Ek het regtig begin wonder of ek nog ons hoogtepunte van laasjaar moet plaas. Dinge bly net so bitter besig. Tog het ek besluit dit is seker beter om ‘n verkorte weergawe te deel eerder as om net ‘n verlore jaar te hê.
Ons het 2021 afgesluit met ons gewone gesinspele. Ons was geseënd om my jongste suster hier te hê en kon die pret met haar deel.






Die einste sus, het gehelp dat ons die nuwe jaar met ‘n “bang” ingegaan het. Ek dink nie die kinders het al ooit so ‘n ongelooflike skattejag gehad soos die een wat sy vir hulle gemaak het nie.

Die kinders het by 2 markdae hul produkte verkoop. Hulle raak al meer kreatief met dit wat hul skep.






Natuurlik is gimnastiek ‘n groot deel van ons lewe. Ons oudste was 2de algeheel by die Weskaap kampioenskappe vir vlak 8 (en het ‘n 3de plek op vloer by SA’s behaal). Middelsus het 3de algeheel by Weskaap gekom vir vlak 6.











Die kinders het begin landloop hardloop en aan ‘n straatmyl deel geneem. Ons oudste geniet die landloop van die 3 beslis die meeste.




Die meisies het die geleentheid gekry om aan SACSSA se nasionale atletiek te gaan deelneem wat beslis ‘n belewenis was.



Hulle geniet dit baie om musiek te maak en al drie vorder flink met hul instrumente. Middelsus het haar graad 3 viool eksamen gespeel en kleinsus kon uiteindelik met klavier begin soos sy al lankal wou. Ons het ook weer heerlik konsert gehou saam met van hul maats.




Hulle het die jaar weer aan ‘n hele paar kompetisies en olimpiades deelgeneem. Middelsus het 5de gekom in Ink Skryf in Afrikaans se Junior kortverhale afdeling.
Hulle Conquesta punte was weer puik. Die jongste het tussen 92% en 100% vir haar 3 vakke gekry, Middelsus tussen 88% (vir Engels 1ste taal) en 94% en die oudste tussen 76% en 90%. Hulle skryf net tale en wiskunde. Ons ander vakke se inhoud is heeltemal te anders om ‘n KABV olimpiade oor te skryf.
Beide middelsus en ons oudste het deur gegaan na WIts se Wiskunde kompetisie se tweede rondte en ons oudste het ook deur gedring na SAMO (South African Mathematics Olympiad) se tweede rondte.
Ons oudste het 3de gekom in graad 9 in die Living Maths Olimpiade en die jongste het 2de gekom vir graad 3.
Daarby het ons jongste het goud gekry vir voordrag in FAK se Internasionale Afrikaanse Ekspo en middelsus het goud gekry vir grafiese ontwerp.
My eie jaar was beslis ook nie sonder opwindend nie. My aanlyn winkel het immers oop gemaak en na jare van swoeg en sweet was my graad O tot 3 grondslagfase wiskunde program uiteindelik beskikbaar.
Ek het ook iets gedoen wat ek nooit gedroom het ek sou doen nie. Ek het die trappe van die Parliament geklim en daar saam met ‘n span ander tuisskool ouers ons besware gaan lig teen die voorgestelde BELA wetsontwerp.


So lekker om te lees wat julle alles gedoen het. Watter produkte gebruik jy alles om jou kinders te homeschool dat hulle al die olimpiades kan slaag?
Carolina, loer by https://lomi.co.za/2023/11/21/die-ideale-kurrikulum/. Ek het sommer daar ‘n lang antwoord op jou vraag geplaas.