe moes alles mos nou verander word en miljoene spandeer word aan uitkomsgebasserde onderrig. Eenvoudige reading,writing en arithmetic is die sleutel en geheim tot sukses…nie al die fênsie bykomstighede nie.Dit kom later.Ekskuus dat ek nou so gal afgaan hier op jou blog,maar ek dink ons is op dieselfde golflengte.😠😠
Dit alles breek my hart. Ons kan nie verwag dat enige iets in ons land vooruit moet gaan terwyl ons kinders se opvoeding ‘n groot vet gemors is nie! En dis ‘n bose kringloop, want hierdie kinders wat nou deur die barste val is die volgende generasie volwassenes wat weer besluite oor die volgende geslag kinders moet neem! Dis regtig tyd dat ons almal hande vat en werk aan ‘n oplossing inplaas van om ons nasionale sport (vinger wys) te bly beoefen.
Beslis!Gelukkig is daar mense soos jy,wat in jul kinders belê en elke druppeltjie help.
Ai ek het nie antwoorde nie