0

Vreugde van tuisonderwys

12 May 2020
Share

Vir jare voel ek al dat die grootste vreugde van tuisonderwys is dat dit rondom jou gesin aanpas (en nie julle rondom die skool nie).

As die kinders siek is kan ons almal eers gesond word voor ons aan beweeg. As daar een of ander ontwrigting is soos ‘n nuwe baba in die huis of ons verhuis dan pak ons eers die werk weg vir ‘n paar weke of selfs ‘n maand of 2. Ons kan ons program rondskuif en aanpas. Vakansies skuif en ekstra werk in sit indien nodig.

Ouma en oupa wat kom kuier beteken dat ons ook vakansie saam met hulle kan hou. Ons het ook nog altyd meer gedoen gekry in die skoolvakansies, want dan is daar minder aktiwiteite en veral in die winter vakansie waarin die weer vir buite speel meestal goor is kan ons hope werk gedoen kry. Ons bêre eerder die speel en uitstappies vir die mooi sonskyn dae.

Nou in hierdie onderstebo tyd is ons leer nie onderstebo nie. Ja, die eerste week of 2 het ons ook eers vakansie gevat (dit was immers die Maart skoolvakansie) en na dit het dit nog ‘n week of 2 van aanpassing gekos. Ons normale roetine van sport, musiek en kuier was immers na die maan. En dit het die kinders ontwrig.

Tog het hul gou gewoond geraak aan die nuwe “normaal” en kon ons volstoom voort gaan. Oor 3 weke is ons klaar met die eerste helfte van die jaar se werk en kan ons ontspan vir die wintervakansie. Terwyl ek die gevoel kry dat meeste ander kinders se akademiese wêreld nog op sy kop is. En hul ouers se stresvlakke deur die dak.

Op die oomblik beplan ek egter nie ‘n lang wintervakansie vir die kinders nie. Dis immers ‘n onsinnige vakansie van net nog dae by die huis vasgekeer sit. So as daar nie iewers ‘n ander ontwrigting in sluip nie, sal ons waarskynlik net 2 weke ontspan voor ons met die 2de helfte van die jaar begin. Ek voorsien immers dat dinge baie bedrywig gaan wees as ons uiteindelik weer kan begin rondbeweeg. So hoe meer ons nou gedoen kan kry hoe beter. Ons kan eerder in daardie gejaag minder werk inpas (of vakansie vat) en behoorlik saam met al ons vriende kuier!

Tog speel my kinders tans baie. Daar is net meer tyd vir dit, omdat ons nie rond hoef te rits na buitemuurse aktiwiteite nie. Nou meer as ooit sal ek nie sommer speel stop om ander dinge te doen nie. Speel is immers waar kinders die wêreld rondom hulle uitpluis. Dis soos terapie in ‘n tyd wat dinge alles behalwe normaal is.

Aan almal wat nou dink dat hul tuisonderwys doen, hoop ek dat julle sal besef dat hierdie net een van die groot verskille tussen tuisonderwys en grendelstaatskool by die huis. Ons “skool” is rustig en aanpasbaar, terwyl grendelstaatskool ‘n gerond skarrel is en baie stresvol en uitputtend kan wees.