4

Die ewige wipplank

26 April 2018
Share

Die geskiedenis leer ons dat die mensDOM ‘n ewige stryd het om balans te vind. Ons wipplank van die een ekstreem na die ander sonder om ooit ewewig en ons balans te vind.

Dit blyk tuis ook my grootste uitdaging te wees. Wanneer ons op ‘n plek is waar ek voel dat ek genoeg tyd het om interessante en opwindende dinge saam met die kinders te doen – Eksperimente en kunsvlyt en sommer net tyd om aandag aan almal se belangstellings te gee – dan lyk dit asof ‘n orkaan ons huis getref het!

Daar is net nooit genoeg tyd om orde te hou en steeds by alles anders uit te kom nie. En dis nie dat my kinders nie hul deel doen nie. Hulle maak beddens op, pak skottelgoed weg, dek tafel, ruim elke dag ‘n paar minute op, is super met badkamers skrop, vloere en ruite was. Kom ons wees eerlik, enige iets wat met water te doen het is hulle mal oor. Dis die opruim waar die uitdaging lê.

Op enige gegewe dag is elk met iets besig en dis dikwels daardie langer besig bly waar die chaos begin. Een bou huise vir die Little Pet Shop diertjies met die MUS blokkies, een is besig om met die lego/ planx / albasterbaan (of sommer net afval hout en takke) een of ander ingewikkelde konstruksie of dorpsuitleg te bou en nog een het die eetkamertafel beset met kunsvlyt. Niemand wil dadelik dit wegpak nie, want hulle is nou net op dreef.

Wanneer die chaos net te veel vir my raak en ek orde moet skep kom ons nie by veel meer as dit uit nie. Tussen skoonmaak, wasgoed was, kos maak, inkopies en hul aktiwiteite bly daar nie iets oor van die dag om iets sinvol te doen nie! En ons probeer regtig buite aktiwiteite beperk. Ek het dit reg gekry om hul aktiwiteite te sinchroniseer, maar dit beteken steeds dat 12 ure ‘n week deur dit opgeslurp word. Dit is net te veel!!! (Ek weet nie hoe doen skoolkinders dit nie, want ek weet meeste kinders het heelwat meer as 12 ure se buitemuurs en dan is daar nog huiswerk ook!).

Vinnig begin die kinders kla dat ons nooit meer iets lekkers doen nie. Dat die lewe saai geraak het.

Tussenin probeer ons darem elke week by maats uitkom en betrokke wees by ander dinge. Miskien is dit waar ek kan sny? Maar dit is ook dié dinge wat help om my varkies op hok te hou, wat ander uitdagings bied. Wat die kinders leer dat ons nie ‘n eiland is nie, maar deel van ‘n gemeenskap wat in duie stort as ons nie almal ons deel daarvan vorm nie.

En so wipplank ons tussen gelukkige kinders EN chaos en gefrustreerde kinders EN orde. Daar’s immers die sê-ding: “Cleaning while kids are still growing is like shoveling snow while it is still snowing”. Miskien moes ek net vrede kon maak met die chaos, maar te veel daarvan voel ek of ek gaan versmoor en of my kop tot stilstand kom. Waar vind mens die balans?! Die spreekwoordelike “middle ground” bly my ewig ontwyk…