Soms kry ek vrae per e-pos of op die webjoernaal wat ek eerder in ‘n nuwe plasing wil antwoord. Alle vrae is goed, maar daar is net soms een wat ek voel ander lesers ook by baat kan vind. So ‘n vraag is die een wat ek onlangs gekry het: “Watter produkte gebruik jy alles om jou kinders te homeschool dat hulle al die olimpiades kan slaag?”
Ek dink ons almal is opsoek na daardie ideale produk / kurrikulum wat die beste is. Die een wat goeie resultate gaan verseker. ‘n Soort wenresep. En natuurlik gebruik die goeie bemarkers dit om ons te kry om hulle produk bo ‘n ander te verkies.
Die realiteit is dat daar nie ‘n “one size fits all” antwoord is nie. Elke gesin en elke kind is uniek en saam met dit wat die beste vir hulle werk.
Wat ek wel oor die jare geleer het is dat ‘n goeie opvoeding nie duur hoef te wees nie. Daar is ‘n magdom inligting daarbuite. Baie daarvan is gratis of baie bekostigbaar. Buiten die internet, is biblioteke ‘n skatkis van gratis inligting. Duur produkte is nie altyd beter as gratis of goedkoop produkte nie. Dit moet net werk vir jou kind!
Ek het al voorheen oor dit geskryf, maar wil dit weer noem. Ouer betrokkenheid is wat suksesvolle kinders maak. Dit maak nie saak in watter gemeenskap, sosio-ekonomiese omstandighede of opvoedkundige omgewing ‘n kind groot word nie. As daar ‘n volwassenes is wat betrokke is en hulle lei en bemoedig kom hul verder.
Spesifiek van olimpiades gepraat is dit nodig om te weet dat olimpiades fokus op kritiese denke. Die doel is om kinders te kry om verder te dink. Om dit wat hul weet op ‘n kreatiewe manier in te span om ‘n probleem op te los.
Die maklikste manier om dit te ontwikkel is om jou kinders vryheid te gee om die wêreld rondom hul te ontdek. Om hul natuurlike nuuskierigheid vrye teuels te gee. EN hul die geleentheid te gee om dinge te bevraagteken en te oordink. Dit beteken dat hulle jou ook gaan bevraagteken!!! In ons samelewing word dit nie aangemoedig in kinders nie. Dit maak hulle moeilik om te “bestuur”. Tog soek werkplekke dit in werknemers. Dit is juis die probleem oplossers en vrae-vraers wat ontdekkers en uitvinders van nuwe dinge is.
Dit bring my terug by die oorspronklike vraag. Kies produkte wat julle genoeg vryheid gee om self die wêreld rondom julle te ontdek. Een wat tyd oor los vir speel en wees. Kies produkte wat verskillende oogpunte bespreek en die gebruiker die geleentheid gee om self uit te pluis wat hul daaroor wil dink. Of verskillende produkte wat dieselfde onderwerp uit verskillende oogpunte dek.
Geskiedenis en wetenskap is beide velde waar daar baie verskillende sienings is. Gewoonlik iewers in die middel lê ‘n meer realistiese weergawe van die feite.
Leer jou kinders ook om te glo in hul eie vermoëns. Net omdat die antwoordstel iets sê beteken nie dat daar nie ook ‘n fout in kan wees nie. As mense maak ons almal foute, oud en jonk, maak nie saak hoe geleerd jy is nie. As ons egter kan redeneer, kan uitpluis as daar iewers ‘n tik of ander tipe fout in gesluip het, kan ons baie verder kom. Dit help dat kinders self dink en nie net dinge memoriseer wat hul glad nie verstaan nie. So ‘n fout wat ingesluip het en nie bevraagteken is nie kan langtermyn katastrofies gevolge hê.
Laastens is taal die basis waarop enige leer en kritiese denke gebou word. Ek voel al effe soos ‘n plaat wat vashaak, maar ons kinders se taal ontwikkeling is krities belangrik. Dit is nie altyd maklik in ‘n wêreld wat oorheers word deur swak taal gebruik en ‘n eng woordeskat nie. Werk dus doelbewus daaraan om hulle bloot te stel aan goeie taal en ‘n ryk woordeskat.
Ek hoop om later meer te deel oor spesifieke produkte wat ons gebruik vir die wat regtig nuuskierig is oor dit. Bloot omdat ek self al wonderlike produkte ontdek het wat ander my van vertel het. Maar dit is iets vir ‘n anderdag se te-doen-lysie.
Baie dankie vir jou post. Sal graag die volgende een ook lees oor spesifieke produkte.