0

Tegniese tekeninge

12 April 2022
Share

Ons knaap se absoluut gunsteling vak hierdie jaar is Ingenieurs Grafika en Ontwerp (IGO) of tegniese tekening soos ek dit sommer noem.

Einde laas jaar toe ek met Kairos ons vak beplanning vir die jaar bespreek het het Annerine die vak vir hom voorgestel. (Ja, dis een van die bonusse as jy deur ‘n Akademie die Hoërskool diploma doen). Hy was maar effe skepties, want hy HAAT skryf.

Van die eerste oomblik af was hy egter versot op die vak. As hy elke dag daaraan kon werk sou hy dit met vreugde gedoen het. Daarby is ek stom geslaan hoe netjies hy die werk doen. Duidelik het die planne teken geen van sy een oupa deur geslaan. Ek moes waarskynlik self lankal gedink het dat hy so iets sou geniet. Veral omdat hy graag dikwels dit wat hy bou op papier beplan.

Die interessante is dat hy regtig nie netjies skryf nie. Vir jare is ek egter oortuig dat hy bloot so skryf omdat hy nie die belangrikheid van vinnige netjiese skrif kan insien nie. En hy veel eerder iets met sy hande (en verstand) wil gaan doen as om woorde op papier vas te pen.

Genadiglik het ek darem ‘n plan of 2 in my lewe al geteken (al was dit jare gelede!). So die mamma is darem nie heeltemal in die diep kant in gegooi nie. Daarby is Youtube ‘n wonderlike bron van inligting. As hy vas haak en ek ook nie weet hoe verder nie, gaan soek ons op Youtube en dan is daar altyd iemand wat dit in ‘n japtrap verduidelik.

Nou moet ek net nog vir hom ‘n tekenbord gaan koop, want om by ‘n lessenaar te teken is nie ideaal nie.