Op die oomblik voel baie ouers oorweldig. Die een helfte is oorweldig met die baie werk wat die skool huis toe gestuur het. Baie gesinne is nie ingerig om dit als tuis te doen nie. Hulle het nie noodwendig internet beskikbaar (of ‘n konneksie wat vinnige genoeg is vir al die lesse op Zoom ens nie) of ‘n drukker met ink en papier nie. Of dalk is jy ‘n noodsaaklike dienste werker wat nie heeldag tuis is om skoolwerk met jou kind(ers) te doen nie. Die ander helfte is oorweldig juis omdat die skool nie werk gestuur het nie en hul benoud is dat hul kinders agter gaan raak.
Selfs ons wat gewoond is aan tuis leer het meer uitdagings as gewoonlik. Ons kinders is gewoond om prakties van dinge te leer. Om op uitstappies te gaan en so van ander ook te leer. Buitendien is gemoedere maar hoog. Die ekstroverte is besig om te ontrafel, omdat hulle ‘n maand laas ander mense gesien het. En die introverte smag na ‘n bietjie spasie, omdat die ekstroverte in die gesin hulle tyd opslurp in ‘n poging om meer mens interaksie te kry.
En oral waar jy kyk adverteer iemand iets wat jy kan koop of doen met jou kinders tuis. Die massa inligting is genoeg om enige mens se kop te laat tol. Onthou baie mense probeer net ‘n paar Rand maak om hierdie moeilike finansiële tye te bowe te kom. Jy het nie nodig om geld te spandeer nie! Meeste van ons het immers nie nou geld wat ons net kan rond gooi nie.
So hoe hou mens kop bo water? Jy vereenvoudig dinge en fokus net op die belangrikste dinge. In my opinie is dit eerstens om na jou kinders se emosionele behoeftes om te sien.
Dan tweedens om seker te maak dat jou kinders genoeg beweeg. Kinders het beweging nodig om optimaal te leer. Ons leef in ‘n tyd wat baie kinders reeds leeruitvalle het omdat hul bloot nie fisies sterk genoeg is vir formele leer nie. Kinders sit egter al vir ‘n maand tuis ingehok in beperkte spasie (ja, selfs die wat bevoorreg is om meer ruimte rondom hul te hê). Meeste skole, sport en aktiwiteite het immers al op die 16de Maart gesluit. En daar lê minimum van nog 2 weke voor. Waarskynlik heelwat langer, aangesien ek vermoed skole en sport gaan van die laaste industrieë wees wat weer mag oopmaak wanneer ons na die inperkingstydperk begin om stadig na normaal terug te keer. Ek het reeds die 1-minuut gesin fiksheidsuitdagings gedeel wat julle kan inspan om aan die beweeg te bly.
Terug na die akademie. Begin dit vereenvoudig deur inhoudsvakke op sy te skuif. Ja, ek weet die vakke se onderwysers wil beswyk as ek dit sê. Die realiteit is egter dat kinders hierdie werk hoofsaaklik memoriseer, toets/eksamen skryf en ‘n week later meeste van dit vergeet het. Dit beteken nie dat hierdie vakke nie belangrik is nie. Inteendeel, dit is daar om kinders se horisonne te verbreed en hul ‘n beter basis te gee waarvan af hulle inligting rondom hul kan interpreteer. Die wêreld gaan egter nie in duie stort as jy ‘n maand of 2 nie daarop fokus nie.
Tans word ons almal se horisonne verbreed. Niemand van ons het nog ‘n tydperk soos die beleef nie. Daar is hope nuwe konsepte en inligting waaraan kinders bloot gestel word. Het ons al ooit so ‘n goeie kans gehad om higiëne te verduidelik of hoe kieme versprei? En vir ouer kinders die politieke effek en hoe verskillende lande dit verskillend hanteer. Gebruik eerder dit om nou hul kennis te verbreed. Dit sal waarskynlik ook help dat hul die inperking beter kan hanteer.
