Met die seisoene wat verander, word ek weer daaraan herinner dat moederskap ook sy seisoene het. Wanneer ons in die middel van ‘n seisoen is, voel dit dikwels eindeloos. Dat die uitdagings wat ons in die gesig staar daar is om te bly.
Jare terug, in een van daardie besonder moeilike seisoene, het ‘n ouer vrou die wysheid gedeel dat ‘n mens eendag met goeie herinneringe op selfs hierdie uitdagende tye sal terugkyk. Die besef dat hierdie seisoen sal verbygaan, het my die hoop gegee om daardeur te kom.
Sedertdien het ek (meeste van die tyd in elk geval) geleer om die vreugdes, trane en uitdagings van elke seisoen aan te gryp. Of jy nou te midde van te min slaap is met ’n pasgebore baba of siek kind, van tienerhormone of rebellie wat jou in die gesig staar, vloermoere van kleuters, die chaos van voorskoolse kinders of bloot die eentonige dae: Onthou dat hierdie seisoen sal eindig. Jy sal ander kant uitkom!
Probeer om te geniet wat jy kan, want dit sal gouer verby wees as wat jy dink.