‘n Nuwe tuisskool ma het my ‘n ruk terug gevra watter ouderdom vir my die uitdagendste was om te tuisskool. Elke seisoen het natuurlik sy eie vreugdes en uitdagings. Ek dink nie daar is ‘n ouderdom wat mens daaraan kan koppel nie. Alles hang af van die omstandighede rondom jou. Jou ondersteunings netwerk, finansies, gesondheid en soveel meer beïnvloed hoe uitdagend ‘n spesifieke seisoen is.
As ek terug kyk op die 17 jaar wat ek al tuis is saam met my kinders is daar twee seisoene wat besonder uitdagend vir my was.
Die eerste was toe my kinders klein was, veral na my jongste gebore is. Sy het vir die eerste keer op 4 ‘n nag deur geslaap en vir tenminste die eerste jaar nooit langer as 45 minute geslaap nie. Sy was net gelukkig as sy regop gehou is (sy’t “silent reflux” gehad). Net om terug te dink aan daardie tyd maak my moeg. Daar is ‘n rede waarom gebrek aan slaap gebruik word as ‘n martelingstegniek!
Met min slaap raak selfs die eenvoudigste dinge uitdagend. Ek het ‘n vriendin wie se kind ‘n hartdefek het en sy het op een of ander wonderbaarlike manier gefunksioneer EN oorleef op 10 minute happies en brokkies slaap. Hoe sy dit gedoen het gaan my verstand te bowe, maar ma’s kan wonders verrig vir hulle kinders. Om egter met haar te praat het my gehelp om deur te druk.
Deel van daardie seisoen se uitdagings was dat my man 2 weke tuis en 2 weke weg gewerk het. Gesinne wat dit ken sal weet dat daar heelwat uitdagings saam met dit gaan. Roetines wat konstant skuif, jong kinders vir wie die tyd sonder een ouer soos ‘n ewigheid voel. uitdagings rondom dissipline en vele meer. Vir ons het dit altyd gevoel soos een bitterlike lang week wat pappa weg was. Omdat ons tuis was en elke dag basies soos die vorige was het dit bloot net nie gevoel asof daar ‘n naweek / breuk in roetine was as hy nie tuis was nie. Ek moes met allerhande kreatiewe idees vorendag kom om ‘n naweek gevoel te skep. En soos jul hier bo gesien het was ek gedaan van min slaap en nie altyd in staat om met kreatiewe planne vorendag te kom nie.
My ouers is van Namibië wat ook beteken het dat ek nie ‘n ondersteuningsnetwerk gehad het van ‘n ouma of oupa wat soms net die las minder gemaak het nie. Nie dat ek sonder hulle morele ondersteuning ooit deur die tyd sou kom nie. Dit was ‘n lewenslyn om skouers te kon hê om op af te pak, ‘n ma te hê wat self deur die uitdagings was en my kon moed in praat.
Natuurlik in die oomblik het daardie tyd soos ‘n leeftyd gevoel, maar nou voel dit soos ‘n oogwink waarin dit verby was. Ek was dankbaar dat ek in daardie tyd my kinders tuis gehad het. Dat ons ‘n rustiger pas kon volg en ek nie nog rond hoef te gejaag het om taxi te speel en by skool sperdatums moes hou nie.
Tussenin was ons geseën met soveel jare wat dinge in ‘n meer rustige roetine geval het. Manlief het nie meer weg gewerk nie. Slaap was nie meer net ‘n mite nie en die kinders het meer en meer onafhanklik dinge gedoen.
Die nuwe uitdaging het vir my gekom saam met die senior fase van hoërskool. Deel daarvan is dat ek deeltyds admin doen van die huis af, smiddae gimnastiek afrig en dan nog op die kant my aanlynwinkel aan die lewe probeer hou. Dit voel of daar nie ‘n dag is wat genoeg ure het nie. Tussen alles deur moet die normale huishouding, van kos maak en orde skep, hardloop.
Ek kan nie juis sê dat ek meer tyd spandeer om my kinders met hul akademie te help nie, maar die tyd wat ek wel daaraan moet spandeer vat meer uit my uit. Die werk waarmee die oudste 2 deesdae hulp nodig het is nie dinge wat ek sommer met toe oë kan doen nie. Ek moet diep gaan grawe om te help met Fisika, Chemie, Algebra, logaritmies funksies en vele ander dinge wat ek jare terug laas moes inspan. Ons praat nie eers oor die biologie nie (daarvan het ek in die eerste plek niks geweet nie, so as my meisiekind van DNA en mRNA en tRNA begin vra is ek verlore).
Die spring tussen die drie om hulle te help, laat my brein voel of dit op ‘n rondomtalie is wat nie wil stop nie. Een oomblik is ek besig om vir ‘n 10 jarige basiese wiskunde te verduidelik, die volgende ‘n tegniese tekening, om te spring na Algebra of ‘n vraag oor eerste taal Engels. Ja, daar’s woorde in hulle taal programme wat ek nie eers kan uitspreek nie, wat nog van om ‘n idee te hê wat dit beteken. Teen middagete tyd is my brein voos.
Vroue gaan soek dikwels vir uitdagings in die werkplek, maar ek sê vir julle dat ek intellektueel en fisies nooit so uitgedaag is in die jare wat ek gewerk het nie. Ek is seker dit is nie vir almal dieselfde nie. Ek weet daar is gesinne wat tutors en ekstra hulpmiddele inspan om die uitdagings te oorkom. Maar dis nie deel van ons pakkie nie. Tussen alles deur probeer ek nog materiaal skep vir hulle waar ek nie bronne vind wat aan ons behoeftes voldoen nie.
Dit alles put my uit. Ek moet erken daar is menigte oggend wat ek ‘n harde gesprek met myself moet hê om uit te bed op te staan. Wat my op die oomblik dryf is die wete dat tyd saam met my kinders (veral die oudstes) besig is om uit te loop. ‘n Jaar en ‘n half van nou af kom ons oudste se skooljare tot ‘n einde. Daarmee saam gaan ons ‘n nuwe fase binne waarin ons nie meer elke dag soveel tyd saam sal kan spandeer nie. Daar kom dus ‘n tyd (en dit is nie meer so ver soos dit mag voel nie) waarin ek hope tyd vir myself gaan hê. Waarskynlik te veel!
Dit is dus nou net vir oë toe knyp en deur druk en die beste maak van die tyd wat ons nog saam het.
As die webjoernaal of my winkel dus stil is die laaste tyd weet maar net dit is omdat ek dun gerek is. Ek moet kies watter balle om in die lug te hou en watter om vir eers neer te sit.
Watter seisoen jy dus ook al in is weet jy is nie alleen nie. Hou moed daar is maklike en moeilike seisoene, maar ons kom deur hul almal. Maak ‘n tydjie (al is dit een keer ‘n maand) om saam met ander tuisskoolma’s om ‘n koppie koffie te sit en net te hoor dat jy nie alleen is nie. Ek weet meeste van ons is introverte, vir wie dit nie altyd maklik is om uit te reik nie, maar ons het nodig om ons laste te deel en mekaar te ondersteun. Ons mag ook sukkel, moeg wees, mens wees, gebreke en tekortkominge hê. En steeds super ma’s wees!