Die belangrikste is om te fokus op die noodsaaklike deel van leer. In onderwys word daarna verwys as die “3R’s”. Jy moet egter bietjie kreatief dink om te verstaan dat die “3R’s” staan vir Reading, wRiting and aRithmatic. Of dan nou in Afrikaans: lees, skryf en berekeninge. Hierdie 3 vorm die basis van leer, omdat ons dit vir alle ander vakke inspan. Geen ander leer kan gebeur as die 3 nie mooi in plek is nie.
Daarom is dit belangrik om elke dag ten minste daarop te fokus. Al is dit net vir ‘n paar minute.
Vind elke dag iets wat jou kind kan lees. En ja, jy kan van die inhoudsvakke se werk inspan vir die lees. Of enige ander boeke wat julle in die huis het. Dit mag dalk ‘n uitdaging raak, want selfs ons wat baie boeke in die huis het se opsies raak beperk met die dat biblioteke gesluit is. Die 30 boeke wat ek ‘n maand terug uit geneem het is laaaaaankal als gelees. So kyk maar wat jy kan vind om jou kind(ers) aan die lees te kry al is dit berigte of internet artikels.
Maak ‘n bietjie hardop lees deel van die lees oefening – selfs vir jou ouer kinders. In boeke lees kinders heelwat nuwe woorde wat hulle nie noodwendig elke dag tee kom nie. Hulle weet dus nie altyd hoe om die woorde uit te spreek nie. Deur hul te kry om vir jou ‘n sin of 3 voor te lees kan jy sulke woorde identifiseer en vir hul met die uitspraak help. Hou dit egter kort, want voorlees is nie meeste kinders se gunsteling aktiwiteit nie.
Terwyl julle nou almal tuis is is dit ook die ideale tyd om elke dag vir jou kinders voor te lees. Dit is nie net iets wat julle almal saam kan doen en wat skermtyd beperk nie. Dit help ook om kinders (ja, selfs tieners) se woordeskat en taalbegrip uit te bou.
Saam met die lees en voorlees is dit belangrik om te praat oor dit wat julle gelees het. Dit help hulle om hul gedagtes beter uit te druk en gee jou die geleentheid om begrip te “toets”. Waak egter daarteen om toets tipe vrae te vra. Dit sal gou die vreugde steel uit die stories. Vra eerder dinge soos “wat sou jy gedoen het as dit gebeur het?” of “watter plan kan die karakters maak om die probleem op te los?” of “sou jy dit ook so gedoen het? of “wat sou jy anders gedoen het?”. Natuurlik is die eettafel ‘n lekker plek waar mens kan praat oor wat jy vandag gelees het of van geleer het. Daar is immers nie so baie dinge in ons dag soos gewoonlik om oor te praat nie. Op die informele manier kan jy dikwels meer leer uit wat jou kinders leer/lees as deur ‘n “vasvrae” te hou oor hoeveel feite hulle kan afrits.
Probeer ook jou kinders aan die skryf kry. Daar is baie maniere om dit te doen. Hulle kan ‘n resensie skryf oor die storie wat hul tans lees (die kan hul selfs stuur vir Litnet). Of ‘n strokiesprent teken/skryf oor hoe hul die inperking beleef of sommer net ‘n fantasie storie. Skryf saam lawwe rympies of skryf grappies neer. Laat hul briewe of kaartjies skryf vir oupa en ouma (neem ‘n foto en e-pos/whatsapp dit vir hulle). Laat hul ‘n e-pos tik vir ‘n maat, ‘n onderwyser of afrigter. Vra ‘n maat of 2 om saam met hulle ‘n storie te skryf. Iemand kan ‘n stuk skryf en dit dan aanstuur vir die volgende persoon om die volgende stuk te skryf en dit dan weer aan te stuur. Dit maak regtig nie saak wat hul skryf nie, hulle moet net oefen om hul gedagtes in woorde uit te druk.
