3

My jongste boekwurm

27 June 2022
Share

Die leesgogga het uiteindelik ook my jongste gebyt. Alhoewel sy al ‘n geruime tyd kan lees begin sy dit nou eers geniet.

Voorheen sou sy stukkies lees vir werk of stories se prente kyk en net hier en daar ‘n stukkie lees. Net voor paasnaweek het sy egter weg geval en haar eerste boek van voor tot agter deur gelees. Dit was Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo. Dit het aanvanklik stadig gegaan, maar met elke nuwe boek tel sy meer en meer spoed op.

Daarna het Lallie se Memwaars: Die Zeekoei en toe 5 van Sylvia Vanden Heede se boeke gevolg, en ‘n paar Speurder Kwaaikofski boeke. Tans lees sy Professor Fossilus en die dinosourusse. Dis lekker om te sien hoe sy elke nuwe boek geniet en nie afgeskrik word deur die lengte van ‘n boek nie. Sy geniet dit om ook soos ouboet en -sus saans voor slaaptyd kan lê en lees. Sy is natuurlik in die wolke om ook nou haar eie leeslys op die rekenaar te mag hê.

Wat vir my interessant is is dat my kinders wat later eers begin lees het vinniger lees begin geniet het. En ook vinniger langer stories begin lees het. Ek is oortuig dat dit nie saak maak op watter ouderdom kinders begin lees nie. Wat belangrik is is of hulle aanhou lees, dat hulle dit geniet om te lees.

Ons leef in ‘n tyd wat daar so baie klem is op kinders wat vroeg moet kan lees dat ons ‘n generasie skep wat lees haat of vermy. Hulle kan lees, maar is eintlik ongeletterd. Hulle lees bloot omdat hulle moet. Ons forseer hulle om te lees, terwyl lees nog vir hulle ‘n uitputtende uitstappie is. Die assosiasie wat hulle met lees maak is negatief.

Hulle lees uiteindelik handboeke en vraestelle, maar ontdek nooit die ongelooflike wêreld van literatuur daar buite nie. Dit beperk nie net hulle woordeskat en taalbegrip nie, maar beroof hul van die geleentheid om empatie te ontwikkel, om die wêreld deur ander se oë te ontdek.

As jy dus ‘n spruit het wat nie so vinnig uit die leesblokke gekom het nie. Ontspan. Daar is nog tyd! Gee hul kans om self die wonder van stories te ontdek deur vir hulle voor te lees tot die leesgogga hulle ook uiteindelik byt. Jou geduld sal beloon word.