0

Die vreugde van harde werk

5 July 2022
Share

Ek lees onlangs ‘n plasing van ‘n ma wat bitter geïrriteerd is met mense wat dink haar kinders wat presteer in dans moet baie “pret” hê. Ek kan so haar gevoel deel. Dit val vir my saam met jou kinders is so “talentvol”.

Kinders (nee, mense oor die algemeen) wat presteer het selde (indien ooit) daar gekom deur pret te hê of bloot ‘n hoop talent. Dit kos werk, nog bietjie werk en dan nog ‘n raps werk.

Is dit pret soos om partytjie te hou, pret is? Beslis nie. Die vreugde lê daarin wanneer die ure, weke, maande se harde werk resultate lewer. Dit is daardie interne vreugde as jy iets reg kry wat jy nou al so lank aan gewerk het.

Dit is waarom my kinders heeltemal teveel van hul tyd aan gimnastiek bestee. Dit leer hul om uit te hou en aan te hou. En meer nog om te werk vir wat hul wil hê en interne gemotiveer te word uit hul eie klein oorwinnings.

Dit is nie iets wat mens leer in ons almal-is-‘n-wenner-samelewing waarin mense konstant eksterne belonings wil hê vir alles wat hulle doen. Ons het iewers die vermoë verloor om iets te doen bloot vir die lekker daarvan, vir die uitdaging, vir die bydrae tot iets groter, omdat dit doodeenvoudig gedoen moet word. En dan behoede jou siel om vreugde ook te ervaar as jy dit gedoen het sonder enige beloning of betaling.

Iewers langs die pad het ek ook besef hoe waardevol dit is om vir jong kinders die kans te gee om werklik iets te vind waarvoor hulle lief is en waarvoor hulle bereid is om te werk.

Wanneer die hormone van puberteit in skop maak dit so ‘n groot verskil as ‘n kind iets het waarvoor hulle steeds wil opstaan in die oggend. Iets wat hulle aandag kan weg vat van die groepsdruk en onsekerheid van leef in hul veranderende lyf.

Ek dink nie dit maak saak of dit sport of kultuur of bloot ‘n lekker stokperdjie is nie. Bloot dat dit iets is wat ‘n konstante in hul lewe is en waaruit hulle vreugde kan put in die onseker tyd in hul lewe. Natuurlik as dit kom by jong knape is dit ‘n bonus as dit ‘n fisiese aktiwiteit kan wees wat hulle kan help stoom af blaas.

Moenie wag tot die hormone inskop voor jy begin soek vir iets nie. Want teen daardie tyd raak dit moeilik om hulle te motiveer om enige iets nuuts te probeer. Daarby voel hul reeds onseker en meestal nie emosioneel reg om iets van onder aan te pak nie.