Moenie agterna met ‘n rooi pen deur die skryfwerk gaan nie! Die idee is nie om taal en spelling perfek te kry nie. Dikwels bloot deur saam met hulle daar deur te lees besef hulle self dat daar foute is wat hulle volgende keer kan verbeter. Jy kan dalk 1 of 2 dinge kies om hul aandag op te vestig. ‘n Vraag soos “dink jy nie as jy hier ‘n komma gesit het, sou dit makliker gelees het nie”? Of “Onthou ons begin altyd ‘n sin moet ‘n hoofletter”. Of “wat is ‘n ander woord wat jy kon gebruik in die plek van ….?” Pas dit aan na die vaardigheid waarmee jou kind skryf. Veral jonger kinders moet eerder gelos word om selfvertroue te kry om hul gedagtes uit te druk en kreatief te wees.
Laastens doen elke dag ‘n bietjie berekeninge. As daar nie wiskunde skoolwerk is waarmee jul kan aangaan nie kan julle speletjies speel om berekeninge te oefen. Living Maths het heelwat beskikbaar. Loer onder die “Resource” skakel vir “Math Games” en “Maths 24”. Met jonger kinders kan jy bordspeletjies speel of tel in 2’s of 3’e terwyl hul oefeninge doen. In die kombuis kan jul saam bak (om ‘n resep te lees is ook ‘n mini begripstoets). In Pret met getalle deel ek 8 speletjies wat julle kan aanpas om optel, aftrek, maal of deel mee te oefen.
En haal asem. Ons is almal in hierdie ding. Soos ons gimnastiekafrigter sê “alle gimnaste is nou tuis en kan nie apparaat werk oefen nie. Almal van ons sal na die inperking planne moet maak om weer die vaardighede in te oefen.”
Daar’s basies 3 maniere waarop jy deur die tyd kan kom. Om gimnastiek as voorbeeld te gebruik. 1) Jy kan jou kinders los dat hulle op die bank lê en TV kyk of speletjies speel en tjips eet. Wat sal beteken dat hulle geweldig baie sal moet insit om weer gimnastiek te kan doen. 2) Jy kan ‘n drilsersant word wat hulle ure elke dag laat oefen en hulle elke denkbare gimnastiekoefening tuis laat doen. Die kans is egter goed dat hulle nie na die tyd weer gimnastiek wil doen nie en eerder nooit werk ‘n “vakansie” saam met jou wil spandeer nie. Of 3) jy kan hulle aanmoedig om aan die beweeg te bly en saam op prettige maniere te oefen. Ja, hulle gaan moet skouer aan die wiel sit as hul weer begin met gimnastiek, maar hul sal darem nog basiese fiksheid hê en nie kan wag om te begin nie.
Skoolwerk is dieselfde. Kinders reg oor die wêreld sit nou tuis. Ouers kan hul kinders los om een lang vakansie te hê. Hulle kan ook in drilsersante verander wat elke dag ‘n duisend en een dinge vir hul kinders probeer leer en waarskynlik verhoudinge in die proses skaad (om nie te praat van almal se bloeddruk en frustrasievlakke deur die dak te druk nie). Of hulle kan die beste van die tyd maak en verhoudinge bou, saam projekte aanpak, elke dag ‘n bietjie doen en saam sterker hier deur kom.
Kies wys!
Ek hoor dieselfde klagte. Die kinders wat baie getrou is, werk heeldag.
Ja, en dan is daar ook hordes wat nie enige iets het om tuis te doen nie. Ons kry soveel navrae op die tuisskoolgroepe. Die grootste krisis is die wat nie handboeke tuis het nie en nie toegang tot die internet ens. Die ouers is redelik in ‘n toestand, maar ek het nog geen idee hoe mens hulle kan help nie. Met selfs biblioteke wat toe is het daardie kinders nou geen toegang tot enige boeke nie.
By my oord is huishulpe ‘n noodsaaklike werk en ek gesels met Emily. Sy sê as sy wil baiese goed koop kom sy met met die taxi waarvoor sy betaal 8 uur in die dorp en kan eers 5 uur huis toe daan want die taxi’s ry nie tussen 9 – 5 nie … hoe sal sy vir haar kinders kom skoolwerk haal? Baie gebiede het nie eers selfoon sein nie. Ek voorsien dat ‘n groot klomp kinders vreeslike skade gaan lei. Maar daar gaan beslis nou baie anders na onderwys gekyk moet word.
Dankie vir wat julle alles doen.