0

Wiskunde aversie of angs

15 May 2020
Share

Met kinders wat nou tuis is en ouers wat baie meer nou by hul leer betrokke is sien ek soveel meer ouers wat bekommerd is omdat hul kind wiskunde angs het of so ‘n aversie vir wiskunde het dat hulle weier om enige vorm van wiskunde te doen (selfs om ‘n wiskunde speletjie te speel!).

Hoe begin mens om die kinders te help? Veral omdat wiskunde probleme so ‘n komplekse storie is. Daar is net SO BAIE plekke waar iets fout kon gaan. En die langtermyn gevolge is rampspoedig.

Een van die eerste probleme is dat wiskunde ‘n kompetisie geword het vir wie die beste en vinnigste kan lees. Kinders wat langer neem om vlot te lees of om met begrip te lees kan bloot nie die assessering voltooi in die tyd wat beskikbaar is nie. Daarby word hulle ook gefrustreer deur die werk omdat hulle sukkel om die vrae te lees. Die uiteinde is dat hul pad met wiskunde begin met die geloof dat hulle nie wiskunde kan doen nie, terwyl die eintlike uitdaging lees is.

Die tweede probleem is dat ons nie kinders se ontwikkeling in ag neem as ons vir hulle wiskunde leer nie. Deesdae verwag ons al dat kinders abstrakte wiskunde (2 + 3 =?) doen so vroeg as graad R (soms selfs vroeër). Dit terwyl kinders op daardie ouderdom nog in die konkrete fase is. Gee vir hul 2 lekkers en nog 3 en hulle sal kan tel dat hul 5 lekkers het. Net soos kinders nie almal op dieselfde ouderdom leer kruip of loop nie is almal nie op dieselfde ouderdom gereed om oor te beweeg na abstrakte wiskunde nie. Party neem bloot net ‘n bietjie langer om op daardie punt te kom. Ongelukkig glo hulle teen daardie tyd dat hulle nie wiskunde kan doen nie.

Derdens het ons assessering mal geword! En in wiskunde het ons heel die pad byster geraak en glo dat hoe vinniger iemand ‘n probleem kan oplos hoe slimmer is hul. Ons druk kinders dus om berekeninge so vinnig (en akkuraat) as moontlik te doen eerder as om te fokus op begrip en probleem oplossing. Hoekom ons dit doen verstaan ek glad nie, want die beste wiskundiges is nie vinnig nie! Hulle los bloot moeiliker probleme op (meestal omdat hulle langer aanhou en beter strategieë ontwikkel het om probleme op te los).

En vierdens, hoofsaaklik omdat ons assessering en prestasie mal geword het, ontwikkel kinders wiskunde angs. Sommige kinds word gemotiveer deur kompetisie. Gee vir hul ‘n spoed toets en hulle floreer om te kyk hoe om hul tyd te verbeter. Die meerderheid kinders vind dit egter net stresvol! En hoë stresvlakke verlaag ‘n mens se vermoë om probleme op te los. Wat beteken dat tydens hierdie toetse vaar kinders oor die algemeen vrot en kry hul weereens die boodskap dat hul nie wiskunde kan doen nie. En so verhoog hul stres oor die toetse en kort voor lank sit hul met angs oor wiskunde!

Hierdie is maar net ‘n paar probleme wat NORMALE kinders ervaar. Dit raak nog nie eers aan enige leerprobleme of ontwikkelsagterstande / uitdagings nie. Of kinders wat bloot op een of ander stadium by ‘n onderwyser was waarby hul nie aanklank gevind het nie. Selfs die beste onderwyser in die wêreld kan nie altyd dit reg kry om ‘n probleem vir elke liewe kind in die klas verstaanbaar te maak nie.

Natuurlik is die belangrikste om eers te probeer vasstel wat die oorsprong van jou kind se wiskunde angs of aversie is. Kinders vermy dus baie eerder take wat hul glo hul nie kan baasraak nie.

Die realiteit is dat wiskunde hoofsaaklik gaan oor probleem oplossing en met die regte houding en gereedskap kan meeste van ons taamlik goed vaar.

Begin deur eers vir jou kind 2 glase koeldrank of 2 stukke koek of 2 hopies lekkers aan te bied. Maak seker dat die een groter is (meer bevat as die ander). Laat jou kind kies watter een van die 2 opsies hul wil hê. Wanneer hul gekies het vra waarom hul die keuse gemaak het. Die kans is goed dat jou kind kon sien dat die een meer as die ander is. Hul het dus pas ‘n wiskunde probleem opgelos (sonder om te hard daaroor te dink!). Vier dit saam met hulle en verduidelik vir jou kind dat ons gebore word met die ongelooflik vermoë om probleme op te los! Hul moet bloot net die taal van wiskunde baasraak en die reëls leer en die vaardighede om dit suksesvol te kan doen. Wiskunde soos met enige iets anders word ons beter mee hoe meer ons dit oefen. En pak jy ‘n taak met die regte houding aan is dit helfte so moeilik.

Dit is egter net die begin van die pad om te bou aan selfvertroue om wiskunde te doen. Terwyl jul nou tuis is maak wiskunde prakties. Meet saam, bak en brou. Om ‘n resep te volg bevat baie wiskunde (van mate tot optel/aftrek, halvering/ verdubbeling). Stel saam ‘n inkopielys op met ‘n begroting. Jonger kinders kan help tafel dek en self uittel hoeveel eetgerei uit gepak moet word. En pasop dat jou houding teenoor wiskunde jou kind negatief beïnvloed.

Speletjies is ook fantasties om wiskunde begrip te verbeter. Selfs ‘n eenvoudige speletjie soos slangetjies en leertjies moet hul met ‘n blik kan sien hoeveel kolle op die dobbelsteen is en dan die hoeveelheid aan tel op die bord. Wegkruipertjie is weer ‘n prettige manier vir jong kinders om die telrympie te oefen.

Natuurlik is daar hope ander speletjies wat nog meer wiskunde bevat. Maar vat dit eers net stadig.

Vat ook ‘n treetjie terug. Gee eerder vir jou kind werk wat te maklik is en bou so hul selfvertroue. Werk dan stelselmatig op na moeiliker werk. As hul eers glo hul kan die werk doen sal hul veel makliker werk kan aanpak wat moeiliker is.

Een voordeel van die hele onderstebo tyd waarin ons is is natuurlik dat jy nou die druk kan afhaal. Haal die kompetisie en stres van toetsing uit. Bloot deur ‘n stuk werk vir ‘n kind te gee as “huiswerk” in plaas van as toets sal ‘n verskil aan hul prestasie maak. As hul eers die besef het dat hul die werk kan doen en dat ‘n toets net nog huiswerk is is helfte van die stryd gewen.

En as die skole eers weer begin het praat met jou kind se onderwyser sodat jul saam kan werk aan strategieë om jou kind verder te help om ‘n positiewe houding rondom wiskunde ontwikkel en om enige gate wat in hul wiskunde begrip is reg te stel. Onthou ook dat julle omring is deur ander mense. ‘n Ouma, oom of tannie is dalk net die persoon om werk wat voorheen onverstaanbaar was op ‘n manier te verduidelik dat jou kind dit kan verstaan.