22 June 2025
Share

Die eerste raad wat ons gekry het, toe ons 13 jaar terug besluit het om nie die skool pad te stap nie, was om nie te veel te doen nie. Oor die jare het ons dieselfde boodskap oor en oor van veteraan tuisskolers gekry.

Die probleem is dat ouers, ongeag of hulle kinders in die skool is of tuisskool, inherent graag die beste vir hul kinders wil hê. Ons is altyd benoud dat ons nie genoeg doen nie. Nie genoeg geleenthede vir hul gee nie. Dat hulle op iets gaan uitmis. Nie genoeg goed, tyd, aktiwiteite, stimulasie en en en gaan kry nie.

Ons wil vir hul die beste gee. Vir hulle ‘n beter toekoms skep. Die gemors is dat ons in die proses dikwels dinge oordoen. Ons doen TE VEEL en berokken maklik eerder skade as wat ons goed doen.

Shirley (of was dit Wendy?) van Footprints vergelyk dit met ‘n tregter. Die stroom kennis en ervarings moet nooit meer wees as wat die smalste deel van die tregter kan hanteer nie. As jy meer ingooi was wat kan uitgaan, verstop die tregter en loop alles net bo-oor en word vermors.

Die realiteit is dat die wêreld ‘n wonderlik, opwindende plek is. Dat daar altyd meer is om te ontdek; ervaar; leer. Ons kan nie alles in een kind se kinderjare in pas nie! Is dit nie egter fantastiese dat ons die res van ons lewens oor het om nog te ontdek nie?!

As tuisskolers trap ons maklik in die te veel gat. Ons vergelyk ons kinders nie net met ander tuisskolers en wat hulle doen nie, maar ons is nog benoud ook dat ons kinders op iets sal uitmis wat die skoolkinders doen.

Eintlik behoort ons fokus te wees op ons eie kinders en ons eie gesin. Wat het ons gesin om mekaar te bied? Wat het ‘n individuele kind nodig?

En dan sien ons nog die verskil met wat ons met ons eie kinders doen ook! My oudste 2 kinders het ‘n heel ander ervaring gehad as my jongste. Hulle voorskooljare was rustig en hulle het hope tyd gehad om die wêreld rondom hul te ontdek. Sy moes dikwels saam gaan na wat hulle gedoen het soos die jare besiger geraak het.

Ek het dikwels skuldig gevoel oor dit. Sy het nie soveel vrye tyd gehad nie. Ek het minder kleuterboeke vir haar voor gelees. Ons het nie by soveel mors en bak en brou uitgekom nie. Sy het uitgemis op BAIE dinge!

Maar met die jare saam het ek besef dat sy ook op ander terreine gewen het. Sy het blootstelling aan ‘n groter woordeskat gehad deur te luister na wat ek vir die ouer kinders voorlees.

Sy het geluister hoe hulle tjello en viool oefen. EN gesien hoeveel toewyding daar in gaan om te vorder. Die gevolg was dat sy ‘n paar maande na haar 8ste verjaarsdag begin het met klavierlesse en binne 3 jaar haar graad 4 musiek eksamen met lof geslaag het. Deels was dit omdat sy meer blootstelling aan musiek gehad het, maar deels omdat sy geweet het hoe meer jy speel hoe beter speel jy. Sy het die voordeel van ouer sibbe gehad by wie sy ook lewenslesse kon leer. Sy het ‘n ander pad as hulle nodig gehad.

Dis wonderlik om ander tuisskolers te volg. Om te sien watter oorwinnings hulle behaal. Om saam met hulle dit te vier. Maar ons moenie in die versoeking kom om hul na te boots nie. Ons moet ons eie pad vind. Inspan wat ons tot ons beskikking het. En te vertrou dat die Here weet wat elke kind nodig het om voorbereid hul toekoms te gemoed te stap.

Jy as ouer is genoeg! Wat jul tot jul beskikking het is genoeg! Maak die beste van wat julle het. Jou kind kan hul volle potensiaal bereik!

Bêre die self twyfel en wees net die beste wat jy kan wees.