Ons 2017 hoogtepunte

Ons jaar het weer afgeskop met ons nuwe jaar vieringe.

201618

En sommer die 2de dag van die nuwe jaar wou ons Pop begin met haar wiskunde vir die jaar. Die nuwe boeke was net te aanloklik om te wag vir die vakansie om verby te gaan.

DSCF1760

Hierdie was ‘n bitter-soet jaar gewees.

Sommer vroeg in die jaar moes die kinders leer van mense se wreedheid teen diere. Iemand het die kolgans wat die kinders gered en van ‘n dag oud groot gemaak het gesteel; sy vlerk geknip en hom verhonger. 5 dae later het hy sy pad huis toe gevind, ‘n 300g maerder (wat baie is as jy net 1.9kg weeg) en elke landing ‘n nagmerrie. Skielik het hy leer knyp as dit net lyk of iemand hom wil vas hou. Hy kon nie meer land nie, maar het elke keer met sy bors die val gestuit (ons was elke dag benoud dat hy ‘n been of vlerk gaan breek in die proses). 4 weke later het hy tydens ‘n storm die nag verskrik opgevlieg en daarna het ons hom nie weer gesien nie. Of hy tydens die storm beseer is of bloot net nie weer sy pad terug kon vind nie, sal ons nooit weet nie. Vir die wat gehoop het op ‘n opvolg op Kolle kuiken kry ‘n gesin, moet ek teleurstel. Ek het nie die hart om die laaste stukkie van Kolle se lewe op papier te sit nie. Vir 20 weke het Kolle groot vreugde gebring. Almal mis die gans drukkies en selfs nou nog as die kinders in kolgans sien roep hulle hom in die hoop dat dit dalk Kolle is.

iPhone15-1

Hier is wat ons Pop (toe 7) oor Kolle geskryf het (net soos sy geskryf het): “ Ek hou van Kolle die kolgans maar ongelikig is sy vlerk geknip! En ek is hartseer oor sy vlerk geknip! is en hy wil nie swem nie. Hier agterop die bladsy wys ons hoe sy vlerk geknip is.” gevolg deur ‘n prentjie.

Die jaar moes ons trek uit die huis waarin die meisies nog hul hele lewe gebly het, maar ons het ook die vreugde van ‘n nuwe huis gehad. Daar is vriendskappe wat op die rotse geloop het en nuwe vriende wat ons gemaak het. Ons moes afskeid neem van ons hond na 3 jaar. Soms moet mens kies tussen ‘n kindervriendelike huis of ‘n hondvriendelike huis (om beide in een te vind blyk toe ‘n onbegonne taak te wees). Maar ons het ook 4 nuwe honde se liefde gekry, al is hul nie ons eie nie.

Desktop-4

As iemand vir my moet vra wat is die een ding van tuisonderwys wat uitstaan is die antwoord eenvoudig. Dit is die feit dat dit ons toelaat om op elke kind se welstand te fokus. Dat die lewe se kinkels en draaie deel van hul groei raak en nie ‘n hindernis wat inmeng met skool nie.

20172

Ons kon sommer in die middel van ‘n kwartaal vakansie gaan hou toe dit krities nodig was. Net weer ontspan, “regroup”, sommer net weer lekker dinge saam doen en kosbare tyd saam met oupa en ouma spandeer.

CESa

Deur al die jaar se op’e en af’e kon ons fokus op die kinders se emosionele welsyn. Kon ons die akademie opsy sit wanneer nodig. En tog aan die einde van die jaar het selfs die akademie floreer. Met die jaar se Conquesta Olimpiade het ons graad 4 100% vir Wiskunde, 97% vir Afrikaans en 87% vir Engels en ons graad 2 het 100% vir Wiskunde en Engels en 95% vir Afrikaans gekry. Hy het ook 2de gekom met die Living Maths Olimpiade vir graad 4 en sy 1ste vir graad 2. Voorwaar soveel om voor dankbaar te wees.

Atletiek 2017

Ons het weer die jaar saam met SACSSA atletiek gedoen. 164 tuisskolers het as span teen die privaatskole deelgeneem. Soos elke jaar is dit hope pret.

Search results for Downloads

Ons het die voorreg gehad om na die 6de Stellenbosch Internasionale Ritmiese Interklub kompetisie te gaan kyk en ons pop het ‘n foto saam met die wenner uit Japan, Rina Furui, en die ander medalje wenners (oa Protea Chris-Mari van Wyk). Dit was vir haar die perfekte einde van die kompetisie seisoen.

2011-2013 downloads

Ons het ‘n heerlike karnaval partytjie gehou waar die kinders moes werk vir hul lekkergoed. By elke speletjie tafel was eetgoed en ander snuisterye te wen.

iPhone2-2

Die gimnastiek het tussen alles deur goed gegaan. Die Bul het met Suidsone (waar Noord-, Oos- en Weskaap teen mekaar deelneem) 3de algeheel gekom vir artisties en 1ste vir mini-trampolien en tuimel.

Collages1-1

Ons Pop het met Suidsone 3de algeheel en 2de vir vrydans gekom vir ritmiese gimnastiek en ook goed gedoen met die artisties. Sy is ook aangewys as ons klub se ritmiese junior Victrix ludorum.

