Die samelewing en sosiale media wys deesdae voortdurend uit hoe moederskap ’n struikelblok is. Hoe ons kinders in die pad van loopbaan vordering staan. Hoe vroue moet sorg vir hul kinders en huishouding, terwyl hulle werk. Hoe vermoeiend en skynbaar sonder beloning dit is. Dikwels word hierdie dinge as grappies of selfs plasings van aanmoediging gedoen.
Ons giggel daaroor aangesien ons ons met sommige van hierdie uitdagings kan vereenselwig. Wat ons nie besef nie, is hoe hierdie plasings/kommentaar/grappies moederskap as iets negatiefs skilder. As ‘n onregverdige uitdaging of selfs ‘n hekkie op die pad na ons sukses. Vir ‘n oomblik kan ons lag, maar naderhand skep dit ‘n gevoel van onregverdigheid, van gegriefdheid, van onvervuld wees. Dit laat ons na moederskap kyk as minder belangrik, as iets wat oorkom moet word of iets ongewens. Dit verkleineer ons rol as vroue en moeders.
Die werklikheid is egter ver hiervan! As moeders het ons die toekoms van ons land en samelewing in ons hande. Ons vorm ons kinders se perspektief en waardes. Ons skep die toekomstige generasie! Daar kan nie ‘n belangriker werk in die wêreld wees nie!!!
Dit het dalk nie op die oomblik geldwaarde nie, maar hoe ons ons kinders grootmaak, sal hul sukses in die toekoms bepaal. Ons kan die wêreld een kind op ‘n slag verander.
As ons kyk na die grootmaak van ons kinders deur hierdie lens, verander dit hoe ons na onsself kyk en wat ons doen. Ons word dankbaar vir die seën en eer wat dit is om ‘n ma genoem te word. Ons veg vir elke geleentheid wat ons het om ons kinders te vorm en in hul lewens in te spreek.
Ons moet elke dag en elke oomblik kies deur watter lens ons na onsself en ons rol as moeders wil kyk. Kies wys en bewustelik.
Ware en wyse woorde! Hierdie geringskatting veroorsaak soveel onnodige ongelukkigheid.