Ek was stil die laaste tyd. Gedeeltelik is dit omdat my kreatiwiteit laag was en gedeeltelik omdat my 11 jarige my rekenaar oorgeneem het.
Sy droom daarvan om eendag soos Laura Ingles Wilder te kan skryf en het in lockdown begin om stories te skryf. Die eerste storie het sy neergeskryf en toe oorgetik, maar daarna het sy die stories van die begin af getik. Dit was ‘n pynlike stadige proses, tog begin sy stelselmatig vinniger tik.
IMG_1326
Ek moet sê haar spelling verstom my. Ek het altyd geweet sy spel goed, maar nooit besef hoe goed nie! Ons sal beslis egter nog bietjie moet werk aan leesteken gebruik!
Elkeen van die stories het ook ‘n prent (of twee) bygekry wat sy in GIMP geredigeer het. Wat natuurlik nóg tyd op my rekenaar in beslag geneem het.
En tussen deur het sy liedjies begin skryf om by die stories te pas. (Ja, julle mag maar met my ore simpatiseer!). Sy skryf ook in die tyd Lockdown is Awful. (https://web.facebook.com/100110371788965/videos/716389355881950/?t=0)
Sy kry toe die plan om die stories te begin verkoop as luister- en leesstories. So skop die volgende fase toe af. Al die stories en liedjies moet opgeneem word. Met die redigering van die mp3’s moet ek nog help, maar ek vermoed een van die dae gaan sy die ook op haar eie baasraak.
Dit is alles tyd wat my rekenaar nie myne was nie. En net as ek dink ons is amper klaar met ‘n storie en kan dit begin verkoop (en ek weer my rekenaar terug eis), begin sy skryf aan nog een en wil net gou die ook klaar maak.
Intussen ontdek sy stories wat ek jare terug vir hulle geskryf het op die rekenaar en besluit die moet ook opgeneem en geïllustreer word.
Natuurlik kort sy ook ‘n kenteken en besluit om die uit klei te maak.
Na maande se swoeg en sweet (en hope nuwe dinge leer) het sy uiteindelik Salomie se Storiehoekie geskep. Julle kan gerus gaan luister na uittreksels uit haar skeppings by https://web.facebook.com/Salomie-se-Storiehoekie-100110371788965/.
Haar eerste kliënt was haar kleinsus wat een van haar stories gekoop het. Ek vermoed sy gaan nie juis baie kliënte hê in die huidige ekonomie nie, maar hierdie was so ‘n ongelooflike leerproses! En sy het hope pret gehad. Om nie te praat dat dit die laaaaang ure tuis korter help maak het.
Dit klink asof sy super oulik is! Ek hoop sh kry n hele pasr stries verkoop om haarcte motiveer om nog te skryf!