Desktop11

Die 2 het ‘n hond uit ‘n bos gelees die jaar! Die knaap het oor die 100 boeke die jaar gelees en sus was nie ver agter nie. Die jaar het hulle ook begin Engels lees tot my vreugde.

j2

Veral ons meisiekind verstom my. Sy het amper net soveel Engelse boeke as Afrikaanse boeke gelees. En saam met die baie lees het haar skryf van Afrikaans en Engels ongelooflik verbeter. Julle kan loer na wat hulle gelees het by “Leeslys van ‘n 10 jarige seun” en “Leeslys van ‘n 8 jarige dogter“.

skoenlappers

Ons gunsteling voorlees boeke die jaar was (in geen spesifieke volgorde): White Fang die wolfhond (Jack London), Die tweeling trek saam (MER), Kambro-kind (FA Venter), Dirkie, Drieka, Frederika (F Greyling) en Skateiland (RL Stevenson). Ons het ook onlangs begin lees aan Case of adventure: Clash of Swords (Karyn Collett). Die reeks met aparte aktiwiteitspak is vreeslik oulik. Die enigste probleem is dat daar te veel lekker dinge is om te doen by elke hoofstuk sodat ons nie vinnig genoeg na die kinders se s’n deur die storie vorder nie. As jy ooit gewonder het hoe ‘n lewende boek benadering tot leer werk is die boek met ekstras ‘n goeie voorbeeld van hoe dit gedoen word (ons doen nie gewoonlik SO baie ekstras soos beskikbaar saam met die boek nie, maar die konsep bly dieselfde – die lees van ‘n storie inspireer verdere leer en ‘n tipe eenheidstudie volg daaruit). In die boek se geval leer kinders meer oor Skotland (geskiedenis, kultuur, taal, aardrykskunde, ens), lughawens en vele meer

Desktop8

Desktop9

Die kinders het weer oulike goed geskep en veral ons knaap maak die ongelooflikste planne. Hy is mal daaroor om te bou met lego, planx en meccano (hy het sommer vir homself fidget spinners gebou).

iPhone55

Ons jongste (wat onlangs 4 geword het) het in ‘n klein kunstenaar ontpop. Sy kan net nie genoeg teken, inkleur en knip nie. Sy verbaas my werklik. Dis ongelooflik om te sien hoe sy in die jaar gevorder het.

Desktop6

Sy is ook mal daaroor om krale te ryg, lego te bou en tangram prente te bou. En natuurlik BARBIE!

Desktop7

Desktop4

Sy is ook ons danser in wording. Soos een van die maatjies al gesê het mens kan sien sy droom van dans. Sy het ‘n ritmiese partytjie gehad die jaar. Alles blink en dans in een.

Desktop10

Die laaste stukkie jaar kon ons hope tyd in die natuur deur bring en van soveel nuwe dinge leer. Ons knaap wil nou net met mening ‘n boer word!

j12

Hy is ook op die oomblik gefassineer met skeepsrampe. Hy klink soos ‘n lopende ensiklopedie as jy hom ‘n halwe kans gee. Hy het bote en skepe uit papier gebou. Beroemde Skeepsrampe (David & Susan Spence), die Vistermanne strand (JA Luckhoff), Die verhaal van die Grosvenor (DN Pfaff) en Waar skepe rus (E Naude) gelees en ons het op die internet meer gaan lees oor die skeepsrampe waarvan hy meer wou leer. Ons is ook besig met FutureLearn se kursus “Shipwrecks and submerged worlds: Maritime Archeology”.

Ons geniet FutureLearn se kursusse. Die jaar het ons ook “Learn about weather” en “First aid for babies and children” (ons pop wil net almal help verpleeg en staan altyd reg met ‘n pleister en salfie as iemand seer gekry het) gedoen.

Anina

Ons Pop het ontpop in ‘n kok. Dikwels kook sy ons pap soggens. Sy help brood bak en het al ‘n paar keer vir aandete gesorg. Sy maak al self slaai en help my gereeld om die skil en opkerf werk in die kombuis te doen. Sy raak ook vreeslik oulik met naald en garing en het vir kleinsus ‘n lappop gemaak.

graad 4

My digitale Somme(r) Pret produkte het die jaar uitgebrei. My kinders bly natuurlik die proefkonyne wat alles moet uittoets. Ek het ook die mal perd opgesaal om ‘n wiskunde program vir graad O tot 3 te begin skryf. Dit fokus op konkrete leer en verskillende aktiwiteite, speletjies en werksvelle wat kinders van verskillende ouderdomme en vaardighede saam kan doen. Ek hoop om dit in volgende jaar klaar te maak, hopelik betyds om dit by die ekspo bekend te stel.

Pret

Advertisements
Categories: Alles in 'n dag, Graad 2, Graad 4, Voorskool | Sleutelwoordw: ,, | 1 Kommentaar

Artikelnavigasie

One thought on “Ons 2017 hoogtepunte

  1. Pragtige dagboek van jul doen en late! Jou kinders is uiters bevoorreg om in so ‘n huis groot te word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: