1

As die inperking lees in die wiele ry

28 May 2020
Share

Ek het ‘n huis vol boekmonsters. Hulle verorber boeke teen ‘n verstommende spoed. Toe die grendelstaat aangekondig is het ek ‘n probleem verwag. Ek het 37 boeke uit geneem die laaste dag wat die biblioteke oop was. Binne 2 weke het die 3 dit egter kafgedraf.

Toe het hulle in ons boekrakke in gevaar. Boeke wat ek oor jare opgegaar het het hulle heeltemal te vinnig klaar gelees. Baie mense het altyd gesê ek gaar onnodig boeke op, dat mens dit mos bloot by die biblioteek kon uitneem. Wel hier sit ons nou en biblioteke is gesluit! En gaan nog vir lank gesluit bly. Buitendien is baie van ons boeke ouer boeke wat biblioteke lankal verniet / van ontslae geraak het.

In die tyd het hulle baie luister stories geluister. Gelukkig het ons heelwat (meer oor van dit wat ons het by https://lomi.co.za/2014/12/13/luister-stories/), maar iewers raak die ook uit geluister.

So daar sit ons begin Mei al sonder boeke om te lees. My kinders is nie groot e-boek lesers nie (hulle is nie gewoond aan skermtyd nie) en buitendien sou ek ‘n bank moes roof om genoeg boeke te koop om hulle leeslus te voed.

So begin my soektog na stories. Ek deel graag met julle van my ontdekkings!

Luisterstories (audiobooks) span ons baie in op die oomblik. Vir jonger kinders is daar Luistervinkies (www.luistervinkstories.co.za) en die Oorwurms (www.dieoorwurms.com). Ek kon ongelukkig nog nie juis luisterstories in Afrikaans vind wat my ouers 2 geniet nie.

As jy nie omgee vir kabouters ens nie het RSG ook ‘n klompie stories vir jonger kinders

Daar is egter heelwat in Engels beskikbaar. Librivox het ‘n magdom ou klassieke stories om na te luister (soos Danny the Meadow Mouse, Dr Do Little en Wind in the Willows, om net ‘n paar te noem).

Dan bied Audible (https://stories.audible.com) in die tyd gratis toegang tot hul kinderstories. My ouer 2 het die The Green Ember geniet en die 6 jarige het lekker saam geluister na Angus Mouse.

En elke weeksdag is daar ‘n nuwe Dawid Walliams storie waarna hul kan luister (https://www.worldofdavidwalliams.com/elevenses/). Deesdae bêre ons die stories vir naweke en luister dan die hele week se episodes op die opvangblad.

African Story Book (www.africanstorybook.org) het ‘n hele klomp Afrikaanse en Engelse boeke vir jong kinders wat help met storietyd vir my 6 jarige. Op https://afrikaans.com/leerhulp/gratis-stories-vir-jong-kinders/ is ook Drie Hoera’s vir Denver en ‘n reeks stories deur Wietske Boon. Dan het www.digitallibrary.io/ ook ‘n klompie boeke in beide Afrikaans en Engels.

Vir die ouer 2 het ek e-boeke by www.gutenberg.org/ebooks/ gevind. My meisiekind was vreeslik opgewonde om What Katy Did Next en What Katy Did at School daar te vind. Sy het lankal die boeke gesoek. En ek lees nou vir die kinders voor uit Around the World in 80 days. Die e-boek lees is nog ‘n uitdaging vir ons knaap aangesien hy lig sensitief is en vreeslik kopseer kry van skerms (en net 10-20 minute se lees is nou nie sy idee van pret nie).

Alhoewel ek nog nie juis op die Kindle app boeke gevind het om te lees nie, is die toepassing handig om die e-boeke wat ek wel kon vind in te lees. Die feit dat die bladsye blaai (soos ‘n regte boek s’n) en nie af “scroll” soos aanlyn lees nie help baie.

Ek hoop maar die stories kan ons deur die tyd dra en kan beslis nie wag vir biblioteke om weer hul deure oop te maak nie!!!

Deel gerus as julle nog oulike luisterstories of e-boeke gevind het!