0

Klanke en Klanke

6 June 2022
Share

Terwyl jou kinders klein is glo jy die kakofonie van klanke gaan minder raak as hul eers ouer is. Die realiteit het ek besef is dat wanneer daar eers jongmense in die huis is gaan die ouditiewe oorlogvoering maar net voort.

Die klanke het willens waar verander, maar dit is steeds daar. Nou luister elkeen na sy eie musiek. Uit elke kamer kom ‘n ander liedjie. En as hul elders in die huis werk gaan die musiek bloot saam. Dit eindig ook nie met dit waarna hul luister nie, want met 3 jong musiekstudente in die huis is daar kort-kort een wat besig is om ‘n musiekstuk te oefen. Ek kan beslis verstaan hoekom dit so ‘n skok op die sisteem is as daar eers stilte neerdaal wanneer die kinders uit die huis is.

Een van my groot missies op die oomblik is om hulle te help om opbouende musiek keuses te maak. Ek glo dat dit wat ons sien, lees, hoor en ervaar alles ons hart beïnvloed. Die spreek woord lui nie verniet, wat die hart van vol is loop die mond van oor, nie. Of soos Matt 12:35 sê Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.” of Lukas 6:45b: “want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.”

Gelukkig het ek ‘n jonger sus wat met jeug werk en vir my ‘n reuse aanwins in die opsig is. Sy weet watter musiek beskikbaar is wat tans in die jong klomp se smaak val en tog nog positiewe waardes en gedrag bevorder. Dit is eintlik ongelooflik wat daar alles beskikbaar is. Ek lag net vir die versoeke wat na haar kant toe kom. Elkeen het hul eie voorkeure, selfs ons jongste wat die jaar eers 9 word. Natuurlik wil sy ook haar eie musiek hê as ouboet en -sus hulle s’n het.

Die klanke is natuurlik nie die enigste soort wat saam met die hormone inskop nie. Saam met dit kom daar immers ‘n hele spul reuke wat daar nooit voorheen was nie. Met ‘n 15 jarige wat 3+ ure ‘n dag oefen kan julle seker dink dat dit weer ‘n uitdaging op ‘n ander vlak bied.

Veral vir ons wat nie van onnatuurlike reukstowwe hou. Daarby is ek oortuig daarvan dat ons nie veronderstel is om goed aan ons wel te smeer wat ons nie ook sou kon eet nie (ja, ek weet alles smaak dalk nie aangenaam nie, maar as jou maag en derms nie van iets sou hou nie gaan jou vel waarskynlik ook nie. Ons vel absorbeer immers ook alles wat ons daaraan smeer).

Wat natuurlik nie gehelp het nie is dat ek raak gelees het dat mens nie veronderstel is om antiperspirant te gebruik terwyl die sweetkliere nog ontwikkel nie. So hoe gemaak met al die winkel produkte wat antiperspirant in het en nog ons almal se neuse irriteer ook?

Gelukkig het ‘n oulike buurvrou my aangeraai om koeksoda te probeer. En werklik, dit werk soos ‘n bom! Vryf bietjie koeksoda in die armholtes en weg is al die onaangename reuke. Ek het ook begin om vir hom essensiële olies te meng saam met amandel/klapperolie en dit in ‘n roller houer te sit. Ongelooflik baie essensiële olies is antibakterieel en ruik buitendien nog lekker ook. Hy hou besonder baie van meer sitrus reuke en daarby meng ek wierook, naeltjies, tea tree ens. Dit hang maar af wat ek op daardie stadium als in die huis het.

Die brousel smeer hy gewoonlik aan voor ‘n lang oefensessie net om dubbel seker te maak dat die reuke onder beheer bly. Natuurlik is daar natuurlik produkte op die mark ook beskikbaar, maar dit is beslis meer koste effektief om jou eie brousels te maak.