0

Wat is jou droom vir jou kind?

13 June 2022
Share

Een van die vrae wat seker die meeste in tuisskool groepe opduik is; waar om te begin met tuisonderwys. Die ervare ma’s se antwoord is eenvoudig. Begin by die einde. Waar wil julle uitkom? Werk van daar af terug.

Die konsep kan net so handig op ouerskap toegepas word. Begin by die einde. Begin by die droom wat jy vir jou kind het? Watter tipe grootmens sal jy graag wil hê moet hulle eendag wees? Watter waardes en norme wil jy vaslê? Wat in jou oë sal eendag ‘n suksesvolle mens van hulle maak? Watter karaktereienskappe en gewoontes gaan van hulle iemand maak wat jy graag tyd saam mee wil deurbring?

As ons weet waarheen ons werk is dit net so makliker om daar uit te kom, Wel eintlik as jy nêrens heen werk nie kan jy 100% seker wees dat jy ook nêrens gaan uitkom nie.

Ek was self ‘n ma met klein kindertjies in die huis. Ek weet hoe maklik dit is om vasgevang te raak in die elke dag uitdagings. Daar is immers so baie wat elke dag gedoen moet word! Soveel dinge wat jou tyd en aandag opslurp.

Probleem is dat voor jy jou oë uitvee het jare verby gegaan en het kosbare geleenthede verby geglip. Om ‘n kind agtien jaar in jou huis te hê klink lank, maar glo my dit gaan vinniger verby as wat jy kan droom.

My oudste het nog net 3 1/2 jaar op “skool” oor. Dis moeilik om te probeer dink dat hy oor 3 1/2 jaar waarskynlik nie meer onder ons dak gaan woon nie. Hy gaan sy vlerke begin sprei en op sy eie voete moet staan.

So dikwels sien ek ouers wat die pylvak ingaan en begin besef daar is vaardighede en karaktereienskappe wat hulle kinders gaan nodig hê. Hulle begin dan ywerig daaraan werk. Ongelukkig kom dit op ‘n tyd wat hormone ook ingeskop het en kinders baie meer begin fokus op hul portuurgroep.

Die tyd wat jy as ouer gehad het om te werk aan daardie vaardighede en eienskappe is eintlik verby. Jy kan nou nog net die laaste skuur en skaaf werk doen. Jy moes die vorige 15 jaar die fondament reeds gelê het, reeds begin bou het aan die mure, steunpilare en ‘n dak opgesit het. Nou kan jy klein veranderinge aanbring. Dis soos om ‘n huis te restoureer. Jy kan oorverf, dalk ‘n deur uitbreek of toe bou, miskien nuwe venters of kaste. Jy kan nie die hele huis sloop en weer voor begin nie.

Tog het baie nooit besef dat hulle reeds op 2 en 3 moes begin bou het aan die droom nie. So as jou kinders nog klein is, begin vandag droom. Begin vandag dink wat jy wil bereik en dan begin jy klein en kyk hoe jy daarheen kan werk.

Ons bou een baksteen op ‘n slag. ‘n Klein stukkie werk tot ‘n groter droom. Elke baksteen is egter nodig om daardie droom waar te maak. En ja, soms gaan jy moet herdink en dalk weer ‘n klompie bakstene moet afbreek en ‘n stuk oor bou. Maar met liefde en deursettingsvermoë bou jy die toekoms van jou kind.

Droom groot en belangriker nog werk doelgerig na daardie droom. Al mag jy dalk soms effe van koers af raak kan jy altyd weer terug op koers kom, solank jy weet waarheen jy op pad is. Begin vandag. Dis nooit te laat om ‘n verskil te maak nie!