Ek het met julle die audioboeke (luisterstories) gedeel wat ons inspan nou tydens die boekekrisis wat die inperking veroorsaak het.
Ons gebruik gereeld audioboeke. Dit het ongelooflik baie voordele. Eerstens help Engelse luisterstories om vir my kinders beter uitspraak van woorde te leer (moedertaalsprekers praat immers net anders). Ons kan dit in die motor luister of terwyl ons by aktiwiteite wag. En natuurlik spaar dit my stem, want my kinders se storie honger is groot. Ek kan bloot net nie altyd genoeg lees na hulle behoefte nie.
Net soos voorlees bou dit dus hul woordeskat en begrip van taal. Dit verryk hul wêreld en brei hul algemene kennis uit.
Tog is ek oortuig dat voorlees koning bly. Dit het baie ander voordele wat luisterstories nie in hou nie.
Die eerste is kontaktyd. As jy voorlees sit jou kind(ers) om jou of sommer op jou skoot. Daardie saamwees is kosbaar! Dit verskaf ‘n emosionele komponent wat verlore gaan met audioboeke (buiten natuurlik as julle almal saam op die bank op krul en luister, maar meestal luister kinders nie so na audioboeke nie). Dit skep herinneringe en kinders verbind die vreugde van stories met saamwees. Dis amper soos eet voor die TV of saam eet rondom ‘n etenstafel. Beide het dieselfde voedingswaarde, maar die gesprekke rondom die tafel en emosionele bande wat versterk word gaan verlore as ‘n gesin voor die TV (of nie saam nie) eet. Hulle het dus ‘n ander emosionele reaksie op voorlees stories en dit het ook langtermyn ‘n invloed op liefde vir self lees.
Die tweede groot ding is dat daar ander interaksie is as jy voorlees. Kinders kan jou onderbreek om te hoor wat ‘n woord beteken of as hul iets nie verstaan nie. Verder laat dit ruimte vir besprekings. Terwyl jy voorlees kom daar temas op wat geleenthede skep vir dieper gesprekke. Kinders vra vrae en jy kry kans om ook vir hulle vra te vrae en so dieper denke te stimuleer.
Probeer dus om ‘n tydjie vir voorlees op ‘n gereelde basis te maak. Al is dit kort stukkies.