Ek kry dikwels navrae via die blog en het gedink om van die antwoorde met julle te deel.
Ek is tans besig om tuisskool te ondersoek. Ek wil definitief my kinders tans in Gr 2 en 3 uit die skool uithaal en begin tuisonderrig. So, ek is besig om na al die verskillende opsies te kyk. Sou ek die Somme(r) Pret reeks, Lente pret pak en Robot pret pakke bestel, sou dit kwalifiseer as genoegsame Wiskunde vir die jaar, of moet ek steeds na ‘n ander kurrikulum ook kyk? En wat sou jy voorstel?
Sjoe, dis ‘n bitter moeilike vraag. My boeke en pret-pakke is nie juis bedoel om ‘n kurrikulum te vervang nie. Die idee is om eerder alternatiewe aktiwiteite te gee wat wiskunde weer pret maak. Baie kinders is so gefrustreerd met wiskunde dat hulle dit lankal nie meer geniet nie. En sodra ‘n kind glo hul kan nie wiskunde doen nie of nie meer daarvan hou nie het jy die stryd verloor. Dan is dit ‘n opdraande stryd vir hulle om wiskunde baas te raak.
In my opinie het mens nie werklik ‘n kurrikulum al nodig vir die grondslagfase nie. ‘n Baie oulike boek om te lees is Dr Ruth Beechick se The 3R’s. Dit bevat alles wat kinders van graad R tot 3 moet bemeester. Die eerste 2 dele is oor lees en skryf (en is gemik op Engels, wat nie juis van toepassing is op ons tweedetaal gebruikers nie – tog is daar heelwat in wat jy later sal kan inspan). Die 3de deel is vir wiskunde. Sy breek dit so eenvoudig af, dat mens sommer meer selfvertroue het om dit self aan te pak.
As mens egter vars in die tuisonderwys ding in klim is dit moeiliker om weg te kom van ‘n kurrikulum. Mens is net so gewoond aan die skool se manier om ‘n hele klas met kinders te bestuur. En ‘n kurrikulum voel soos ‘n veiligheidsnet.
Die slim mense beveel egter aan dat ouers hul kinders (en hulself) eers “deschool” as hulle oorgaan na tuisonderwys. Die aanbeveling is 1 maand van geen formele skool vir elke jaar wat die kinders in die skool was (kleuterskool ingesluit). As jou oudste dus van graad O af in die skool was sal dit 3-4 maande beteken. As sy al op bv 3 skool toe is, sal dit 7 maande word. Dit klink vreesaanjaend om hulle vir so lank net te los, maar die idee is om mekaar net weer te leer ken. Om elkeen se sterk en swak punte te herontdek en in die proses leer ‘n mens dat leer nooit op hou nie. Kinders hou nie op leer as mens die boeke weg pak nie (dikwels leer hul juis dan meer). In die tyd wat julle “deschool” kan hulle speel en lees en ontdek na hartelus (Waak egter daarteen dat hulle voor die TV/selfone/tablets sit). Die tyd “af” gee jou dan ook die kans om self meer te leer oor wat tuisonderwys is. Om te kyk na die verskillende metodes en een te vind wat by julle gesin se behoeftes pas.
‘n Oulike video om te begin kyk na die verskillende metodes is https://youtu.be/-elu8CASKsI. Sy verduidelik die 5 gewildste metodes en het selfs ‘n vraelys wat jy kan voltooi om te kyk watter een by julle gesin sal pas. Daar is nog ander metodes en baie mense kombineer meer as een van die metodes om ‘n sakpas metode vir hulle gesin te vind.
My aanbeveling vir graad O tot 3 is om te kyk wat van kinders verwag word (of uit The 3R’s of deur te loer op die departement se webwerf). As mens na die handboeke en werkboeke kyk lyk dit soos ‘n ton wat die kinders moet kan doen, maar in effek is dit nie so baie nie.
Tog is graad O tot 3 die heel belangrikste jare van wiskunde! Dit is in die tyd wat kinders of wiskunde verstaan of dit soos ‘n papegaai memoriseer. Die wat leer om dit te verstaan doen goed in wiskunde latere jare. Die wat net die metodes en rympies gememoriseer het, spook hul dood as hul ouer word. Daarom is dit belangrik om op die ouderdom eerder stadig en deeglik te werk. Kinders kan altyd weer inhaal as hul bietjie agter is, solank die fondament goed is. Daarby saam is ons skoolstelsel gebaseer op ‘n spirale benadering. Kinders doen dus elke jaar dieselfde werk, net in ‘n moeiliker graad en ‘n paar nuwe konsepte. Wat dit baie maklik maak om op te vang indien nodig. Jy gaan bv vind dat jou 2 meeste van die tyd dieselfde werk gaan doen. Die oudste een gaan net met groter getalle werk.
My aanbeveling sou wees om vir die eerste ruk eers weer oor al die begrippe te gaan en sommer deur speletjies vas te stel waarmee hulle moontlik sukkel. Werk sover moontlik konkreet met hulle. Hulle moet fisiese voorwerpe kan tel, verdeel, groepeer. As dit goed vasgelê is is dit maklik om oor te gaan na abstrakte getalle op papier. Grondslagfase wiskunde is elke dag gebruik wiskunde. Gebruik volumes in die kombuis. Meet en weeg goed. Laat hulle tel hoeveel plekke om te dek vir die gesin / as daar gaste kom. Laat hul self lekkers verdeel. Gee hulle ‘n kans om te werk met geld (tuis of by die winkel en self uit te werk hoeveel geld hulle moet betaal en watter kleingeld hulle moet kry). Speel bordspeletjies. Vra hul hoe laat dit is en hoe lank nog voor julle iets moet gaan doen. Bou met Lego en klim boom! Lees vir hulle voor en laat hulself lees. Jy gaan verstom wees oor wat al die aktiwiteite vir wiskunde ontwikkeling gaan beteken.
En as hulle dan iets op papier wil doen kan jy altyd loer na my boeke 😉
Sterkte met al die besluite. En onthou daar is niks wat jou keer om oor ‘n ruk weer ‘n ander koers in te slaan nie. Meeste mense begin met een kurrikulum of metode en verander dit of pas dit later aan. Al die keuses maak dit moeilik (veral aan die begin), maar dis ook wonderlik om die vryheid te hê om dit te vind wat vir jou gesin werk.